top of page

Hoe sny ek gluten en koring uit my dieet?

Allergies vir gluten en koring… Of dalk wil jy net probeer om gesonder te eet… Of dalk is daar ‘n ander rede waarom jy graag gluten wil vermy… Maar as jy voor die winkelrak staan is al wat jy sien… pasta, brood, koek, lekkernye…GLUTEN GLUTEN GLUTEN…. Moenie moedeloos raak nie, hier is ‘n paar wenke vanaf een van ons lesers wat gluten-intolerant is:


Fokus eerstens op dit wat jy mag eet (in plaas van alles wat jy nie mag eet nie)


* Alle vleis, vis en eiers

* Alle groente en vrugte

* Suiwel

* Peulgewasse (soos bone en lensies)

* Neute

* Aartappels

* Rys

* Mieliepap

* Sorghum


Dan kry jy ook glutenvrye weergawes (wat wel ‘n bietjie duur is) en omdat dit verwerk is, is dit nie noodwendig so gesond soos natuurlike voedsel nie.


* Glutenvrye hawermout

* Glutenvrye meel


Moenie op die verbode kosse konsentreer nie. Daar is ook verskeie ander diëte wat gluten- en koringvry is, soos Keto, Paleo of Banting. Eet dan ook die hele voedselbron (whole foods) so vêr as moontlik. Dit beteken voedsel wat nie verwerk is nie.

My skoonpa en skoonsus is allergies vir gluten en koring. Hulle moes dus veranderinge maak ten opsigte van hul eetgewoontes en ook hul ingesteldheid rondom kos. Ek het vir my skoonma, Dossie Dednam, ‘n paar wenke gevra oor hoe hulle hul eetgewoontes en leefstyl aangepas het:


Wat was die grootste aanpassing?

Toebroodjies en kleinkoekies, dit was in die begin. Later word dit nie meer gemis nie omdat jy aan alternatiewe voedsel gewoond raak.


Watter alternatiewe gebruik jy vir kosse of bestanddele met gluten of koring in?

Enige produk wat verwerk en verpak is moet die etikette bestudeer word. Dit moet jy elke keer doen want die vervaardiging verander oor tyd. Ons het lank Pick’nPay se bruinuiesop gebruik en skielik verander hul die resep! Dit geld selfs vir mielie- of aartappelprodukte soos skyfies. Aartappelskyfies se geursel word met gluten gemeng om aan die skyfies te kleef. Meeste souse bevat gluten. Hulle voeg gluten by die meeste ryskoekies sodat dit aanmekaar bind.


Om enige sous te verdik, kan jy aartappels of mielieblom (maizena) gebruik.


Dis slegs in gebakte items waar ek alternatiewe gebruik. Ek koop glad nie spesiale glutenvrye meel nie. Ek gebruik ‘n groot verskeidenheid van meel, wat natuurlik, glutenvry is. Dit is oor die algemeen gesonder en laer in koolhidrate.


Die verskillende tipes meel wat ek gebruik, van die goedkoopste tot die duurdste is: mieliemeel, matabela, mielieblom, kekerertjiemeel (chickpea), bokwietmeel (buckwheat), lyn- en vlassaadmeel (linseed/flaxseed), klappermeel, amandelmeel.


My gunstelling meel is kekerertjiemeel want dit gee die gewone tekstuur aan gebak. Dit is egter meer geskik vir soutighede alhoewel ek dit in my meelmengsels voeg.


Ek gebruik ook fyngemaakte piesang, wortels, patats asook grondbontjiebotter in die plek van meel.


Meestal gebruik ek ‘n mengsel van produkte om die korrekte tekstuur te kry.


Ek gebruik psillium doppe (psyllium husk), chia-sade en baie eiers om gebak ‘n vaster struktuur te gee, daarsonder is die gebak baie bros en dit droog baie vinnig uit.


Wat is julle gunsteling gereg sonder gluten en koring?

Steak, aartappelskyfies en slaai.


Watter kos met gluten of koring is die moeilikste om uit te sny of mis julle die meeste?

Gewone brood want dis so maklik en vinnig om te eet. Ons het groot geword op brood en nogmaals brood.


Het die aanpassing julle eetgewoontes oor die algemeen gesonder gemaak?

Ek glo so, mens raak meer kos- en veral gesonde kos-bewus.


Hoe aanvaar jy die aanpassing om gluten-vry te leef al is jy nie die een met die allergie nie?

Ek het vir lank skuldig gevoel om vir myself te bak waarvan ek hou. Nou bak ek vir my semel muffins, semel beskuit en selfs goedkoper crunchies as om die duur glutenvrye hawermout te koop.


Waar koop ‘n mens alternatiewe bestanddele en is dit baie duur?

In Brits het ons ‘n wonderlike winkel wat bakbenodigdhede verkoop, Pack and Spice, hulle het ook verskillende soorte glutenvrye meel. Ek kry al my duurder meel van hulle en ek kry my glutenvrye hawermout gewoonlik van Dischem – ek vergelyk beslis pryse.

