top of page

5 lente aktiwiteite vir die kort vakansie

Dit is lente en vir kleuters is dit die lekkerste om buite te wees. Hier is 5 maklike selfdoen aktiwiteite om hierdie kort lente vakansie sommer ekstra lekker te maak:


1. Plant 'n plantjie saam.

Ek het 'n roosmaryn en 'n aarbei plantjie gekoop. Die kinders moes self die grond natmaak en bietjie kompos inmeng, hulle het die gat gegrawe en die plantjies geplant. Ons het ook eers gepraat oor waar die plantjies geplant moet word, in die son of in die koelte en hoekom. Elke dag is dit ook hulle werk om die plantjies te gaan natmaak. My kinders is mal oor aarbeie en was baie opgewonde toe hul die eerste aarbei kon pluk, was en eet!!! Ek gebruik ook die roosmaryn as ek kos maak, so dis 'n bonus om in die tuin te hê!!



2. Blomme kleur eksperiment


Sit bakkies met water in en gooi 'n paar druppels verskillende kleure kleursel in elke bakkie. Pluk wit blomme en sit een in elke bakkie. Kyk hoe die blomme se kleur verander.




3. Maak blomme/blare/gras sop


Kry 'n lekker groot skottel en gooi bietjie water in. Laat die kinders blomme of gras of blare optel. Gee vir elkeen 'n kinder skêr en laat hul die blomme, blare of gras op sny en in die bak water gooi (Ek het 'n druppel voedselkleursel bygegooi).


Gee vir elkeen 'n lepel sodat hul kan skep en roer en speel met hul blomme sop... (idee gekry by Moot Kinderkinetika)



4. Tuin Skattejag


Maak 'n lysie vir goed wat hul in die tuin kan soek. Hier is 'n paar voorbeelde van skattejag lysies. (Omdat my kinders nog klein is en nog nie kan lees nie, sit ek op 'n kombers op die gras en sê ek sommer vir hulle: "Gaan soek iets pers in die tuin of soek iets wat hard is en iets wat sag is ensovoorts.)


  • Soek iets volgens kleure.

  • Soek iets volgens vorms.

  • Soek die volgende goed, blare, blomme, klippe, stokke ens. in die tuin.

  • Om dit bietjie moeiliker te maak, soek iets groot en iets klein, hard en sag, swaar en lig...

  • Speel ek sien met my kleine kleine ogie...

Hier is ons skattejag vondse...gevind deur my 2-jarige!


5. Hopscotch


Gee vir die kinders bordkryt en laat hulle self vir hul 'n hopscotch baan teken in die oprit. Hul kan die hopscotch gewoonweg doen, of agteruit, of met toe oë, of op hul hakke of net op hul tone... loop of spring!




Geniet die kort vakansie en die lekker warm lente weer!!!






lewer kommetar
bottom of page