top of page

As die Here die huis nie bou nie

Hierdie is 'n brief van een van ons lesers.


Na 27 maande van getroud wees kan ek getuig – dit is nie altyd net maklik om in ‘n huwelik te wees nie. Die gesegde “elke huis het sy kruis” begin reeds 'n realiteit word as die lewens wat saamgevoeg is, nog in sy kinderskoene staan.


Ek begin nou eers die waarde besef van my ouers wat vir 30+ jaar vir mekaar gespaar is en getroud kon bly. Dit is nie kinderspeletjies nie. Veral nie as mens die geweldige invloed van sosiale media en uitvloed van getroue godsdiensbeoefening in jongmense se lewens in ag neem nie. Huwelike wat “tot die dood ons skei” kan hou, is net die Here se genade.


“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou...” (Ps 127:1)

Terwyl ek hierdie skryf, voel ek soos Prediker wat sê: “En kyk, ek het gesien...”


Invloede

Ek kyk om my rond en sien dat huwelike nie soseer meer as ‘n heilige instelling van God gesien word nie. Mense trou en skei sommer maar net soos wat enige alledaagse verhoudings kom en gaan. Dit word ook so op televisie- en selfoonskerms gepropageer. En ek is van oortuiging dat al die invloede wat ons in ons huise inlaat dmv ons fone, 'n groot rol speel hierin.


Dit sal seker te drasties vir sommiges klink, maar ekself het Instagram en Facebook van my selfoon af verwyder. Net deur hierdie eenvoudige besluit kon ek ‘n opmerklike verskil in my en my man se verhouding sien. My ervaring is dat hierdie platforms se inhoud soos gif in my kop insypel – onwaar stories oor myself en oor my man en oor “toxic” dit en “toxic” dat. Ek sal selfs so vêr gaan om te sê dat hierdie platforms in ‘n derdeparty in die huwelik kan verander.


Dit skep ‘n slegte siklus van vergelyking en onvergenoegdheid wat ek liefs nie in my hart wil aanmoedig nie (Matt 12:34). Ek sê nou nie almal moet hulle sosiale media toepassings van hul fone afhaal nie, maar vra jouself af: Wie het inspraak in jou en jou man se huwelik? As dit enigiemand anders as jy, jou man en die Here is, is jy besig om met vuur te speel.


Die waarheid is: In die huwelik is beide man en vrou gebroke, sondige mense wat in ‘n heilige eenheid voor God staan. Waar Instagram van “red flags” en “dealbreakers” in Reels propageer, vertel die Woord van God dat ek en my man albei sondige mense is wat die genade van Christus se kruisdood nodig het. Ons moet mekaar aanspreek oor ons sondes, en mekaar verantwoordbaar hou wanneer ons weer en weer daarin val.


Ons moet as ‘n span aan dieselfde juk trek – tot eer van God en tot uitbreiding van sy koninkryk. So staan ons ook as broer en suster saam voor God, en moet ons mekaar ondersteun in ons pad van heiligmaking hier op aarde (Heb 3:13).



“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet 5:8)

My ma het telkens deur my lewe hierdie wysheid gedeel: Die gesin is die hart van die samelewing wat God geskep het. Die huwelik is die afbeelding van Christus en sy kerk. Daarom sal die duiwel alles in sy mag probeer om hierdie eenhede in die samelewing uit mekaar te skeur en stukkend te kap. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Pet 5:8), en probeer alles in sy vermoë om die koninkryk van God af te breek – en die huwelik is een van sy sentrale gevegsterreine. Die duiwel se doel is om die daaglikse voorbeeld van die liefde wat tussen Christus en sy kerk bestaan, af te breek.


Moenie bang wees vir berading

Dit is nie altyd maklik om saam en by mekaar te bly in en deur alles nie. Ek is ‘n groot voorstander van berading. Die Here het ons vir ‘n rede in ‘n gemeenskap van gelowiges geplaas (1 Kor 12:27). Ek en my man het vir baie voorhuwelikse beradingsessies (huweliksvoorbereiding/huwelikskatkisasie) gegaan voor ons getroud is. Mense het nogal gedink ons is weird, maar dit het baie issues voor die tyd uit die weg geruim.


Verder maak dit die deur vir enige toekomstige berading oop. As jy vind dat jy te veel daaraan dink om jou goed te pak, gaan spreek ‘n ervare pastorale berader en werk saam deur julle probleme. Dit is regtig nooit te vroeg om die hulp van ‘n berader in te roep nie. Huweliksprobleme is huweliksprobleme; of jy nou ‘n maand, ‘n jaar of 10 jaar getroud is.


Daar is altyd hoop vir jou huwelik

“En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee.” (Eseg 36:26)

Soms gebeur daar goed binne 'n huwelik wat moeilik vergeefbaar is. Die Here het egter die mag om in sy groot genade, verandering in ‘n sondige mens se hart te bring en vergewende versagting in die benadeelde mens se hart. Ek het dit self gesien en kan getuig hoe een van my ouers na baie jare se volharding in sonde, tot werklike inkeer gekom het, en hoe die Here wondere in hul huwelik bewerk het. Hierdeur word God ook verheerlik deur die Heilige Gees se werk in die wedergeboorte van elke gelowige (Rom 6).


Dit gebeur wel nie net vanself nie. Ons as gesin moes destyds ‘n lang pad stap, en dit het baie berading en terapie geverg. Die Here skenk ook aan mens hierdie aardse middele om ons op ons pad van heiligmaking by te staan. Praat met vertrouelinge in jou gemeenskap van gelowiges hieroor en speur Christus-gesentreerde leiding na deur ‘n ervare pastorale berader en betroubare hulpmiddels te raadpleeg.


Mense wat in verhoudings is, verloofdes, pas-getroudes en lang-getroudes. Waak oor jou verhouding. Bid vir mekaar en bid saam. Maak werklikwaar saam met mekaar erns rondom God se Woord. Jy kan nie eers begin huisgodsdiens doen as die kinders daar is nie. In dieselfde asem is dit ook nooit te laat nie. Praat oor die Bybelgedeelte wat julle gelees het, praat oor jou geloof en bou mekaar op in die Here se genade. Mag die Here met jou in jou huwelik of voornemende huwelik wees soos in die woorde van Psalm 128.


Psalm 128

Psa 128:1  ‘n Bedevaartslied. Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees, wat in sy weë wandel! 

Psa 128:2  Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed! 

Psa 128:3  Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. 

Psa 128:4  Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees. 

Psa 128:5  Mag die HERE jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem mag aanskou al die dae van jou lewe! 

Psa 128:6  En dat jy jou kindskinders mag aanskou! Vrede oor Israel! 

lewer kommetar
bottom of page