top of page

Hou ‘n mamma ooit regtig vakansie?

Ons is baie bevoorreg om met vakansie te kan gaan. My ouers bly by die see en dus kuier ons ten minste een vakansie 'n jaar by hulle.


Drie of vier dae voordat ons ry, begin hierdie mamma al beplan, lysies maak en pak. Met ‘n baba op die heup voel dit vir my asof die gepakkery ’n ewigheid vat. (Ek het egter die lysies al vir 'n paar weke in my kop).


Natuurlik moet ek dan dink hoe gaan die weer wees, wat gaan ons alles nodig hê, watter speelgoed moet saam en is daar plek vir alles…?


Sussie wil graag help pak, ek gee vir haar ‘n sak, wat sy dan vol maak met alles wat ek gedink het nie sinvol is om saam te vat nie, dan probeer ek haar oortuig dat sy dit moet los en eerder dat moet vat… tevergeefs. Dan wonder ek of as ek dit uitpak en dat inpak sy gaan onthou teen die tyd wat ons by die see kom, en ongelukkig gaan wees daaroor??


Boetie wil ook help, vir hom laat ek sommer net alles en niks pak in n tas of sak wat ek nie self wil gebruik nie. Naderhand is hy sommer self ook binne die tas en word dit ‘n wegkruip speletjie. Gelukkig vorder ek darem.


Elke paar minute gaan merk ek iets af op my lysies, want sonder ‘n volledige lysie sal hierdie mamma verseker nie kophou van wat moet saam en wat is al in en wat moet nog gepak word nie…


Tussendeur al die gepakkery deur gebeur die dag tot dag dinge nogsteeds, ook moet ek kos maak en die yskas leeg kry. Die laaste paar dae voor ons ry, eet ons die snaakste kombinasies van alles wat daar oor is en wat moet op. Natuurlik moet daar ook nog padkos gemaak word!


As ek nie mooi oplet nie, dan het boetie intussen die tas wat ek begin pak het alweer uitgepak en rond gedra… Sussie sien intussen haar gunsteling pienk rok in die tas en wil dit natuurlik dadelik aantrek. Die verduideliking van: “Jy kan dit by die see dra”, werk glad nie… sy wil dit mos nou-soos-in-nou aantrek!!!


Totaal uitgeput is dit vandag tyd om te ry. Pappa bestuur en ek sit sommer agter by die kinders, hulle is veilig vas in hul stoeltjies. Na tien minute se ry: “Mamma ek is dors, mamma ek is honger, mamma ek wil piepie, mamma ek is verveeld, mamma hoe vêr nog? “


Ek sug en dink daar is nog 7ure se ry wat voorlê. Ek bied aan om te bestuur, maar as Pappa al die vrae en opdragte hoor, sê hy baie vinnig: ”Nee my skat, ek is reg om heelpad te ry en sit dalk sommer die radio ‘n bietjie harder.”


By die see aangekom is dit afpak en uitpak en dadelik is almal honger, al het ons net ‘n halfuur terug die laaste padkos opgeëet.


Mammas se werk tydens vakansies bly presies dieselfde. Honger magies moet gevoer word, klere moet gewas word, die huisie moet skoon gehou word (plus die seesand wat uit al die swemklere en handdoeke gespoel moet word en weer droog moet wees vir more se strand toe gaan ), lyfies moet gebad word en al die gewone dinge van elke dag word steeds gedoen.


Dis wel net meer werk omdat dit in ‘n vreemde huis is en omgewing is.


'n Mamma moet dink namens almal in die gesin en sy moet voorberei vir elke moontlike weerstoestand, elke moontlike scenario en elke moontlike behoefte.

Strand toe gaan is weereens 'n groot beplan, handdoeke, swemklere, sonbrandroom, emmertjies en grafies, 'n visnet en 'n bakkie om skulpies in te bêre, sand-vriendelike eetgoed, drinkgoed, ekstra doeke en klere, 'n sambreel vir die son, stoele, hoede en die koelboks...


Natuurlik raas almal met mamma want ons moes al 2 ure terug op die strand gewees het, maar niemand dink of help met alles wat moet saam nie. Dit is hoekom 'n ma altyd laaste by die huis uit is... om daai laaste iets in te pak want iemand gaan dit dalk nodig hê...


Na die strand is dit nat lyfies met sand orals. Mamma moet die sand en sout afwas en natuurlik is almal weer honger en moeg en huilerig. Bad, eet, storie lees, Bybeltyd en slaap en dan vir die eerste keer die dag gaan sit hierdie mamma rustig met 'n koppie koffie darem met 'n see uitsig..


Die dae vlieg verby en ek wonder wanneer gaan my ruskans nou kom. Met die vreemde roetine of eintlik geen roetine is kinders meer emosioneel, vat hulle meer kanse en baklei hulle selfs meer.


Maar tog is dit darem heerlik om as 'n gesin langs die see te stap, in elke rotspoeletjie te soek vir 'n vis, krap of see annemoon. As jy daai gesiggies sien ophelder en die angstige gilletjie hoor as die klein branders aangerol kom en hulle uitgelate weghardloop...dan is dit deur-en-deur die moeite werd.


Die laaste dag van die vakansie is chaos, alles moet skoon kom en gepak word. Dan moet 'n ma kophou sodat niks agtergelaat word nie. Almal is ongelukkig want dis die laaste dag en die emosies lê vlak. Mamma moet mooi verduidelik en paai.


Na die laaang rit huistoe, natuurlik het die kinders lekker gelê en slaap oppad en nou het hul tonne energie... dan moet alles afgelaai word en uitgepak word en weg gebêre word. Ons is nie 10 minute tuis nie of dit is weer etenstyd en begin die normale roetine en besig wees weer.


Daardie aand voor my oë moeg toeval dink ek... Ek het 'n vakansie nodig!!!


Of jy nou 50km of 5000km ry of vlieg vir vakansie, see of bos toe gaan, kamp of toer... vir die klein hartjies in jou huis is dit die grootste avontuur. Hulle leer en groei en ontwikkel deur aan te pas in 'n nuwe ongewing, nuwe omstandighede en nuwe geleenthede. En om as 'n gesin so saam tyd te spandeer is die grootste seëning van alles.

Maar 'n Mamma se werk hou nooooit op nie, veral nie as sy "probeer" vakansie hou nie!


lewer kommetar
bottom of page