top of page

Vandat ek ‘n Mamma is…

Daar is baie dinge wat ek my ma ewig voor sal dankbaar wees, maar meeste daarvan het ek eers besef, of regtig voor waardering gekry vandat ek self 'n mamma geword het.


Vandag wil ek dankie sê vir...


  • Al die liefde...

  • Al die geduld

  • Al die omgee

  • Al die ondersteuning

  • Al die rond ry

  • Al die voorlees

  • Al die opofferings

  • Al die wyshede

  • Al die lekker kos

  • Al die saam leer

  • Al die saam speel

  • Al die herinneringe

  • Al die Bybel lees

  • Al die gebede

Vir alles

Vandat ek 'n ma is verstaan ek hoekom 'n mamma altyd laaste by die huis uit is voor ons iewers heen moet ry.


Vandat ek 'n ma is verstaan ek hoe dit voel om na 'n sosiale geleentheid saam met vriende nie een sin te kon voltooi of een gesprek klaar te maak nie.


Vandat ek 'n ma is verstaan ek hoekom mamma's hulle koffie 3 keer moet warm maak of dit net koud drink...


Vandat ek 'n ma is verstaan ek die geduld wat dit vat om vir die 100ste keer te stop en te kyk na die wawiel wat nogsteeds nie regtig soos 'n wawiel lyk nie.


Vandat ek 'n ma is verstaan ek hoekom my ma soms moes nee sê, of nie nou nie terwyl jou hart breek want jy wil alles vir hulle koop/gee of doen.


Vandat ek 'n mamma is verstaan ek die spreekwoord: "My hart loop buite my lyf rond."


Vandat ek 'n ma is weet ek dat 'n mens kan funksioneer met minder as 4 ure slaap 'n nag.


Vandat ek 'n mamma is weet ek dat 'n ma partykeer haar stem moet verhef en dis eintlik om haar kinders te beskerm.


Vandat ek 'n mamma is sien ek die verskriklik onreg as ek verwag my kleuter moet uit 'n blou bord eet in plaas van 'n rooie.


Vandat ek 'n ma is besef ek wat die term "mom guilt" is en weet ek dat elke besluit ten opsigte van ouerskap my gaan laat twyfel en wonder en skuldig voel...


Vandat ek 'n ma is ervaar ek die verbeeldingloosheid van volwasse wees as ek probeer pop speel en dit glad nie reg doen volgens my 5-jarige nie.


Vandat ek 'n mamma is besef ek die opoffering van jouself en wat dit beteken om onselfsugtig te wees.


Vandat ek 'n ma is verstaan ek hoekom die kinders daardie nuwe mooi rokkie het en ek dra steeds my klere van 2015 waarin ek dalk nog pas...


Vandat ek 'n mamma is verstaan ek wat onvoorwaardelike liefde is.


Vandat ek 'n ma is besef ek elke dag hoe geseënd ek is.


Vandat ek 'n mamma is ervaar ek elke dag angstigheid en bekommernis.


Vandat ek 'n ma is mis ek die dae van piepie sonder toeskouers.


Vandat ek 'n ma is besef ek dat my voorbeeld, my woorde en my dade die grootste invloed het op die klein hartjies in ons huis.


Vandat ek 'n ma is druk die verantwoordelikheid om Godsvresende kinders groot te maak swaar op my.


Vandat ek 'n mamma is respekteer ek my ma se raad en ervaring en omgee en liefde soveel meer.


Vandat ek 'n ma is, is dit ekstra spesiaal om te gaan kuier by my ma en weer kind te voel as ek haar heerlike disse eet en sy my bederf met 'n koppie soet tee en 'n ma en dogter geselsie...


Vandat ek 'n mamma is verstaan ek die ou Tannie by die kerk of ouetehuis se verlangende staar as sy vertel dat sy haar kinders wat in 'n ander land bly 3 jaar terug laas gesien het.


Vandat ek 'n ma is verstaan ek dat vir 'n 5jarige dogtertjie moet alles pienk wees, behalwe natuurlik die pasta, want pienk pasta is eeuw...


Vandat ek 'n mamma is vind ek my troos en rustigheid nog meer in gebed.


Vandat ek 'n mamma is besef ek elke dag hoe afhanklik ek van God en Sy genade is.


Dankie ook vir die wonderlike Ouma wat mamma vir ons 3 kinders is, ek bewonder mamma se geduld om vir ure Barbie te speel asook al die liefde en omgee en hulp...! Ek kan net hoop, bid en streef om 'n mamma en eendag DV 'n ouma te wees soos Mamma ...

Ek is so geseënd om nogsteeds by my Mamma te kan leer en raad vra en ek sal nooit genoeg kan dankie sê nie...


Dankie mamma vir die voorbeeld wat Mamma vir my gestel het van 'n ware Spreuke 31 vrou. Met God se genade sal ek elke dag wat ek 'n moeder is, streef om Mamma se voorbeeld na te volg.

Spreuke 31 vers 10 - 31

“'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en geniet dit om dit te verwerk. Sy is soos die handelskepe, sy bring die kos van ver af in. Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel. Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy stel vas of die wins goed is, haar lamp bly heelnag brand. Sy werk met die spinwiel, haar hande bly besig met die weefstoel. Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges. Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm klere. Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol. Haar man is welbekend by die stadspoort waar hy saam met die leiers beraadslaag. Sy maak klere en verkoop dit, sy lewer gordels aan die handelaars. Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word. Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.”


‭‭


lewer kommetar
bottom of page