top of page

Hoe om die skooltas-stelsel glad te laat verloop


Skooltasse
Hoe die tasse gewoonlik gelyk het

Vyf kinders wat in die oggend by die skool of speelgroepie moet uitkom, beteken

  • 5 Tasse

  • 5 Kosblikke

  • 5 Waterbottels

  • 5 Stelle ekstra klere (vir die glipsies of sportklere vir die middag)

  • Dan is die boeke, potlode ens. nog nie eers gepak nie...

En as hulle in Pretoria se (warm) winter in die middag by die huis kom, is daar paar ekstra goed in die tasse....

  • 5 pare skoene

  • 5 baadjies en langbroeke

  • Prentjies, bak-en-brou

  • Vorms wat ingevul moet word (vrywarings, inskrywings, fotobestellings ens.)

  • en alles wat hulle die oggend nog aangehad het maar nou uitgetrek het....


Hoe organiseer ons le Roux's al die tasse?


Ons het 'n plank met hakies by die agterdeur opgesit. Dit is die plek waar ons inkom by die huis. Elke kind moet sy tas uit die kar uitlaai en op die hakkie sit.


Bags hanging
So lyk ons tas-organisasie nou
  • Elke kind se naam is bo sy hakie. Dan kan ek maklik sien wie se tas is nie daar nie.

  • Hier het ek ook hulle werkies-kaart vir die week opgesit (ek sal bietjie later 'n plasing daaroor opsit)

  • Op die boonste rak is hangplek vir elke kind se hoed (die seuntjies het hulle s'n aangehad toe ek die foto geneem het)

  • En heelbo op die rak staan die goed wat ons elke keer soek of gereeld gebruik

    • Botteltjie met penne (as 'n pen rondlê in die kombuis, sit ons hom daarin)

    • Botteltjie met werkie-name (later meer hieroor) Botteltjie met al die kleingeld wat ons optel in die huis of uit broeksakke haal (dit is dan ook handig om te gryp vir Vrydag-verkoping geldjies)

    • Gewoonlik is daar 'n borsel ook op die boonste rakkie en 'n spuitbottel met water (vir die regop hare wat jy raaksien net voor hulle by die deur uitgaan)


Hoe werk die proses?


As ons by die huis kom, moet almal hulle tasse uit die kar laai en op die rakkie hang. Dan haal jy jou kosblik uit en sit hom op die wasbak.

As die grotes huiswerk doen, vat hulle die tas na die huiswerktafel en na die tyd hang hulle hom weer op. Sodoende maak ons seker dat ons nie more oggend boeke en tasse soek nie.

Hulle hang ook hulle skoolbaadjies bo-oor die tas se hakie.

Ek pak die vorige aand (soms) die kosblikke en pak dit die oggend op die kas. Elke kind vat dan sy eie kosblik, gooi hom in sy sak, maak die sak toe, sit hom op die rug en spring in die kar.


Tupper
Die kosblikke staan gereed vir inpak

Voordele van ons tasrakke


  • Met hierdie proses het ons al baie tyd, trane en goed-wat-weg-is gespaar.

  • Ons soek nie meer (so gereeld) na tasse, kosblikke en baadjies nie

  • Ons vergeet nie meer kosblikke by die huis nie (want ek kan sien as daar nog 'n kosblik op die kas staan)

  • Ons vergeet nie meer vuil kosblikke in die tas en kom dit eers agter as iets begin sleg ruik nie....

  • Die kinders leer om verantwoordelikheid te vat vir hulle eie goed (selfs die 2jarige pak self sy kosblik in en laai sy tas in die kar)

  • Ek val nie meer oor tasse nie

  • Daar is selfs plek vir mamma se handsak

  • Die tasse bly net daar al is dit vakansie. So, ons soek nie na die vakansie na tasse nie.

Benodigdhede en kostes


Hierdie projek was regtig baie maklik (vir my man) en goedkoop. Ons het sommer 'n plank wat in die stoor gelê het, opgesit. Ek het hakies gekoop by Pick 'n Pay. En sommer geverf met Tjoko Paint wat ek gehad het.


Laat weet gerus in die kommentaar watter planne julle gesin met tasse maak.




lewer kommetar
bottom of page