top of page

14 Redes waarom ek vir my kinders voorlees

'n Storie 'n dag want al die ander goed kan maar wag...

Ek weet nie wie hou die meeste daarvan as ons stories voorlees nie - ek of my kinders! Of miskien pappa, wie ek soms vang saamluister as ons lees?


Ons probeer om elke dag ten minste een storie saam te lees. Maar as ons by meer as een kan uitkom, soveel beter. Ons lees soms langer boeke waar ons 'n hoofstuk per dag lees (of meer as ons meer tyd het). Ons lees soms elke dag 'n nuwe storie (of twee of drie) of selfs omnibusse met dieselfde tipe stories maar elke dag 'n ander storie.


Neem ook in ag dat my kinders tussen 2 en 9jaar oud is. So, ons wissel maar die moeilikheidsgraad van die stories af. Maar jy sal verbaas wees om te sien hoe baie die kleintjies inneem as mens 'n bietjie moeiliker boek lees.



Hier volg my redes waarom ek vir my kinders stories voorlees (al kan van hulle reeds self lees):

  1. Ons bou gesinsbande. Om stories saam te lees is 'n heerlike gesinsaktiwiteit en goeie besteding van mens se tyd. Wanneer ons voorlees, sit ons almal saam op die bank. Sommiges sit op die armleuning, ander op my skoot (gewoonlik 'n gestry oor wie daar mag sit), party sit sommer agter op die bank se rugleuning maar elkeen skrop vir hom sy plekkie. En dan voel ek soos 'n moederhen met al my kuikentjies onder my vlerk. Veilig, snoesig en gelukkig. En so kan ek baie effektief meer tyd saam met my kinders bestee.

  2. Voorlees verbreed kinders se woordeskat. My kinders verbaas by soms met hulle woordeskat en veral wanneer hulle dit korrek gebruik in 'n sin of situasie. Ek wil glo dat dit van al die stories is. Ek probeer ook om moeilike konsepte en woorde te verduidelik wanneer ons lees. Die kinders vra wat woorde beteken as ons lees en hulle verstaan nie 'n woord nie. Maar net die feit dat hulle sekere woorde oor en oor hoor terwyl ons lees, gee hulle 'n baie goeie "gevoel" van wat 'n woord beteken binne 'n spesifieke konteks. Ons hou ook daarvan om stories te lees wat lank voor ons tyd geskryf is. Hierdie stories bevat gewoonlik 'n ryk skatkis vol taalskatte wat mens nie altyd in vandag se boeke teëkom nie.

  3. Voorlees kweek 'n liefde vir lees. Stories is aansteeklik. Hoe meer ons lees, hoe meer wil ons lees. En ek vind dat, wanneer die kinders self moet begin lees, hulle graag 'n boek optel en lees. Omdat hulle gewoond is aan stories, aan die samestelling van sinne en die "klank" en "ritme" van stories, kom dit vir hulle baie makliker om self te lees. Hulle leer ook om self prentjies in hulle koppe te maak van dit wat hulle hoor en voor hulle sien (anders as die TV wat namens hulle die prentjies maak en min vir die verbeelding oorlaat).

  4. Ek kan self ook die stories hoor as ek voorlees. Ek het al baie stories van my kinderjare herleef deur dit vir my kinders voor te lees. En deur voorlees hoor ek ook baie nuwe stories. Ek is mal oor stories en wanneer ek vir my kinders voorlees, is dit 'n lekker verskoning om sommer self ook die storie te hoor en te geniet.

  5. Voorlees kweek 'n omgewing vir gesprek. Ons het al baie gesprekke rondom 'n storieboek gehad. As ons lees van 'n spesifieke insident, woord of kwessie in 'n boek sal ons altyd nog 'n hele ruk lank daaroor praat. Vanuit ons stories het al baie internet (of boek) soektogte begin om meer uit te vind oor ons karakters of die diere of omgewing waarvan ons lees in ons stories. Voorlees van stories ontlok ook gesprekke oor die optrede van ons karakters - wat kon hulle anders gedoen het, is dit mooi om so met iemand te praat ens.

  6. Voorlees maak kinders (en ma's) rustig en kalm. As ek gaan sit om te lees, raak dit kalm in ons huis. Ek het het al baiemaal, wanneer dit voel asof daar 'n oorlog in ons huis is en almal oor hul draad is, net geroep: "Storie in die sitkamer". Dit is die gouste wat mens 'n hele huis rustig kry. Almal is tjoepstil en spits hulle ore en daar daal 'n rustigheid neer (ek moet erken, soms is dit 'n gestry oor watter boek ons moet lees... maar dan vat ek net een van my keuse en begin lees. Hulle is dan vinnig tjoepstil omdat hulle bang is hulle mis iets).

  7. Voorlees is 'n baie goeie besteding van jou tyd. Behalwe 'n fisieke uitstappie soos Parkrun, of bergklim en fietsry of oefen, is lees een van die beste dinge om saam met jou kinders te doen. Jy sal nooit jou tyd mors deur te lees nie. En dit hoef nie net stories te wees nie. Sodra hulle in die voorlees gewoonte is, kan mens enige iets saam begin lees. Gedigte, letterkundige werke, kortverhale, artikels oor spesifieke onderderwerpe en feiteboeke.

