top of page





1/1

Waarom HuisVolhart
Ons almal het huise. En ons maak almal ons huise vol met verskillende dinge. Maar daar is een ding wat jy in elke huis sal vind. Harte. Ons almal se huise is vol harte. En in ons huise groei harte, bloei harte, sing harte, huil harte, word nuwe harte gebore en verloor ons ook soms harte. Die belangrikste egter, is dat ons huise gevul moet word met vol harte. En ons kan baie meer effektief ons huismense se harte volmaak as ons dit doen vanuit die oorvloei van ons eie harte.
Ons het egter mekaar en die Here nodig om ons harte vol te maak sodat ons weer ons harte kan oopmaak vir ons huismense en ander mense.
Hiermee nooi ons jou in ons huise in sodat jy jou hart kan kom volmaak om weer in oorvloed jou huis se harte te kan volmaak. Hier gesels ons oor vrou-wees, ma-wees, kinders grootmaak, huis volmaak en harte volmaak. HuisVOLhart is 'n blog vol praktiese dinge en ervarings vir diegene wat graag hulle huise wil bou op vaste fondamente want ons glo: "As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou"- Psalm 127
Welkom in ons HuisVOLhart.

Hoe het hierdie blog begin?
Hallo. Ek is Karyna le Roux. Ek het een man en 5 kinders. Ek is 'n vrou, ma, sussie, vriendin en ook 'n Kinderkinetikus en 'n dominee se vrou. Ek hou daarvan om te skryf om my gedagtes en emosies uit te druk. Ek hou ook daarvan om te deel (nie my sjokolade nie, maar wel alles wat ek al geleer het). Ek wou al lankal sommer net alles wat ek al oor ma-wees, vrou-wees en Christen-wees geleer het met ander vrouens deel. Toe my ma in 2020 oorlede is, het ek 'n stukkie geskryf om so bietjie my hart te deel en my emosies en gedagtes te orden en toe sommer op die ingewing van die oomblik 'n blog begin. Ek het so baie terugvoer oor die stuk gekry dat ek besluit het om voort te gaan met die blog. Ek het ywerig begin maar, soos wat dit seker maar gaan met 'n ma van 5 wat tussenin nog 'n besigheid het, het die blog nie regtig gevorder nie.
In Mei 2022 het Innecke, 'n goeie vriendin, mede-mamma en mede-dominee vrou, een Donderdag na ons Bybelstudie gesê sy wil my graag kom sien. Doodbenoud het ek haar na my huis toe genooi vir koffie en heelpad gewonder wat ek verkeerd gesê of gedoen het.
Sy het gelukkig sommer met die deur in die huis geval. "Ons moet 'n blog begin." Het sy gesê. "Sodat ons alles wat ons by ons Bybelstudie en by mekaar leer met ander mammas en vrouens kan deel. Ons kan hierdie nie vir onsself hou nie". En dit was terwyl sy nie geweet het van my blog nie. Innecke se woorde was vir my 'n antwoord op gebed. Aangesien ek toe reeds 'n geruime tyd al gebid het dat die Here my sal help om my gawes te gebruik. En as dit moontlik is, deur middel van die (toe onsuksesvolle) blog.
So, hier is ons Blog. Ons wil graag vir ander vrouens leer wat die Here ons reeds geleer het. Oor vrou-wees, mamma-wees en Christen-wees. Ons hoop jy geniet die kykie in ons harte en huise.
Welkom by HuisVOLhart
Hulpbronne

Praktiese dinge oor huishou. Organisering, maaltye, boekrakke.
Waarmee maak ons ons huise vol? Huwelik, kinders, vriende.






Wat die hart van vol is... Uit 'n mamma se hart,
bottom of page