top of page

WAAROM HUISVOLHART

logo alleen_edited.png

Ons almal het huise. En ons maak almal ons huise vol met verskillende dinge. Maar daar is een ding wat jy in elke huis sal vind. Harte. Ons almal se huise is vol harte. En in ons huise groei harte, bloei harte, sing harte, huil harte, word nuwe harte gebore en verloor ons ook soms harte. Die belangrikste egter, is dat ons huise gevul moet word met vol harte. En ons kan baie meer effektief ons huismense se harte volmaak as ons dit doen vanuit die oorvloei van ons eie harte.

Ons het egter mekaar en die Here nodig om ons harte vol te maak sodat ons weer ons harte kan oopmaak vir ons huismense en ander mense.
 
Hiermee nooi ons jou in ons huise in sodat jy jou hart kan kom volmaak om weer in oorvloed jou huis se harte te kan volmaak.  Hier gesels ons oor vrou-wees, ma-wees, kinders grootmaak, huis volmaak en harte volmaak. HuisVOLhart is 'n blog vol praktiese dinge en ervarings vir diegene wat graag hulle huise wil bou op vaste fondamente want ons glo: "As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou"- Psalm 127
 
Welkom in ons HuisVOLhart.

Die span

BLM_018_edited.png

Karyna le Roux

Karyna is die le Roux-huis se vrou en mamma.  Sy hou van kinders (daarom het sy 5), lees, oefen, skryf en speel. En sy sukkel om ons huis netjies te hou want sy sal eerder kuier en speel. Sy het altyd nuwe planne maar maak nie altyd haar ou planne klaar nie.  

Karyna het grootgeword op 'n plaas naby Potgietersrus en sukkel nog soms om aan te pas in die stad.  Sy studeer Menslike Bewegingskunde en Psigologie aan die NWU Potchefstroomkampus. Sy voltooi haar Honneurs en Meestersgraad in Kinderkinetika.

Sy het 10 jaar lank 'n Kinderkinetika-praktyk gehad maar is sedert 2021 vrou, ma, tuisteskepper en predikantsvrou.

Karyna is getroud met Pieter le Roux, predikant van die Gereformeerde Kerk Wonderboompoort in Pretoria. Hulle het 5 kinders, 1 dogtertjie en 4 seuns. Karyna hou van lees, skryf, oefen, goeie koffie en donker sjokolade.

Innecke_edited.png

Innecke Dednam

Innecke is die Dednam-huis se vrou en mamma en mamma-wees is haar alles. Sy het haar roeping gevind daarin en haar lewe draai om haar kinders.  

 

Sy is ook ‘n boekhouer wat tussendeur van die huis af werk. Sy is mal oor ‘n lysie en beplan-en-organiseer graag.  Sy hou veral daarvan om ons huis mooi te maak en dink graag vir pappa planne uit om te doen, waarvoor hy gewoonlik nie tyd het nie.  Sy hou ook van lees, sjokolade, toer, koekbak en tuinmaak.

 

Innecke is gebore en getoë in Rustenburg.  Sy studeer Bcom Finansiële Rekeningkunde en verwerf ook haar Honneursgraad daarin aan die NWU Potchefstroomkampus.  Na afloop van haar studies, gaan werk sy en haar man, Anton Dednam vir ‘n jaar in Suid-Korea as onderwysers. Terug op eie bodem trou hulle, Anton word predikant en hulle vestig hulself in Pretoria, waar eers 3 honde volg en toe later 3 kinders.


 

BLM_018_edited.jpg

Pieter le Roux

Pieter is die le Roux-gesin se pappa. Hy is 'n dominee en daarom werk hy net naweke en saans. In sy vrye tyd speel hy met die kinders. Hy maak preke, doen huisbesoeke en kan die heel lekkerste varsgebroude koffie in die wêreld maak. Hy het groen vingers en hou van tuinmaak, bome (veral broodbome), oefen, lees, plaas en braaivleis (veral as iemand anders die vleis braai. Maar hy hou die meeste van die le Roux's se mamma. 

Pieter is gebore en getoë in die Vrystaat. Hy het aan die Teologiese Skool op Potchefstroom studeer waar hy 'n graad en ook 'n vrou gekry het. Pieter het 'n Meestersgraad in teologie. En hy maak ook die lekkerste varsgebroude moerkoffie.

