top of page

20 Goedkoop tuisbly-doendinge met kinders die vakansie

As daar nou een ding is waarna almal uitsien, is dit die Desember vakansie! Diesel is egter nou so duur dat ek selfs versigtig is om met Jan Tuisbly se karretjie te ry.


Weggaan vir vakansie het deesdae regtig 'n luuksheid geword en al meer mense bly eerder tuis vir die vakansie. Maar dit beteken nie dat jy nie steeds 'n wonderlike vakansie vol pret en kuier kan hê nie.


Hier is so paar planne om goedkoop vakansie te hou en steeds hope pret te hê. Jy gaan boonop met vriende kan kuier en dalk 'n paar dinge leer in die proses. En al gaan jy weg vir die vakansie, kan jy steeds baie van hierdie dinge doen met vakansie!


Kuier met vriende

Vind uit wie van julle vriende bly ook tuis die vakansie. Reël om by mekaar te braai of sommer net saam piekniek te hou. Julle kan 'n vasvra-aand hou of bordspeletjies speel. En as jou vriende almal weggaan, is dit dalk 'n goeie tyd om met die bure of mense in jou kerk te kuier!

Hou 'n Safari-ete

Reël met 2 of 3 ander gesinne 'n Safari-ete. Elke gesin kry 'n beurt om 'n maaltyd te maak. Gesin A maak bv. die voorgereg, gesin B maak die hoofgereg en gesin C maak die nagereg. Almal ry (of stap) dan na gesin A se huis vir die voorgereg, dan beweeg julle na die volgende huis vir hoofgereg en geniet die nagereg by die laaste huis. Elke gesin kan ook 'n aktiwiteit uitwerk waaraan almal moet deelneem.

Hou 'n tema-ete

Kies 'n tema of 'n land en elke gesin maak 'n gereg van daardie land/tema. Een gesin maak voorgereg, een gesin maak hoofgereg en een gesin maak die nagereg en mens kan selfs dat een gesin die drinkgoed verskaf of tradisionele speletjies van daardie land aanbied. Kies iemand se huis en hou die ete daar. So leer mens bietjie meer van 'n ander land, dit is groot pret en die kostes is verdeel. Julle kan selfs dat elke gesin 'n paar vrae uitwerk oor die spesifieke land of tema en dan hou julle 'n vasvra en gee pryse vir die wenners. Julle kan selfs aantrek soos daardie land.

Bordspeletjie-aand

Speel 'n hele aand lank net bordspeletjies. Julle kan dit as gesin doen of mense oornooi wat elkeen hulle gunsteling bordspeletjie en iets te ete moet saambring.

Boeresport

Daag jou buurman uit vir boeresport. Of jou ouma. Of jou vriende. Of jou kinders. Hou 'n hele middag net boeresport. Doen dit saam met vriende waar elke gesin 'n speletjie moet uitwerk of doen dit as gesin waar elke lid van die gesin 'n kans het om 'n speletjie aan te bied. Dink aan eiergooi, sakresies, driebeenresies, hindernisbaan.

Gaan stap

Soek jou naaste park, berg of staproete en gaan stap met die kinders. Onthou die piekniek-goed en water. Hier in Pretoria kan mens by die Wonderboom natuur reservaat gaan stap, of agter Hoërskool Wonderboom die Magaliesberg gaan klim (Gratis). Groenkloof natuur reservaat en Faerie Glen natuur reservaat is ook 'n opsie vir stap.

Minimaliseer jou huis

Dalk is dit tyd om die bul by die horings te pak en van alles ontstlae te raak in jou huis wat jy die afgelope jaar (of 20jaar....) nie gebruik het nie. Jy kan vir eens en vir altyd jou huis so minimaliseer en inrig hierdie Desember dat jy vir die res van die jaar met jou voete in die lug kan sit. Of dalk net tyd kan hê om tyd saam met jou geliefdes te spandeer. As jy motivering nodig het, lees hierdie plasing . Of gaan loer na die volgende mense se videos op youtube; The Minimal Mom; Joshua Becker

Wees aktief en doen die Parkrun

Gaan doen die Parkrun op Saterdae saam met jou kinders. Goed, met kinders is dit eerder 'n "park walk" as 'n "park run". Maar jy sal verbaas wees hoe gou jy en hulle fiks word as julle dit gereeld doen. Dit is een van ons gesin se gunsteling uitstappies met ons kinders. Die oudste 3 kinders (9,8 en 6jaar) hardloop al die hele 5km self. Pappa stoot die ander 2 in die stootwaentjie (en soms moet hulle bietjie self stap). Aan die begin het ons regtig almal net gestap. Dit is ook 'n lekker uitstappie om saam met vriende te doen. En dit is heeltemal gratis! Registreer net vooraf op hulle webwerf om jou kaartjie te kry. Hulle stuur dan sommer vir jou die uitslae van die dag ook aan.

Besoek ons land se monumente

Ons kinders is gek oor 'n uitstappie na die Voortrekkermonument. Mens kan deur die monument stap, meer leer oor ons geskiedenis, gaan stap in die pragtige tuine, piekniek hou of selfs ietsie gaan eet by die restaurant. As jy in die museum wil ingaan, gaan dit jou R150 per volwassene en R50 per kind kos. Maar daar is areas soos die liedjietuin, voortrekkerroete ens. wat gratis is. Maak net seker van die tariewe op hulle webwerf. Aanlyn besprekings kry 10% korting. Jy kan ook hier loer na ander monumente in ons land wat jy kan besoek.

Ontdek die wetenskaplike in jou

Die Sci-Bono wetenskapsentrum in Johannersburg verskaf hope pret en leersame ervarings vir kinders bo 3jaar. Volwassenes betaal R60 en kinders tussen 3 en 18 jaar is R40. Onder 3 jaar gaan gratis in. Hulle het 'n gesinstarief (2volw en 2 kinders) vir R180.