  8. Saam lees gee kinders 'n gevoel van behoort en vorm hulle identiteit. Ons lees in Maroelaboomstories van die een bobbejaan wat vir die ander een sê: "Wat de dorings gaan hier aan?". Nou vra almal in die huis: "Wat te dorings is hierdie?" of "Wat te dorings doen jy?". Dit is 'n interne grappie wat net ons gesin verstaan en dit bind ons aan mekaar. Ons maak ook gereeld grappies wat verband hou met die boeke wat ons lees. En dit skep 'n wonderlike gevoel van samehorigheid en identiteit onder die kinders. Nou die dag sê ons kinders: "Ons le Roux's hou van dinge wat begin met 'n L, soos Lees". Dit help vorm aan hulle identiteit en wie hulle is. Deur middel van die stories wat ons lees het ons baie "ervarings" wat ons deel en dit laat ons almal voel ons behoort hier, in hierdie gesin.

  9. Luister na stories oefen ouditiewe vaardighede. Wanneer kinders luister na stories word hulle ouditiewe vaardighede geoefen. Dit dra daartoe by dat hulle effektief en met begrip kan luister in die klas, dit wat hulle hoor kan verwerk en dit dan weer later te kan weergee. Jy is dus besig om jou kind voor te berei om sonder veel moeite te leer. Kinders leer ook om stil te sit en te luister met aandag vir verlengde tydperke wanneer daar vir hulle voorgelees word. Praat maar met enige juffrou - luister met begrip is een van die dinge waarmee vandag se kinders die meeste sukkel op skool.

  10. Voorlees kweek roetine. As jy elke dag 'n afspraak het vir voorlees (dit hoef nie elke dag op dieselfde tyd te wees nie), leer jy jou kinders op 'n baie maklike en lekker manier van roetine. Ons kinders sê al: "Ons het nog nie vandag gelees nie". Om by 'n roetine te kan hou, is 'n vaardigheid waaroor jou kind nooit spyt sal wees nie.

  11. Stories-voorlees help ook om kinders te laat stilsit vir Bybellees. Omdat ons kinders in 'n roetine is van stilsit en luister as daar gelees word, kan hulle die vaardigheid ook maklik oordra wanneer ons huisgodsdiens hou. Ons lees met huisgodsdiens redelike lang stukke voor uit die Bybel (nie die kinderbybel nie). En ons kinders kan al baie mooi luister en weergee wat hulle gehoor het. Soms moet mens 'n versie weer lees. Veral as jy sien hulle aandag dwaal bietjie. Maar van die oudste tot die jongste sit en luister. En omdat hulle kan stilsit en met begrip kan luister, is dit nie vir hulle 'n straf om te sit en luister nie. Hulle vra omtrent elke keer as ons klaar gelees het, dat ons net nog so 'n stukkie moet lees.

  12. Stories stimuleer kinders se verbeelding. Ek sien gereeld dat my kinders se speletjies elemente bevat van die stories waarmee ons besig is in ons voorlesings. Omdat hulle die stories net ouditief beleef, kan hulle verbeelding self die karakters visueel voorstel. Ek het al gevra dat elkeen beskryf hoe die karakters van wie ons lees, in die "regte lewe" lyk. Dit is baie kosbaar om te hoor hoe elke kind se verbeelding anders elke karakter voorstel.

  13. Met stories gaan ons op reis, al bly ons by die huis. Ons hou baie van lewendige boeke (living books). Dit is boeke wat afspeel in 'n spesifieke era of op 'n spesifieke plek of oor 'n spesifieke ding. Stories oor dinge wat regtig is. Ons kinders het Speurhond Willem en Die Stoutsterte onder andere baie geniet. En Klaasneus-hulle en FA Venter se Gelofteland. Daar is so baie om op te noem! Wanneer jy so boek klaar gelees het, voel dit sommer vir jou of jy by was toe Jan van Riebeeck in Tafelbaai aangeland het.

  14. Stories maak die langpad korter. Ons lees graag stories as ons iewers heen ry. Ons probeer iets lees wat verband hou met die plek waarheen ons gaan. Ons hou ook van boeke wat bietjie meer vertel van elke dorp waardeur mens ry. Dan leer ons sommer van die geskiedenis en aardrykskunde ook.



Ek het aanvanklik begin met 10 redes waarom ek vir my kinders voorlees. Die lysie het gegroei na 14 en ek moes stop, anders het ons dalk al by 20 getrek. Voorlees is voorwaar 'n heerlike aktiwiteit. Ek kan dit aanbeveel vir elke gesin. Sit dit sommer hoog op jou prioriteitslys. Begin vandag nog vir jou kinders voorlees. Jy sal nie spyt wees nie!


En kyk uit vir ons volgende plasings oor lees.




lewer kommetar
bottom of page