top of page

As die Here vir jou 'n baba gee

Hierdie artikel is geskryf deur Ellie Buys, een van ons goeie vriendinne en 'n "agter-die-skerms medewerker" van Huisvolhart. Ellie is ook deel van ons Bybelstudiegroep, so ons was bevoorreg om hierdie pad saam met haar te stap en die Here se genade te aanskou.


Die Here het ons hierdie kindjie gegee…


“Die Here moet geprys word en sy roemryke dade verkondig word.

Dit is nie maklik om te hoor by die ginekoloog dat daar n goeie moontlikheid is dat jou drie seuns sonder 'n ma kan groot word nie. Dat daar ‘n opsie is om jou swangerskap te beëindig nie... Kardiomiopatie is 'n gevaarlike kondisie wat ‘n vrou nie eintlik moet hê as sy swanger is nie. Maar die Here gee en die Here neem.


Hy het hierdie kindjie aan ons gegee op ‘n besondere tyd. Deur Sy genade het my gesondheid ondanks die statistieke en bo alle verwagting, verbeter. Ek kon ‘n volle swangerskap deurgaan sonder komplikasies. Ons kon die hand van die Here sien in die gebruik van die mediese tegnologie, maar meer nog in sy getrouheid van geslag tot geslag, dat as dinge "normaal" uitdraai dit eintlik n wonderwerk is. Die Here het ons gebed gehoor, ook het Hy almal in ons kringe se gebede gehoor en Hy was genadig om dit te gee waarvoor ons gevra het. Mag Hy geprys word, mag die dokters dit sien en aanskou en glo, mag ons almal vashou en weet Hy is Onse Here! Groot van goedertierenheid, getrouheid en almagtig - dit is die Here! Ons dank hom!”


Is jy deur dieselfde?

Dalk is jy ‘n vrou wat saam kan getuig? Dalk het jy ook ‘n wonderwerk-swangerskap gehad? Ek weet net dat elke lewe, nie sommerso en vanself is nie. Dit is ‘n gawe en voorreg! Mag ons die Here die eer gee!


Ek is ‘n vrou vir my man en ‘n ma vir my kinders. Tydens my grootwordjare was my gesondheid altyd baie goed. Nooit allergieë gehad nie, net ‘n dag of so gemis van my hele skoolloopbaan. Dit was van so ‘n aard dat ek gedink het dat ek nooit regtig met my gesondheid probleme sal hê nie... Maar Genesis 3 is ook by my as vrou bewys...”met smart sal jy kinders baar...”

My oudste was 'n noodkeiser en hy moes daarna 7 dae in NICU bly. Met die tweede het hulle gesukkel om die baba uit te kry, maar my derde keiser was so goed en maklik, dat ek gedink het ek begin nou die ritme van ma-wees vang. Ons het toe 3 gesonde lewendige seuntjies gehad - André, Bennie en Willem. Na twee maande van Willem se geboorte is ek egter gediagnoseer met ‘n hartprobleem agv my derde swangerskap - Kardiomiopatie (vergrote hart waar die hartspier kan verswak wat kan lei tot hartversaking). Gelukkig was ‘n pasaangeeër nie dadelik nodig nie en met medikasie was my hart goed op pad om te herstel. Die dokters se waarskuwing egter: Ek moet net nie nou swanger word nie! Ek en André het ook gedink dat dit goed is om te volstaan by 3 kinders. Ons het gedink dis die regte ding agv my hartprobleem. Maar na 3 jaar se behandeling kon ek die pille wat gevaarlik is tydens swangerskap, los. Ons was egter nie van plan om weer swanger te raak nie, maar die Here het dit tog weer bepaal dat ons ‘n 4de kind moet kry.


Sjoe, ons het deur ‘n mallemeule van emosies geworstel! Ons was geskok, benoud, moedeloos en het nie kans gesien nie. Met gevoelens wat so wipplank ry, moes ons gou die ginekoloog en kardioloog sien. Die ginekoloog het die risiko’s in breë trekke vertel en die kardioloog het my trimester vir trimester gemonitor. Die ginekoloog het gesê daar is 'n kans dat my hart dit nie gaan hou nie en my drie seuntjies "sonder ‘n ma kan groot word". Dat mens ter wille van my as ma se gesondheid daaraan moet dink dat ‘n mens die keuse het om die swangerskap te beëindig. Dit was egter glad nie ‘n opsie vir ons nie. Ons gaan voort met die swangerskap!


Die kardioloog en ginekoloog het toe saam besluit dat die baba op 30 weke uitgehaal kan word as dit nodig is. Op 20 weke sug die ginekoloog verlig dat ons dit al so ver gemaak het en op 27 weke kan die kardioloog nie glo ons trek al so ver nie. My hart is sterker as wat hy verwag het en ek is ver van gevaar vir die volgende 10 weke.

Op 37 weke verklaar die kardioloog dat my hart beter is as toe ek nie swanger was nie. Wat ‘n wonderwerk! Dis nie gewoonlik so nie.

Tot laat in die swangerskap wou ek niks aankoop of opgewonde raak nie, selfs ook nie toe ons hoor dis ‘n dogterjie nie (eindelik 'n sussie vir die 3 boeties). Die vrees het vasgeskop dat daar nog altyd ‘n moontlikheid is dat ek of die baba dit nie gaan maak nie. Twee weke voor die beplande keiser het ek ‘n babatee gekry en het die werklikheid my getref dat ek maar mag uitsien na Marike se koms!

Week na week, dag na dag het ons en ons kinders en talle ander mense gebid dat ons Marike mag sien en opvoed tot eer van die Here! Die Here kan gee wat onmoontlik lyk, maar ook neem soos dit Hom behaag. Ons weet egter Jesus Christus het ons geleer: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Luk 11:9

Marike is gebore op 26 Augustus 2022 gesond en welgeskape en ons prys die Here! Alle eer aan die Here vir hierdie wonderwerk! Ons mag en moet die wonderdade van die Here verkondig en ek hoop dat almal die Here sal raaksien!


Ellie Buys



“Loof, loof die HEER van alle here!

Verhoog sy Naam en gee Hom ere,

En bring sover daar volke is,

Sy dade in gedagtenis;

En spreek met aandag en ontsag

Van al sy wonders, dag aan dag.”

Ps 105:1

lewer kommetar
bottom of page