top of page

Hoe motiveer ek my kind om te lees?

Ek en my man is altwee baie lief vir lees. En ons wil graag hierdie liefde oordra aan ons kinders. 'n Liefde vir lees word aangekweek vandat kinders baie klein is en ek is oortuig daarvan 'n mens kan enige kind lief maak vir lees.


Iemand wat nie lief is vir lees nie, het nog net nie die regte boek ontdek nie. - J.K. Rowling

Onder ons kroos het ons op die stadium nog net 2 amptelike lesertjies (9jaar en 8jaar oud) en een ontluikende leser (6jaar oud). Maar al ons kinders is reeds lief vir boeke, stories, luister na voorgeleesde stories en vir lees.


Ek het wel vroeg al besef dat ek so bietjie ekstra moeite sal moet doen met lees aangesien ons net 1 dogtertjie en 4 seuns het. En oor die algemeen is dogtertjies meer geneig om lief te wees vir lees as seuns.


Ek het gedink om so paar van ons leesplanne te deel:


Lees saam met jou kinders. Lees vir hulle stories vandat hulle klein is. Maar maak ook tyd vir hulle om "self" te lees. Al is daardie lees nog net boekies deurblaai. (Sien my volgende punt.) As hulle groter raak, lees steeds saam met hulle. En hou aan voorlees al kan hulle al self lees.

Maak 'n vaste leestyd elke dag. Ons het elke dag 'n vaste tyd waar ons almal vir 30min lank sit en lees in die sitkamer. Dit is gewoonlik so net voor aandete. Elkeen (van die 2jarige tot die 9jarige en ook mamma en pappa) kies 'n boek. Ek stel dan 'n wekker vir 30min. Ons praat glad nie, ons lees net. Selfs die kleintjies sit tjoepstil vir 30min en blaai deur hulle boekies. Hulle mag opstaan en 'n nuwe een kry as hulle deur hulle boekie is. Laat hulle deel voel van die storie. As ons besig is om 'n langer boek voor te lees, praat ons gereeld oor die boek. Ons soek die plek waar die storie afspeel op die kaart en Google selfs interessante feite rakende die karakters, plek en skrywer. Ousus leef haar so in die boeke in dat sy sommer toneeltjies uitdink vir haar boeties waar hulle die boeke "speel".

Vat hulle boekwinkel toe van kleins af. Julle hoef nie eers 'n boek te koop nie. Loop net deur die winkel en loer na die boeke. Watter tipe boeke is daar op die rakke? Wie is die skrywers? Ons het Å„ tweedehandse boekeinkel naby ons en hier kan ons deur die boeke blaai.

Lees vir hulle die eerste boek van ‘n reeks boeke of die eerste helfte van 'n boek. En laat hulle dan verder lees. Sodoende sal jy ook sien van watter tipe boeke hou hulle.

Gaan saam met hulle biblioteek toe. Probeer verskillende tipes boeke uitneem om hulle smaak te ontdek. Aanvaar ook dat verskillende kinders van verskillende boeke hou. Sussie gaan nie noodwendig so baie van Saartjie hou soos wat jy van Saartjie gehou het nie.

Help hulle om die regte boeke te kies. 'n Boek moet nie te maklik maar ook nie te moeilik wees vir jou kind nie. Jy sal weet op watter vlak hy lees. As 'n boek te maklik is kan hulle verveeld raak maar te moeilike boeke maak hulle moedeloos. Help hulle ook om te ontdek van watter tipe boeke hulle hou.

Prys hulle vir hulle prestasies of vordering. Ons het gewoonlik die gebruik dat, indien jy 'n boek deurgelees het, mag jy die volgende boek in daardie reeks kry. Of as jy 'n spesifieke boek deurgelees het mag jy die volgende keer vir jou 'n boek kies (binne ons begroting).

Daag hulle uit om ’n boek binne ’n seker tyd klaar te lees. Hierdie sl jy slegs kan dorn as jy al weet hoe vinnig hulle lees.

Stuur hulle elke aand bed toe met 'n boek. Deel van ons aandroetine is dat elke kind nadat ons Bybel gelees het, vir hulle elkeen 'n boek (of twee of drie) moet kies om in die bed te lees. Almal lê dan in die bed met 'n boek totdat hulle slaap (van die 2jarige tot die 9jarige). En deel van ons oggendroetine is dan om boeke te bêre. Ek het deesdae ook ń "slim-gloeilamp" in die groter kinders se bedlampies wat op ń spesifieke tyd in die aand afgaan.

Laat hulle glo hulle is lief vir lees. Ons maak 'n punt daarvan om heeltyd vir ons kinders te vertel hoe lief is hulle vir lees. Ek sal gereeld sê: "Kies vir jou 'n boek, jy hou moes baie van lees." En ons pak soms meer boeke as klere as ons iewers heen ry.

Sorg dat daar 'n verskeidenheid boeke altyd beskikbaar is om te lees. Hier is ń tweedehandse boekwinkel jou beste vriend. En leer hulle ook om die boeke netjies te bêre as hulle klaar is.

Organiseer jou boekrakke sodat dit uitnodigend is. Ons boekrakke is gepak in kategorieë en dan volgens skrywers in die spesifieke kategorie. Die kleintjies se boekrak is soorte bymekaar en hardeband boekies heel onder sodat die 2jarige tyd kan bykom.

Leer hulle van kleintyd af om mooi met boeke te werk. Ons het wel 'n paar gunstelinge wat letterlik opgelees is. Ek probeer altyd dan om iewers weer 'n kopie in die hande te kry (gewoonlik op Bid or Buy of tweedehandse boekwinkel)

Stel die voorbeeld. Jy kan nie van jou kind verwag om te lees as jy nie self lees nie.


Hoop julle lees lekker. Veral in hierdie koue, winterweer - opgekrul onder Å„ snoesige kombers.

lewer kommetar
bottom of page