top of page

Die heel mooiste skepsel

Ek sê nog altyd die heel mooiste ding op aarde is 'n baba... wat slaap....


Die mens is inderdaad die heel mooiste skepsel. Deur die loop van Genesis 1 hoor ons die refrein en God het gesê, gevolg deur dit wat geskep is, bv. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.


Dit is elke keer uitwaartse spraak .


Maar dan, teen die einde van hoofstuk 1, lees mens regtig iets besonders. Waar ons in die hele hoofstuk lees dat God uitwaarts spreek, lees mens in vers 26-27 dat God inwaarts spreek:

En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld...


Ons lees van dialoog in die Wese van God. En hierdie besondere inwaartse spraak, vind dan plaas met die skepping van die mens. Dit dui vir ons aan dat die skepping van die mens uniek en spesiaal is.


Van al die pragtigste, majestueuse skepsels wat God gemaak het, is die mens die kosbaarste, die enigste wat die wonderlike status van Beeld van God ontvang.

Beeld van God beteken o.a. dat die mens die voorreg en verantwoordelikheid ontvang om iets van God se karakter, van Wie Hy is, uit te straal. As iemand die mens sou sien, sou hy dadelik ’n realistiese beeld kon vorm van Wie God is!

Voeg daarby, dat God aan die einde van elke ander skeppingsdag gesien het dat dit goed was, maar na die skepping van die mens het God gesien dat dit baie goed was.


In Psalm 8:6 lees ons dat God die mens met eer en heerlikheid gekroon het.

Die mens is inderdaad die kroon van die skepping.

Die heel mooiste skepsel: die mens

Dit beteken, dat al sou jy tot in die buitenste ruimte kon reis teen 100 keer die spoed van lig, en jy verby duisende sterre en hulle planete en mane kon reis, al sou jy die aanskouer wees van die heel mooiste en glansrykste hemelligaam, al sou jy die mooiste natuurtoneel kon waarneem – niks is mooier as die geboorte van ’n mens nie. Want ’n klein babaseun of dogtertjie, is die kroon van God se skepping!


Die skepping van die mens, is sonder twyfel die hoogtepunt van die skeppingsgeskiedenis!


Sondeval en die mens se beeldskap

Ons ken egter die geskiedenis: Die mens sondig teen God en daardeur skeur hy homself los van God wat die lewe is. Geen woorde kan beskryf hoe tragies hierdie gebeure is nie. Met die sondeval het die mens sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Maar ook - het Die beeld van God gebreek.


Herstel in Christus

Die beeld wat gebreek is met die sondeval, lei daartoe dat die mens nie meer ’n realistiese beeld gee van Wie God is nie. As iemand na die mens kyk, kan hy nie meer die uitnemende gawes in hom sien nie, wat iets van God se karakter weergee nie. En so is die droewige situasie. Geen mens se lewe gee na die sondeval meer ’n realistiese beeld van Wie God is nie! Die mens ken nie meer vir God nie... want hulle sien Hom nie meer in enige mens se lewe nie. Elke kind word in sonde ontvang en gebore...


Maar dan gebeur daar ’n wonderlike ding.

God stuur vir ons ’n Mens sonder sonde. Daar word in Betlehem ’n babatjie gebore sonder sonde. Hy erf nie die sonde van sy ouers nie, want Hy word op unieke wyse gebore. Sy ma word nie op die gewone manier swanger nie. Sy word swanger uit die Heilige Gees.

En vir die eerste keer is daar ’n mens wat, as jy Hom leer ken, jy ’n realistiese beeld kry van die karakter van God, van Wie God is!

God stuur sy Seun. Jesus. Hy word genoem die Beeld van die onsienlike God (Kol. 1:15). Hy is die eerste mens wat na die sondeval volkome Beeld van God is. Hierby is ook Sy sondeloosheid van belang.


Die Kruis

Aan die kruis word Hy verbrysel, maar daardeur verdien Hy egter vir ons die geregtigheid en heiligheid wat gepaardgaan met beeld van God wees. Hy kom maak dit weer vir ons moontlik om beeld van God te wees.


Aanskou Christus

Deur Sy verdienste aan die kruis, het Jesus Christus vir ons die lewendmakende Gees verwerf. Hy het ons kom skoonwas en die Heilige Gees uitgestort om in ons te kom woon. Daardeur het Hy die herstel van beeld-van-God-wees in ons begin.

Nou het ons die opdrag om al meer te begin lyk soos Hy, wat die beeld van die Onsienlike God is.


Hoe doen ons dit?

2 Kor. 3:18: "En terwyl ons almal met ’n onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is."

Dit beteken, hoe meer ek die beeld van God (dit is Jesus) aanskou, hoe meer word ek verander om te lyk soos die beeld van God. Ek aanskou Jesus deur die Woord te lees.

Dit is ons opdrag, om al meer gelykvormig te word aan die beeld van die Seun van God


Implikasies van beeld van God

Die feit dat die beeld van God in my herstel is en word, het implikasies vir:

  • Myself. Dit beteken ek mag myself nie leed aandoen nie. Ek moet omsien na my geestelike en liggaamlike welstand, al meer groei in kennis van God, en moeite doen om my talente te ontwikkel.

  • My huweliksmaat. Dit beteken my man/vrou is beeld van God en ek behoort haar met waardigheid en eer te behandel – sy is immers die beeld van God!

  • My kinders. Dit beteken ouers moet kinders behandel, liefhê en opvoed as beeld van God. Dit het implikasies vir hoe ek hulle dissiplineer, leer en hanteer.

  • Ook my ongebore kinders – kinders in die moederskoot is ook beeld van God!

  • My ouers. Dit beteken egter ook dat kinders hulle ouers sal respekteer. Dink aan jou pa/ma as beeld van God.

  • My broers/susters. Soms is dit goed om vir jouself in soveel woorde te sê: My boetie/sussie is die beeld van God.

  • My mede-gelowiges. Dit beteken ek sal waardering vir hulle hê en hulle ook bemoedig en bystaan as beeld van God.

  • My naaste. Dit beteken dat ook mense buite my kring as beeld van God sal respekteer en dienooreenkomstig behandel. In ’n gesprek oor die grootste gebod in die wet, vra ’n wetgeleerde vir Jesus wie sy naaste is (Luk. 10:29). Daarop het Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel. Die Jode het nie van die Samaritane gehou nie – en tog leer Jesus die wetgeleerde dat ’n Samaritaan ook jou naaste is. Dit beteken dat nie alleen ander mense wat soos ek lyk en praat nie, maar alle mense, ook van ander volkere, deur ons as beeld van God behandel moet word, al besef die persoon dit self nie.

Jakous. 3:8-9 praat oor die die tong. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons mense, wat na die gelykenis van God gemaak is.


Die feit dat die mens beeld van God is, is ook die begronding van die sesde gebod. Omdat mense na die beeld van God gemaak is, mag ons nie moord pleeg nie.


Maar een van die implikasies is dan sekerlik ook dat ek myself waardig sal ag. Ek is immers waardevol in God se oë. Hy noem my met ’n uitnemende naam: Sy Beeld.


Mag ons die genade vind om aan onsself te dink as beeld van God – en so optree.

Maar mag ek ook daaraan dink dat God ander mense na sy beeld gemaak het en hulle so behandel.



lewer kommetar
bottom of page