Innecke Dednam

2 min

10 vrae vir ‘n kleuter om meer uit te vind oor hul skooldag…

Updated: Feb 16, 2023

As ons in die kar klim na skool dan vra ek gewoonlik:" Hoe was jou dag my kind?"

En die antwoord...altyd net:" Okay of lekker"

En as ek dan vra:" wat het julle gedoen?"

Die antwoord: " niks of ek kan nie onthou nie"

Nou probeer ek maar 'n nuwe tegniek, want "niks of ek kan nie onthou nie " is nie voldoende vir hierdie nuuskierige mamma nie....

Wanneer 'n kleuter moet terug dink aan die hele skooldag, voel dit soms vir hulle baie lank. Om dan dadelik als te moet opnoem en weergee is vir hulle moeilik en oorweldigend.

Maar tog wil ons mamma's mos weet wat hul als gedoen het en wat gebeur het.

Ek het begin om verskillende meer direkte vrae te vra om bietjie meer inligting uit ons 5 jarige uit te trek... ek wissel die vrae af en vra nie alles op een dag of een slag nie...

Sodra jy dan bv iets vra oor haar kosblik en etenstyd dan dink sy net terug aan daardie spesifieke oomblik en gebeurtenis en dan begin die stories sommer vinnig vloei. Of as jy vra of juffrou dalk kwaai was, vertel sy vinnig of sy of iemand anders dalk bietjie raas gekry het en waaroor...☺️

Só hier is die 10 vrae wat ek vir my kinders vra nadat ek hul opgelaai het by die skool.

  1. Met watter maatjies het jy vandag die lekkerste gespeel?

  2. Het jul lekker buite gespeel?

  3. Wat het jul binne in die klas gespeel of gedoen?

  4. Het jul dalk 'n liedjie gesing vandag?

  5. Watter storie het juffrou vandag gelees?

  6. Was jy gelukkig of hartseer gewees vandag?

  7. Het mamma lekker kos ingepak in jou kosblik?

  8. Was juffrou kwaai of vriendelik gewees?

  9. Wat was jou gunsteling of lekkerste ding wat julle gedoen het vandag?

  10. Het jul iets gedoen waarvan jy nie so baie gehou het nie?

Partykeer werk dit ook as ek eers later die middag 'n paar van die vrae vra. Direk na skool is hulle moeg en oorgestimuleer, maar byvoorbeeld tydens badtyd gooi sommer só vragie in en hoor dan hoe was hul dag eintlik gewees...

Ons skoolhoof het een keer gesê: " Julle moenie als glo wat jul by die huis hoor nie en ons sal nie als glo wat ons by die skool hoor nie..." 😉

Deel bietjie met ons watter snaakse stories jou kleuter al mee huis toe gekom het?