top of page

Geniet jou kinders...

As jy met 5 kinders iewers opdaag, is daar sekere vrae en opmerkings wat jy altyd kry. Ek kan al aan die manier hoe mense ons klompie dophou, aflei wat hulle gaan sê.


"Is hulle almal joune?" "Het jy net seuns?" "Julle ry seker ñ kombi." "Het julle ñ voltydse bediende?" "Is kinders nie duur nie?" "Hoe dóén jy dit?"


En dan kom daar altyd raad... Of eerder heimwee-opmerkings.


"Toe my kinders klein was." "Ons was ook 5 kinders." "Ek wens ek het nie by 2 gestop nie." "My kinders is almal oorsee".


Die ouer tannies by Checkers of by die kerk keer my altyd voor net om te sê ek moet die "kindertjies geniet terwyl hulle nog so klein is, hulle word tog so vinnig groot." Dan voel ek altyd lus om te antwoord: “tannie, kom maak vanaand tussen 6 en 8uur ‘n draai by ons huis, dan praat ons weer!”


Dit voel nie vir my of hulle nooit gaan grootword nie! Veral nie as ek aand na aand kosgee, doeke ruil, snot neuse afvee, klere aantrek, skoonmaak waar hulle mors, dieselfde stories oor en oor lees, nat beddegoed in die nag ruil en met koue voetjies tussen my blaaie wakker word nie.

Maar vanaand, as my vyf orrelpypies almal rustig slaap, dink ek aan daardie tannies en ooms wat heel moontlik stoksielalleen by hulle huise sit.

Tannies en ooms wat eens op ‘n tyd ook in hulle vrye tyd met ‘n handdoek agter glibberige, nat lyfies aangehardloop het. Hulle moes ook in ‘n stoeigeveg betrokke raak om net ‘n doek en slaapklere aan ‘n 2jarige lyfie te kry. Hulle moes ook stories oor en oor lees. Hulle moes ook opstaan vir hoesbuie, kan-nie-meer-knyp-nie, glipsies, goeters onder die bed, bang-vir-die-donker en “mamma-lê-by-my”.


Hulle het ook bekommerd wakker gelê oor boetie se rapport en sussie se verversings vir entrepreneursdag. Hulle het ook gewonder of hulle die woelwaters ooit gaan groot kry.


En toe hulle hul oë uitvee, begin die oulike baba ontaard in ‘n parmantige 3jarige. Die liefdevolle, saggeaarde dogtertjie, val op die vloer en skop en skree omdat haar pap nie ‘n die prinses bakkie is nie. En nog erger, voor jy kon sê mes, word deure toegeklap en musiek oorverdowend geluister. En, vinniger as die motorfiets waarop sussie se kêrel haar kom haal, is hulle uit die huis en doen hulle eie ding.


Hulle sê mos: “as hulle klein is wil jy hulle opvreet en as hulle groot is wens jy, jy het”


So, ek sluk dan maar altyd my sarkastiese antwoord en sê:

“Ja, tannie ek weet. Ek geniet hulle vreeslik baie”

En as Google Photos my soms herinner aan die foto wat ek 4 of 6 jaar terug opgelaai het, dan besef ek: “Geniet hulle! Hulle word so vinnig groot”


En as ek hoor hulle begin praat van "vriende" en nie meer "maatjies" nie, of hulle "ma" my en nie meer "mamma" nie of hulle korrigeer my want "hulle het iewers gelees", dan besef ek opnuut: “Geniet hulle! Hulle word so vinnig groot”

lewer kommetar
bottom of page