top of page

Wat Covid my geleer het

Ek hou nie daarvan om COVID die skuld te gee vir alles wat verkeerd geloop het in 2020 nie... Maar ons kan nie ontken dat dit ons lewens in 'n groot mate kom verander het nie. Vir sommiges is die verandering meer permanent as vir ander. Sommige verandering was meer positief as ander.


Ons het gewen en verloor. Baie mense het hulle werk verloor. Ander het geliefdes verloor. Omtrent almal van ons het kosbare tyd saam met ons mense verloor omdat ons nie by mekaar kon uitkom nie.


Kinders het skoolwerk verloor.

Mammas het (net soms) by die huis so bietjie kop verloor.

Sommiges het perspektief verloor. Heelparty mense het vertroue in ons regering verloor en min van ons het gewig verloor.


Ten spyte van die verloor, het ons darem ook gewen. Ons het tyd by die huis gewen. Ons het reuse internet rekeninge gewen. Daar is baie "lockdown-babas" gewen. Ouers het skoolwerk gewen en onderwysers bewondering. Ons het Checkers aanlyn-bestel-en-aflewer gewen. Maar ongelukkig kan ek die wasgoedhoop steeds nie wen nie...


Die jaar 2020 het ook verander hoe ons oor sekere dinge dink en ons uitgedaag om te dink. Ons het opinies leer vorm oor goed soos maskers, "saniteer" , aanlyn-kerk, die regering se rol in ons lewens, skoolure en ook hoe ander mense hulle maskers verkeerd dra.


Ten spyte van die moeilik en swaar in 2020 is daar tog 'n paar positiewe dinge. Dinge wat ek ervaar het en geleer het. En ek glo vas dat hierdie dinge my voorberei het op die onsekere toekoms wat wag.


Ons het aan die begin van 2020 al ons plannetjies uitgewerk asof die toekoms van ons afhang. By nabaat besef ons dat 2020 meer onseker was as wat ons ooit gedink het.


Ek kon meer tyd saam met my gesin, in ons huis spandeer. Ek kon leer om op God te vertrou en nie op my eie beplanning, vermoëns en insigte nie. Ons kinders kon meer speel. Ek het geleer om alles wat ek het, insluitend gesondheid, te waardeer.


Ek het geleer om 'n graad 1'tjie te leer lees. Ek het geleer om niks en niemand as vanselfsprekend te aanvaar nie. Ek het geleer dat die Here altyd naby is, al voel dit nie so nie. Ek het ook geleer dat gemeenskap belangrik is en dat ons nie sonder mekaar kan lewe nie.


Ek hoop dat 2021 nog 'n jaar, nog 'n geleentheid sal wees om te leer en te vertrou. Karyna

lewer kommetar
bottom of page