Ondervra jou gesinslede

Stel 'n vraelys op vir die kinders en hulle moet die gesinslede ondervra. As oupa of ouma naby bly, kan hulle ook ondervra word of selfs die oom en tannie wat langsaan bly. Help hulle dan om die ondervraging te dokumenteer hetsy skriftelik of maak 'n oulike boeke op Canva wat julle kan uitdruk en bêre vir 'n Desember-aandenking. Neem ook sommer 'n foto van die ondervraagde. Lees hier watter oulike vragies kan jy vir oupa en ouma vra. En dink aan vragies soos:

  • Waar is jy gebore?

  • Wat was jou bynaam op skool?

  • Wat is jou gunsteling sjokolade, vakansie, nagereg, sport, klere ens?

  • Wie sal jy graag wil nooi vir ete?

  • Wat sal jy saamvat maan toe?

Doen 'n fotosessie saam met jou vriende

Maak 'n afspraak met nog 'n gesin en kry mekaar in die parkie. Elke gesin kry dan 'n beurt om die ander gesin af te neem. Sodoende het jy 'n gratis fotosessie. Sorg egter dat jy vooraf bietjie oplees oor fotografie as jy niks weet nie. En kry idees van tipe fotos wat mens kan neem. As jy slim is, soek jy vir jou vriende met 'n goeie kamera en kennis van fotografie... Grappie... Eintlik neem mens met deesdae se selfone lieflike fotos as jy 'n paar van die instellings ken.

Bak koekies

Laat jou kinders saam met jou koekies bak, verpak dit mooi en gaan kuier vir mense in jou kerk of omgewing. Gee dan vir hulle die koekies as geskenk.

Verf volgens nommers

Kies julle gunsteling foto, laai hom op PBNify en genereer 'n verf-volgens-nommer prentjie. Hoe minder detail die prentjie het, hoe beter vir die kleiner outjies.


Skattejag

Watter kind hou nie van skattejag nie? Maak vooraf vir hulle prentjies (of woorde vir die ouer kinder) van dinge wat hulle in die tuin moet soek. Elke kind kry dan sy bladsy met soek-goeters op. Hulle moet dit dan inkleur of dood trek of afmerk as hulle dit kry. Dink aan goed soos verskillende blomme, insekte, voëls, slakke, klippies, gras ens.

Identifiseer die voëls in julle tuin

Maak dit hierdie Desember julle missie om die voëls in julle erf beter te leer ken. Probeer om die voëls te identifiseer op hoe hulle lyk maar oor die geluide wat hulle maak. Jy sal verbaas wees hoe gou jou kinders (en jy) die voëls leer ken. Sasol se voëls toepassing is baie handig. Hy kos

Lees stories

Lees vir 'n hele dag lank al julle gunsteling stories. Laat elke gesinslid 'n aantal stories kies wat julle moet lees en vooraf die lys indien. Na die tyd kan julle vragies vra oor die stories om te sien wie het almal mooi geluister. Probeer ook sommer om op verskillende plekke in die huis of tuin te lees. Lees gerus die plasing oor voorlees vir kinders. Of hierdie een oor hoe om jou kind te motiveer om te lees.


Skryf 'n storie

Skryf as gesin saam 'n storie. Begin eers met die buitelyne van die storie. Doen beplanning. Laat elke lid van die gesin sy idees gee, skryf dit neer of teken prentjies. Begin dan skryf. Laat die kinders oulike prentjies teken en maak 'n boek op Canva. Dalk word julle boek nog 'n topverkoper.


Hou 'n Minute to Win it-aand

As jy op Youtube "minute to win it" intik, sal jy op 'n verskeidenheid speletjies afkom wat mens gewoonlik met min apparaat en min moeite kan doen. Soek 'n paar speletjies, kry alles vooraf reg en hou 'n hele aand van speletjies. Julle gesin kan selfs ander gesinne uitdaag. Hierdie is altyd lekker omdat mens in redelik al die speletjies ook die kinders kan betrek. Hou die kompetisie in spanne teen mekaar of teen teen.


Hou julle eie Olimpiese Spele

Kompetisies sorg altyd vir lekker sport(s). Hou julle eie agterplaas-Olimpiese Spele. Julle kan verspring (trek 'n lyn en kyk wie kan die verste spring van die lyn af); hou gewigstoot met 'n bolletjie kouse; hardloop resies agteruit; hou perdry-resies (kind op pappa se rug); hou aflos om die huis met 'n plastiese glasie vol water as die aflosstokkie; speel 'n sokkerwedstryd teen mekaar.


Maak geskenkies

Maak sommer hierdie vakansie geskenkies wat julle in die kas kan hou vir almal wat volgende jaar verjaar. Tuisgemaakte speelgoed vir die kinders, badsout en "bath bombs" vir die tannies en braaisout vir die ooms. Of maak geskenksakkies uit bruin papier sodat julle nie weer geskenkpapier of geskenksakkies hoef te koop nie. Koop verskillende groottes bruin papiersakke en versier dit met stempels, stensils of verf. Koepons werk ook lekker vir geskenke. Vir ouma: 'n "Koffie saam met ouma"- koepon. Of vir oupa: 'n "Braai saam met oupa"-koepon. Vir mamma: 'n "3 keer se koffie-maal" of "skottelgoedwasser uitpak"-koepon.


Ek hoop julle geniet die saamdoen-aktiwiteite hierdie vakansie sommer baie!!


Wie weet, miskien is jou tuisbly-vakansie dalk nog die lekkerste vakansie ooit!!

lewer kommetar
bottom of page