Anton.jpeg

Anton Dednam

Anton is die Dednam’s se pappa.  Hy is ‘n dominee en hou daarvan om te preek, veral vir ons by die huis… Volgens ons bekkige 4 jarige kuier pappa net elke dag by mense en hou baie vergaderings.  

 

Hy hou van sport, maar nie van oefen nie. Hy hou ook van koffie, houtwerk en braai.  Anton is die beste klimraam-bouer in Pretoria en kan enige iets regmaak by die huis.  Hy is die hoof van ons huis en ons finansies en soek altyd ‘n manier om ‘n Rand te spaar. Hy is liefdevol en luister graag!  

Anton het grootgeword in Brits en het Teologie studeer aan die NWU, Potchefstroomkampus.

Ellie_edited_edited.png

Ellie Buys

Ellie Sy is eerstens haar man, André, se vrou en tweede mamma van hulle drie seuns (wat ‘n bad kan
breek as hulle rof speel tydens badtyd!) en (amper) ‘n dogtertjie as die Here wil. Sy en haar man is
gebore in Pretoria en woon nogsteeds daar. Sy hou van lees, kreatiewe projekte, kwaliteit sjokolade,
geskenke koop en vakansies!
Sy het haar studies in 2008 by Aros in die Grondslagfase Onderwys voltooi. Sy het dit geniet om vir ‘n
paar jaar in dié fase skool te gee en te sien hoe kinders soos sponse leer. Van die geboorte van hul
oudste kind, is sy ‘n huisvrou wat haar man ondersteun in sy werk en by die huis en ook poog om
hulle kinders grootmaak in die vrese van die Here.


Van hande gevou en wonder wat om te doen (want ‘n huisvrou het mos niks om te doen nie), is daar
egter nie sprake nie. Sy hou haarself besig met sustersake van die kerk, skooldinge rondom die
kinders, kreatiewe projekte, funksiereëlings en net lekker kuier saam met vriendinne!

HOE HET DIT ALLES BEGIN

Hallo. Ek is Karyna le Roux. Ek het een man en 5 kinders. Ek is 'n vrou, ma, sussie, vriendin en ook 'n Kinderkinetikus en 'n dominee se vrou. Ek hou daarvan om te skryf om my gedagtes en emosies uit te druk. Ek hou ook daarvan om te deel (nie my sjokolade nie, maar wel alles wat ek al geleer het). Ek wou al lankal sommer net alles wat ek al oor ma-wees, vrou-wees en Christen-wees geleer het met ander vrouens deel. Toe my ma in 2020 oorlede is, het ek 'n stukkie geskryf om so bietjie my hart te deel en my emosies en gedagtes te orden en toe sommer op die ingewing van die oomblik 'n blog begin. Ek het so baie terugvoer oor die stuk gekry dat ek besluit het om voort te gaan met die blog. Ek het ywerig begin maar, soos wat dit seker maar gaan met 'n ma van 5 wat tussenin nog 'n besigheid het, het die blog nie regtig gevorder nie. 

 

In Mei 2022 het Innecke, 'n goeie vriendin, mede-mamma en mede-dominee vrou, een Donderdag na ons Bybelstudie gesê sy wil my graag kom sien. Doodbenoud het ek haar na my huis toe genooi vir koffie en heelpad gewonder wat ek verkeerd gesê of gedoen het.

 

Sy het gelukkig sommer met die deur in die huis geval. "Ons moet 'n blog begin." Het sy gesê. "Sodat ons alles wat ons by ons Bybelstudie en by mekaar leer met ander mammas en vrouens kan deel. Ons kan hierdie nie vir onsself hou nie". En dit was terwyl sy nie geweet het van my blog nie. Innecke se woorde was vir my 'n antwoord op gebed. Aangesien ek toe reeds 'n geruime tyd al gebid het dat die Here my sal help om my gawes te gebruik. En as dit moontlik is, deur middel van die (toe onsuksesvolle) blog. 

So, hier is ons Blog. Ons wil graag vir ander vrouens leer wat die Here ons reeds geleer het. Oor vrou-wees, mamma-wees en Christen-wees. Ons hoop jy geniet die kykie in ons harte en huise.

Welkom by HuisVOLhart

  • Instagram
  • Pinterest
  • Facebook
bottom of page