top of page

COVID-Doop

Ons dogtertjie, Mieke, is gebore op die 3de dag van die grendelstaat. Wat ‘n vreemde tyd is dit nie om die wêreld binne te kom nie… Te midde van isolasie, gesigmaskers en ontsmettingsmiddels! Maar, dis eintlik ook so mooi: Aan die een kant is daar die realiteit van siekte, vrees en dood.

MAAR elke nuwe lewe is weer ‘n versekering dat daar nog hoop is, die Here skep steeds vir ons ‘n toekoms.

Van Mieke se geboorte af was alles anders as met ons vorige twee kinders. Haar pappa kon slegs daar wees terwyl sy gebore is, daarna moes hy weer huistoe gaan. Ons kon mekaar eers weer sien nadat ons ontslaan is. Mieke was al ‘n maand oud toe haar oupas en oumas haar vir die eerste keer ontmoet het. Sommige van ons familie het haar nou nog nie gesien nie.

Partykeer het ek gewens dat ek Mieke vir ander mense kon wys. Gedink dit sou lekker gewees het as iemand kon kom inloer. Maar dit was ook lekker om vir ‘n ruk net alleen as ‘n gesin te kon wees. So kon ons rustig aanpas met die nuwe babatjie in die huis.

Een ding wat ons ook nie dadelik kon doen nie, was om vir Mieke te doop. Elke keer wanneer iemand vir my vra wanneer ons nou vir Mieke gaan doop (…so al asof ek en Mnr Ramaphosa dit weekliks oor ‘n koppie koffie bespreek…) het ek maar grappenderwys geantwoord: "dit lyk of dit eers sal gebeur wanneer sy al self doopvont toe kan stap!"

Terwyl ek toe wag vir Mieke se doop of vir haar om te stap (watter een ook al eerste sou kom), het dit my kans gegee om weer bietjie te dink oor wat die doop beteken. Hoekom doop ons babatjies?

Kinders word nie gered tydens hul doop nie.

Daarom is dit nie vir ons nodig om wanneer ‘n baba gebore word ‘n priester uit sy slaap wakker te bel om gou die pasgebore baba te kom doop, seën of salf nie. Daar is wel mense wat dit so doen – om so te probeer verseker dat die baba gered is as daar dalk iets sou gebeur en die baba te sterwe kom.

As die doop nie die baba red nie, wat dan? Die doop wys vir ons dat Mieke aan die Here behoort. Die water wat oor haar kop gesprinkel word, is ‘n belofte dat haar sondes net so afgewas word deur Jesus se bloed as sy in Hom glo.

Toe Mieke drie maande oud was, het die President aangekondig dat ons (50 persone op ‘n slag) weer kon kerk toe gaan. Maar, daar mag niks gebeur wat aanraking vereis nie – dus steeds geen doop!

Mense het baie kreatiewe idees uitgedink om te doop en steeds binne die regulasies te bly – van babas wat oor die kop spuit met ‘n watergeweer, tot ‘n 1.5m lange stok met ‘n skulp (verkieslik een uit die Jordaan-rivier) wat op die punt vasgemaak word en dien as ‘n skepmiddel.

Ons het egter besluit dat die ge-spuitery en ge-skeppery nie vir ons gaan werk nie. Daarom was ons ontsaglik dankbaar toe ons later hoor dat ons Mieke wel op die “normale” manier kon doop. Ek sit “normaal” in aanhalingstekens, want eintlik was dit glad nie.

Op Sondag 12 Julie is Mieke gedoop. Sy self was salig onbewus van wat om haar gebeur het. Sy weet nie hoedat ons mooi moes mik om haar in die dooprokkie (wat al amper te klein was) te kry nie. Sy weet nie van die fyn beplanning om net 38 mense te kies wat die diens mag bywoon nie. Sy weet nie dat haar ma vergeet het om doopfotos te neem nie - Ek glo wel dit is die masker se skuld, sodra ek dit opsit is dit asof my brein afskakel – g’n mens kan dink met so ‘n stuk lap om jou kop nie!

En DIT is wat die doop so mooi maak! Al weet Mieke van NIKS, weet die Here ALLES. Hy sê: Jy is Myne! Die doop gaan nie oor die wit rok, spesiale water vanuit Jerusalem, perfekte fotos, prag-koek of familie-kuier nie. Dit is bysake, nietigheid. Die belofte van die doop is soveel ryker as dit! Ons ontvang die belofte dat:

  • God die Vader ons aangeneem het as sy kinders

  • Jesus Christus ons verlos het van ons sondes deur sy bloed

  • Die Heilige Gees in ons wil woon en werk om ons onbesmet en heilig voor God te maak

Ons as ouers kry ook die geleentheid om te belowe dat ons Mieke van God sal vertel. Dat ons haar deur ons voorbeeld sal leer om die Here lief te hê met haar hele hart, haar hele verstand en met al haar kragte.

In hierdie virus-tyd is die doop vir ons elkeen geloofsversterkend. Wanneer ons daaraan dink of sien hoe ‘n baba gedoop word onthou ons weer: Ek is ‘n gedoopte kind van die Here – Hy sal my nooit begewe of verlaat nie. Ek het ook die teken van die doop ontvang. Dit is die belofte wat ons aan die begin van ons lewe ontvang het, en altyd met ons saamdra, tot ons eendag op ons sterfbed lê en steeds kan sê: Ek behoort aan die HERE!


Ons sal, in lewe en in sterwe,

Gods eiendom vir altyd wees;

Ons sal wat Hy beloof het erwe,

Verseël deur die Heil’ge Gees

Hy is die waarborg ons gegewe,

Die eerst’ling van die volle som;

Ons sal die reddingsdag belewe

Die gloriedag van God wat kom!

(SB 24:7)

lewer kommetar
bottom of page