top of page

Het jy jou masker...?

Ons laai die laaste 2jaar die kinders by die skool af met 'n "deurry-stelsel". Jy ry in by die een hek, laai die kinders af en ry uit by die volgende hek. Dit is nog 'n oorblyfsel van Covid-planne.


Een van ons kinders het al die plan gehad om sommer koffie daar te staan en verkoop want dit werk soos 'n "drive trough". Met 5 kinders in die kar (wat al vroeg moes opstaan en al 'n hele rukkie in die kar is want ons ry vêr skool toe) verloop die proses net nie altyd so glad soos wat dit klink hierbo nie. So, 'n koffie vir die ma tydens die aflaai is dalk nie so slegte idee nie. Met 'n beskuitjie by want my ontbyt staan nog op die kas.


Ons aflaai roetine is egter meer iets soos:


  • Vra al van die laaste stopstraat af: "het jy jou masker, is jou tas toe, hoekom het jy nog nie jou skoene aan nie, los jou boetie uit, moenie so met mekaar praat nie, jy het nooit jou hare gekam nie!."

  • Dan kom die stemmetjie in jou kop wat jou waarsku dat mens die kinders op 'n goeie voet moet skooltoe stuur. Ek het nou die dag 'n artikel of iets daaroor gelees toe ek vir die kinders gewag het. "Moenie raas of negatief wees net voordat jy hulle aflaai nie want dan gaan hulle hele dag aaklig wees" (of miskien het die artikel gesê: gaan hulle dan die hele dag aaklig wees...)

  • Maar hulle baklei steeds oor watter liedjie ons moet luister (deesdae sing ons Psalms om die vrede te bewaar) en sussie se hare is nog nie vasgemaak nie. Boetie het 'n tandepastastreep op die wang, en kleintjie se weetbix sit nog aan sy neus vas. En die waterbottel het in die tas uitgeloop...

  • En dan sussie se uitroep: "Hierdie masker ruik soos mens... Dis nie my masker nie! Dis een van die seuns s'n! Ek ruik dit". Ek moet erken, ek sou ook nie daai masker (wat al vantevore wit was) wou dra nie.


En net as jy alles kalm en rustig, soos dit 'n goeie ouer betaam, onder beheer gebring het, kom die oomblik van uitklim:


  • Stop, jaag almal aan, begin weer maskers soek, kry jou laaste preek in, vra of almal hulle kosblikke het, gee weer vanmiddag se kom-haal-reëlings, beland weer in die versoeking om aan te jaag, byt op jou tande, tel tot 10, sien hoe die ma agter jou haastig is want haar kinders het lankal almal sonder enige probleme uitgeklim, wag vir die deur toeklap... alweer te sag toegemaak.... weer oopmaak.... harder toeslaan!

Dan draai ek gewoonlik my venster af en skree agter hulle aan: "Geniet die dag, ek's lief vir julle, sterkte met die toets." En ek moet op my tande byt om nie ook te skree: "Moenie maatjies seermaak nie, luister mooi vir juffrou!"


Soms raak my bemoedigende woorde om by die venster uit te skree op. Ek probeer altyd iets positief of bemoedigend sê net voordat hulle uit die kar uit is. Ek weet nie altyd of hoor hulle eers in die geharwar enige iets nie. Maar ek voel beter omdat ons darem "op 'n goeie voet uitmekaar is".


En raai wat, ek dink van vandag af gaan ons hele oggendroetine sonder enige voorvalle of probleme wees! Want ons hoef nie meer maskers te soek nie!!


Ek sal more oggend by die venster moet uitskree: "Smile! Ons kan jou mond sien"



lewer kommetar
bottom of page