  • Mielieblom R 26 per kg,

  • Kekerertjiemeel (chickpea) R 60 per kg,

  • Bokwietmeel (buckwheat) R 95 per kg,

  • Lynsaadmeel (linseed/flaxseed) R65 per kg,

  • Klappermeel R 80 per kg,

  • Amandelmeel R 220 per kg

  • Psillium doppe (psyllium husk) R 325 per kg (Pryse soos in 2022)

Vind aangeheg 'n paar van my skoonma se glutenvrye resepte:




Mikro-brood

Spuit ‘n groot koffiebeker met spray-and-cook

Klits die volgende baie goed saam in die beker:

25ml grondboontjiebotter

1 eier

2,5ml bakpoeier

5ml mayonnaise

Bak vir 1 minuut @ 100% en 1 minuut op 70% in die mikrogolfoond.

Gebruik soos gewone brood. Dit kan ook gerooster word.






Avokado brood

1 avokado fyn gemaak

1 eier

25 ml amandelmeel

2,5ml bakpoeier

25ml kaas

Sout

Grasuitjies en Kruie

Meng alles goed deur en mikrogolf vir 3-4minute tot brood gaar is.


SULTANSGENOT (IMPOSSIBLE PIE)

Dis waarlik onwerklik hoe die tert lyk as dit klaar gebak is. Die bestanddele word alles op een slag in ‘n bak gegooi en gemeng, maar as dit gaar is het die tert ‘n behoorlike kors, met ‘n vlavulsel in die middel en ‘n klapperbolaag.


Meng:

4 eiers

50 ml margarine/botter

250 ml suiker

50 ml Klappermeel

50ml mielieblom

2 ml sout

3 ml bakpoeier

500 ml melk

250 ml klapper

5 ml vanieljegeursel

klits goed totdat alles goed gemeng is. (Baie loperige mengsel)

Voorverhit die oond tot 180*C.

Giet in ‘n gesmeerde oondvaste 24 cm-tertbord en bak sowat 45-55 minute lank of totdat die bo-kors goudbruin en die vlavulsel gestol is.


Lewer sowat 12 skywe


Veerligte Souskluitjies

4 eiers geskei

1 liter melk

200ml mielieblom

2ml sout

50g (60ml) botter gesmelt

250ml kaneelsuiker


Klits eiergele, mielieblom, sout en 250ml van die melk saam. Verhit res van melk in n groot kastrol tot kookpunt. Roer eiermengsel vinnig met n draadklopper by. Hou aan roer tot glad en dik. Verlaag hitte. Klits eierwitte styf. Verwyder mielieblommengsel van stoof en vou styfgeklopte eierwitte daarin. Doop 'n eetlepel elke keer in die gesmelte botter en skep lepels vol van mengsel in 'n opdienbak (met deksel) Strooi kaneelsuiker oor elke laag. Drup oorblywende botter bo-oor sit deksel op en hou warm sodat suiker smelt en en 'n sous vorm. Bedien warm.

Strooi kaneelsuiker oor na smaak.


Jy kan ook n dubbelkastrol gebruik



Klapperkoekies

Klits tot lig

125g botter

150 ml suiker

5 ml vanilla

Voegby en klits goed

2 eiers

Voegby

3 kop Klapper

65 ml meel - buckwheat

5 ml bakpoeier

Meng goed

Voeg by

60ml melk Meng goed

Skep teelepels vol op 'n gesmeerde bakplaat en druk platterig met 'n vurk.

Bak teen 180⁰C vir 15 minute

Laat afkoel op 'n koelrak.


Glutenvrye beskuit

A.

Week in 'n 3.5 l pot:

125ml chiasaad

500g droë vrugtekoek vrugte (800ml),

meng goed

bedek met kookwater en meng deur.

Laat staan.


B.

Meng baie goed saam:

1 000ml matabelemeel

600ml klapper

400ml linseedmeel

100ml mielieblom

650ml Saad (omega rich mix)

100ml pampoensade

300ml suiker

100ml psyllium husk

50ml bakpoeier

5ml sout

10ml koeksoda


C.

Sny:

500g botter (kamer temperatuur) in

Mengsel A (na ten minste 5min)

Hou verhit indien tot al die botter gesmelt is.


Voeg by B en meng baie goed.


D.

Klits:

9 eiers

1.5 l karring/dikmelk


Meng alles goed saam.

Gooi in 1 Groot oondpanne en maak gelyk.

Bak teen 180C vir 40min.

170⁰C vir 40 min.

Laat koud word in die oond


Haal uit. Laat koud word. Sny en droog uit

Dankie Ma!!

Lekker eet almal!!! Laai ook die resepte hier af:

Mikro brood
.pdf
Download PDF • 27KB


Avokado brood
.pdf
Download PDF • 25KB

SULTANSGENOT (IMPOSSIBLE PIE)
.pdf
Download PDF • 28KB

Veerligte Souskluitjies
.pdf
Download PDF • 27KB

Klapperkoekies
.pdf
Download PDF • 28KB

Glutenvrye beskuit
.pdf
Download PDF • 33KB




Is jy of iemand in jou huis gluten intolerant?

  • Ek is

  • Iemand in my huis is



lewer kommetar
bottom of page