top of page

Hoe luister jy?

"Hy grawe met sy vuil hande in die asblik. Sy koop duur pille oor die toonbank. Hy drink dorstig goue vloeistof uit sy groot glas. Sy sny diep snye op haar weerlose arm."

In die midde van ons samelewing loop hulle - die eensame grypers. Hulle soek enigiets om die seer te doof.

In ‘n stilword oomblik, as ek myself terugtrek van alles wat my hart en sinne besig hou, sien ek soos in ‘n spieël my eie gebrokenheid. Ek is een van hulle - êrens het die lewe my ook seergemaak, iewers worstel ek nog steeds met onuitgesproke gevoelens ...


Die vraag wat ek vandag voor jou voete wil neerlê is dit: Hoe gaan ons om met ander se gebroke hart? Wat doen ons met ons eie gebrokenheid?


In hierdie lewe sal daar storms wees: verlies beroof ons van dit wat kosbaar is, onnadenkende woorde sny diep, misbruik maak siele stukkend, om maar net ‘n paar te noem ... Die sonde verniel en harte breek in duisende stukkies.


As die storms woed, het ons skuiling teen die verwoesting nodig!

Sy kom na my met oë wat meer vertel as woorde. Hoe kan ek vir haar skuiling bied?


Die liefde verdra alles (1 Kor 13:7). In Grieks is verdra stego wat letterlik dak beteken. My liefde kan moontlik die geskenk van ‘n dak wees wat beskerming aan ander bied. ‘n Veilige hawe waar daar afgepak kan word. My oop ore wat luister, die deur van my vesting. Ore wat regtig HOOR, hoor meer as net klanke, dit neem alles in sonder enige veroordeling.


Is dit nie ook wat Christus kom doen het nie? Die Immanuel het Sy lewe afgelê om vir ons ‘n hawe te word waarheen ons gebreekte harte kan bring om heel te word. Moet nooit bang wees vir swaarkry wat breek nie. Ons kan seker weet dat, onder die liefdesdak van Christus, gebrokenheid omskep word in genade. Hy is die bewys dat lyding omskep kan word in heerlikheid!

As ek ‘n dak vir my verdrietige vriendin is, maak ek Jesus Chistus aan haar bekend. Die liefde wat Hy deur Sy medelye aan my bewys, deel ek weer uit deur in haar pyn te deel.


Of jy die een is wat jou hart uitpraat of die een wat met ope ore luister, wees verseker dat onder die dak van liefde, gemeenskap vorm. Niemand kan verduidelikings vir lyding aanbied nie, maar almal kan dit versag deur intimiteit, die saam-wees daarin. Deur net te luister.


Luister in die klein oomblikke van jou lewe, in die verbyloop, oor die telefoon of op die kerkplein. Lê jouself af en stort jou lewe uit om ‘n dak met oop ore te wees, terwyl jy onder die ewige liefdesdak, Christus, skuil.


As jy behoefte het om onder ‘n veilige dak van Christus se liefde te kom afpak stuur dan gerus ‘n vonkpos na audiviref@gmail.com. Ons sal na jou toe terugkom.

Praktiese raad om beter te luister:

  • Vra oop vrae wat begin met waar, watter, wat, wie , hoe ens...

  • Maak oogkontak

  • ‘Huil’ saam met ander oor die gebrokenheid van die lewe en die verwoestende gevolge van die sonde

  • Toon ‘n luisterhouding. Luister is belangriker as praat (Spr 10:19b; Jak 1:19)

  • Ontwikkel ‘n oog vir mekaar en sien raak wanneer iemand ly. Fyn waarneming van liggaamstaal, oogkontak of nie, hangende skouers, stemintonasie, betraande oë, senuagtige gebare, hiper ventilasie, gebalde vuiste ens.

  • Skep ‘n veilige atmosfeer

  • Hoor wat iemand sê, nie wat jy dink hy sê nie of wil hê dat hy sê nie

  • Hoor wat iemand nie sê nie of dalk herhalend sê

  • Hoor wat iemand onbewus sê, dikwels as ‘n oënskynlik losstaande, agteraf opmerking

  • Wees bereid om tyd aan iemand te bestee om sy verhaal te kan hoor

  • Glo wat iemand vertel, gee erkenning aan die pyn en moenie veroordeel nie

  • Wees GELOOFWAARDIG, OPREG en BETROUBAAR


Lientjie Stolper

Julie 2020

 

Het jy die behoefte om met iemand te praat?


Jy kan gerus vir Audiref kontak.


Iets oor ons vonkpos adres audiviref@gmail.com


As dit vir jou soos Grieks klink, is jy naby reg, want dis Latyn. Audivi beteken in Afrikaans ‘ek het gehoor’ en ref is die verkorte weergawe van reform wat op hervorming dui.


Audiviref dui op die feit dat luister die belangrikste eerste vereiste van berading is. Jy kan sy/haar hart uitstort en ons sal empaties luister om die werklike nood te kan identifiseer.

Ons luister egter met ‘n Gereformeerde oor. Dit beteken dat ons die Bybelse openbaring aangaande sonde, lyding en swakheid verdiskonteer en Christus se werk van verlossing en heiligmaking nooit uit die oog verloor nie. In en deur Christus is genesing van emosionele pyn moontlik en kan hervorming (vernuwing) plaasvind (Ef. 4:23-24).


Vir ons, Henria Stolper en Lientjie Drijfhout is opregtheid, betroubaarheid en liefde belangrik, omdat ons daardeur iets van Wie Christus is, vergestalt. Ons bely dat die Heilige Gees die eintlike berader is en is daarom afhanklik van Hom

Henria het, nadat die kinders die huis verlaat het, via onderwys in teologie tereg gekom. Sy het berading as spesiale fokuspunt gekies, omdat die Here haar laat ontdek het dat haar juffrou hart telkemale op kinders met emosionele verwondings gerig was.

Lientjie het via ‘n BSc. graad in o.a. Sielkunde, in die onderwys tereg gekom. Sy en Henria het beide ‘n kursus gedoen in pastorale sorg en krisis intervensie.

Ons wil onsself voortdurend opskerp met kursusse en leeswerk, maar glo dat die Heilige Gees die eintlike Berader is wat bereidwillige mense bekwaam maak.



lewer kommetar
bottom of page