As die Here jou nie roep om 'n ma te wees nie...
Ons is besig om tydens huisgodsdiens met ons kinders, die boek Samuel deur te werk. Elke keer as ek lees van Hanna wat so innig gebid het vir 'n kindjie, tref dit my net weer hoe ek in my daaglikse stryd om almal aangetrek, gevoer en gebad te kry, vasgevang kan raak. Dan vergeet ek van die vrouens rondom my wat so graag 'n mamma sal wil wees, maar nooitñ baba kry nie. Ek vergeet om dankbaar te wees vir die kinders wat die Here my wel gegee het. Dit is ten diepste nie my kinders nie, maar Sy kinders. Ek het net die voorreg om hulle te mag grootmaak hier op aarde.
Vandag deel ons 'n stukkie van so 'n vrou se hart. Susan Fouche is saam met ons in die gemeente. Sy is 'n sprekende voorbeeld van iemand wat ondanks ondenkbare beproewings vashou aan haar geloof in God. 'n Vrou wat weet waar haar Krag vandaan kom. Mag Susan se rou, diep en uit-die-hart getuienis jou vandag bemoedig om soos wat Romeine 12 vers 12 sê: "jou te verbly in die hoop; geduldig te wees in die verdrukking; en te volhard in die gebed".
Uit die pen van Susan Fouche:
Dit was die 3de Oktober 2021 en ek en my man sit angstig en opgewonde in die kerk en bid in ons binneste. Al die tekens lyk so belowend, ek is nou al 7dae laat. "Miskien hierdie keer het die Here ons gebede verhoor. Miskien hierdie keer gaan ons uiteindelik die goeie nuus kry dat ons ‘n kindjie verwag."
Daardie aand slaap ek amper niks. Alles binne my beweeg in ‘n hopelose afwagting. Ek stuur die een gebed na die ander op. Môre gaan ek toets, môre sal ek weet. Jarelange hoop opbou en hoop verloor het al vir ons albei selfbeheersing aangeleer. Ons toets nie voor dit nie ‘n week is nie. Ons probeer om ons harte te beskerm om nie hierdie keer in ons drome die werklikheid vooruit te hardloop nie. Maar dit is elke keer tevergeefs...
Daardie oggend glip ek vroeg uit die bed uit en draf af badkamer toe. Die toetsie wys dit wat ek na baie toetse al begin glo al is wat die toetsies vir my kan wys. Daar is niks. Daar is nie nuwe lewe nie. Ook nie hierdie maand nie. Maand in, maand uit. Jaar in, jaar uit. Die uitslag altyd dieselfde, daar is niks. Een strepie, nie twee nie. Nooit twee nie.
Ek skraap al my moed bymekaar en gaan maak koffie vir ons. Toe ek my man sien gee ek net een klein kop skudjie wat vir hom alles vertel. Hy hou my vas soos die verpletterende verlies aan iets wat ons nog nooit besit het nie om ons toesak. Hierdie dag is net een van baie wat herhaal het oor baie jare.
Dit is kinderloosheid.
Kinderloosheid is om in die winkel te loop en jou binneste sny elke keer wat julle ‘n ander paartjie met ‘n baba sien. Dit is julle harte wat snik vir elke vroutjie met ‘n boepensie by wie julle verby loop. Hulle laat dit so maklik lyk.
Kinderloosheid is die binnekamer gebede:
“Here, dink asseblief aan ons, in ons swakheid, sien binne ons harte ons diep verlange en as dit U wil is, gee vir ons hierdie vreugdetjie. As dit U wil is seën ons met ‘n ou kleintjie.”
Dit is my man wat met so ‘n sagte uitdrukking die weerlose lyfie van my broerskind vashou en my binneste smelt geheel binne my as ek hom so sien. Dit is my man wat met sy sterk hand aan my maag raak en vir my fluister hy kan nie wag om my magie gespan te sien nie. Dit is stil gebede en stil gesprekke in stil vertrekke. Dit is doktersafsprake, bloedtoetse en brojures. Dit is hoop vir hierdie behandeling en dan hoop vir daardie behandeling. Dit is pille, gesond eet en vitamienes. Dit is droom oor vakansie want dalk, dalk is dit die spanning wat hierdie kinderloosheid veroorsaak.
Kinderloosheid is die stil verlange waaroor ander mense te bang is om oor uit te vra. So hulle vra eerder niks nie.
Dit is ek wat bewend die 20ste Junie 2022 my selfoon optel en Pretoria Vrugbaarheids Kliniek kontak om ‘n afspraak te maak na ek hierdie pragtige boodskappie van my man af ontvang het die oggend:
“More my liefste, ek is veilig en het heerlik gery. Dit was 12grade, so heel aangenaam. Onthou om vandag te skakel vir die afspraak. Noem dat ons besig is met die IUI behandeling en wanneer jou eerste dag was en dat jy reeds besig is met die medikasie wat hulle gegee het… Ons kort die 11de dag afspraak. Wees net rustig, hulle is ook net mense en jy hoef glad nie angstig te voel om met hulle te praat nie… Onthou, hulle soek ons geld. Ek hoop jy gaan ‘n goeie dag hê my skat. Gaan maak nou koffie en wees rustig. Vreeslik baie lief vir jou my enigste!!”
Ek kry die afspraak vir die 24ste om 7:30 die oggend. Ons is opgewonde!
En toe gebeur die ondenkbare...
Dit is ek wat snikkend vir my ma verduidelik sy moet die afspraak asseblief namens my kanselleer terwyl die sieklike naarheid van skok herhaaldelik oor my spoel en my binneste laat stol. My man is oorlede op die 22ste Junie 2022 in ‘n motorfiets ongeluk op pad werk toe.
Hy het toe nooit ‘n pappa geword nie en my magie het nooit gespan geraak met sy kindjie nie.
Deur dit alles weet ons die Here is in beheer. In die Bybel sien ons telkemale dat die Here ‘n hart het vir die kinderloses. Hy is naby jou juis in daardie dele van jou lewe waar jy stukkend is. Dit is juis in hierdie dinge, hierdie tye, hierdie situasies wat God met ons werk. Dit is juis hier waar Hy ons nader bring aan Hom in liefde.
“Die Here het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly! O Here, verander ons lot soos waterstrome in die Suidland. Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.”
Psalm 126 vers 3-5