top of page

Gesonde versnaperings vir kinders

Hoeveel keer 'n dag hoor jy: "Mamma ek is honger"? En mens vergeet soms dat kindermagies kleiner as ons s'n is en dat hulle meer gereeld moet eet. Met groeiende lyfies is gesonde versnaperings baie belangrik. Wat kan ek vir my kind gee tussen etes wat nogsteeds gesond is, maar wat ook vir hulle lekker is?


Om te beplan vir peuselhappies is belangrik, want as die geneul vir iets om te eet eers begin, kan dit jou vinnig teen die mure uitdryf. Dan gryp 'n mens gewoonlik die vinnigste, maklikste opsie uit die kas. Dit is heel moontlik nie altyd die gesondste opsie nie.


Dit geheim lê daarin om die "dink" uit die versnapering te haal. As jy eers moet wonder wat jy vir hulle kan gee, raak ek sommer moedeloos.


En die kinders leer naderhand wat gesond is en kan hulself dan begin help.


Daarom het ons 'n lysie gaan opstel van gesonde peuselhappies sodat mens 'n plan het. En dan kan pappa ook sommer vir hulle iets gesond gee. Sommige van dit kan selfs vooraf voorberei word en gereed staan as die magies begin grom.


Hier is ons lysie:


  • Appelskywe met grondboontjiebotter of neutbotter soos amandelbotter of makadamia botter (kyk vir die suikervrye grondboontjiebotter)


  • Gekookte eiers


  • Springmielies (probeer om net bietjie sout oor te gooi. Baie van die spesiale springmieliesoute wat mens kry, het baie kleur- en geurstowwe in)


  • Gesonde tortilla skyfies met avokado (guacamole)


  • Ryskoekies met verskillende "toppings"


  • Gevriesde ertjies


  • Peul ertjies, komkommer of wortels met ongegeurde jogurt doopsous of maaskaas (of enige groente)


  • Aarbeie of bloubessies


  • Volgraan provita's met bietjie marmite en kaas of net maaskaas


  • Rooibostee ysies met heuning vir die somer. Of maak sommer vanoggend 'n bietjie ekstra smoothie en vries dit vir roomys

  • Piesangs gedoop in ongegeurde jogurt en gevries vir 10 minute.


  • 'n Glasie melk


  • Ongegeurde jogurt met gestoomde appel/peer stukkies en kaneel


  • Rooibostee met 'n volgraan beskuit/koekie


  • Neute, biltong, droëwors, droë vrugte


  • Rosyntjies of bosbessies

  • 'n Handvol muesli




Dit is belangrik om peuselhappies te beperk sodat dit nie die hoofmaaltye vervang nie. Maar vir groeiende kinders is dit belangrik om tussen etes 'n gesonde peuselhappie te kan eet.


Laastens wil ons klem lê op water drink.


Innecke-hulle gee glad nie koeldrank of sap vir hulle kinders nie. Hulle drink water! As hulle iewers kom soos by 'n verjaarsdagpartytjie of dalk by Ouma, kan hul 'n koeldrankie of 'n sappie drink, maar tuis is daar net water. Koeldrank en sap bevat baie suiker en ongesonde dinge en dit maak hul magies vol met geen voedingswaarde nie. "Dus is ons reël: by ons huis - drink ons water!!!"


Karyna-hulle het in hulle huis die volgende reëls oor waterdrink:

  • Ons drink net water (behalwe as ons spesiale geleenthede soos 'n braai het, dan kry elkeen een glasie koeldrank)

  • Maar voordat jy koeldrank drink, moet jy eers een glas water drink

  • Ons drink net water uit bottels (Geen koeldrank uit 'n bottel. Koeldrank kom in glasies met lekker baie ys)

  • Geen koeldrank skool toe nie. Hulle kry water in hulle bottels skool toe

  • Ons leer hulle: Water is vir dors, koeldrank is vir die lekker (bederfie). En ons mag 'n bederfie kry maar as ons die heeltyd bederfies kry, is dit naderhand nie meer 'n bederf nie.

  • As jy opstaan in die oggend, drink heel eerste 'n glas water

  • Pappa en mamma hou ook by die reëls.

  • Daar is altyd water beskikbaar en maklik vir die kinders om te kry - in die kar, in die huis, in 'n rugsak

Sommige van die idees hierbo is duur items. Maar onthou dat versnaperings nie 'n maaltyd moet vervang nie. Dit is net om die hol kolletjie vol te maak totdat dit tyd vir ete is. Ons is geneig om "leë" kosse te eet en dan moet ons 'n hele hoop eet om versadig te voel. Maar iets soos neute of biltong of kaas, het mens regtig net 'n handjievol van nodig om die hol kol vol te maak.


Ons hoop hierdie help so bietjie om daai leë magies vol te kry!!


Lekker peusel!!!

lewer kommetar
bottom of page