top of page

Is jy te besig met besigwees?

Het jy al ooit daai gevoel gehad dat iets aan jou knaag? 'n Gevoel dat jy nie kan rustig word nie? Jy’s nog besig met een ding, dan dink jy solank vir jou ‘n volgende werkie uit. Die kinders slaap perongeluk almal gelyk op 'n weeksmiddag dan wonder ek: “waar begin ek?”


In plaas daarvan om net 5minute te sit, te ontspan en te geniet. Aan die Here te dink en Hom te geniet, wil ek dadelik begin om die volgende ding te doen.

Ek voel voortdurend soos 'n enjin wat aanhoudend luier. Heeltyd besig, heeltyd aan die hardloop, heeltyd gereed om iets te doen. En al is jou lyf nie noodwendig besig nie, is jou kop besig.


In Genesis 2:15 lees ons: "Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak."

Om te werk is dus nie opsioneel nie. Ons MOET werk. Ons moet besig wees. Maar waarmee is jy besig? In Eksodus 20:9 lees ons dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie. Alle werk wat ons in die Here doen, is die moeitewerd om te doen en is nie tevergeefs nie. Selfs daardie skottelgoed wat jy was, die wasgoed wat jy ophang en die doeke wat jy ruil. Alles is nuttig en nodig.

So, ons moet besig wees!! Maar waarmee??


Ons lees ook in Openbaring 19:8 "En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges." So, ons dade het nut. Nie net nou, op hierdie aarde nie, maar ook in die ewigheid. Daarom is dit belangrik om te besin oor waarmee jy jou besig hou. Hoe doen jy jou werk en gebruik jy jou tyd as jy weet jou regverdige dade is die kleed van die bruid (kerk) van Christus? Is dit goeie, duursame materiaal waarmee die beste trourok gemaak word? Of is dit afskeep, tweederangse linne wat na die eerste was uitgewas en dof is?


Hoe besig is te besig?

Ek voel maklik skuldig as ek "niks" doen nie. Ek sukkel om stil te sit en te ontspan. En ek moet erken, daar is ietwat van 'n trots as iemand my vra hoe dit gaan en ek antwoord: "besig, dankie". Die lewe het 'n gejaag geword en as jy nie verskriklik besig is nie, doen jy seker iets verkeerd. Maar, weet jy, eintlik word ons teen hierdie vreeslike besigwees gewaarsku in die Bybel.


In Lukas 10 lees ons van Martha en Maria, die twee sussies. Martha was vreeslik besig om voorbereidings te tref vir die Here Jesus wat by hulle kom kuier het. Sy het geskarrel en gewerskaf en was toe baie ontsteld omdat haar sussie nie wou help nie. Die Here Jesus antwoord haar toe in Lukas 10:41: "Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; Luk 10:42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie." Martha was met goeie goed besig maar haar prioriteite was verkeerd. Sy het eers gedink aan al die goed wat gedoen moet word en daarna eers aan die Here.


So, hoe weet ek wanneer ek te besig is? Wanneer ek nie by die voete van Jesus kan sit, soos Maria nie. Dan is ek te besig.

Waarskuwingstekens van te besig wees:

  • As jou hele lewe ‘n gejaag is. Daar is besige tye in jou lewe waar dinge gebeur wat jou dwing om besig te wees. Maar wees versigtig as elke dag so gaan en die besigwees nooit einde kry nie

  • Skuldgevoel. As ek besig is omdat ek skuldig voel om "niks te doen nie" en as ek ja sê vir dinge uit skuldgevoel.

  • Vind ek my waarde in dit wat ek doen? Sê ek ja vir goed om myself te bewys? Voel ek vreeslik oulik as ek so besig is? Onthou: Niks wat jy doen gaan verander hoe die Here oor jou voel nie. Hy het jou gemaak, Hy het jou lief. Niks verander dit nie.

  • As my besigwees my eintlike doel en roeping oorskadu. Ek, Karyna, is eerstens geroep om 'n vrou vir my man en ma vir my kinders te wees. As my besigwees hulle benadeel en maak dat ek nie uitkom by hulle nie, is ek te besig.

Praktiese riglyne om te-besig-wees te verhoed:

  1. Sit God eerste. Spreuke 31:30 "Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ‘n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word."

  2. Doen net ‘n paar belangrike goed elke dag. Die Here het die hemel en die aarde in 6 dae geskep. Nie in 1 dag nie, al kon Hy. Waarom dink ons dat ons 'n hele jaar se werk in een dag kan afhandel? Kies 1 of 2 belangrike goed en doen dit goed.

  3. Die huis is ons eerste bediening. In Titus 2 lees ons dat die ouer vrouens die jonger vrouens 'n paar goed moet leer. Onder andere ook om ingetoë te wees, kuis, huislik. Hierdie huislik dui op " 'n werker in die huis" in die oorspronklike taal. Daarom is 'n vrou se eerste (en nie noodwendig enigste nie) roeping om haar huishouding en alles wat daarmee gepaardgaan ordelik te regeer.

  4. Ons doen alle werk vir die Here. Kolossense 3:23 "En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie." 'n Goeie riglyn vir my is: As ek nie die Here kan vra om dit waarmee ek besig is te seën nie, moet ek dalk nie daarmee besig wees nie.

  5. Rus genoeg maar nie te veel. Gen 2:2  "En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.". En so moet ons ook rus van ons werk. Ons kan egter nie die heeltyd rus nie. In Eksodus 20 lees ons dat ons in ses dae moet arbei en al ons werk moet doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE ons God; dan mag ons géén werk doen nie. So, ons moet rus om weer ons werk voluit te kan doen.

  6. Maak jou goed minder sodat jou tyd meer word. Te veel aardse besittings maak dat ons heeldag besig is om dit te bestuur, veilig te hou, te organiseer en uit ons pad te skuif of skoon te maak. Minder goed maak dat ons meer tyd het vir belangrike dinge. Mattheus 6:19  "Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;"

  7. Bêre jou foon. Ek gaan wel nog 'n hele plasing skryf oor fone en waarom ek sosiale media afgesit het op my foo Maar, jy sal verbaas wees hoe baie van jou tyd jou foon steel. En hoe besig dit jou maak met dinge wat jy eintlik nie nou moet doen nie.


Ek sukkel persoonlik om rustig en minder besig te wees. Ek sê ja vir goed wat ek eintlik voor nee moes sê. Ek pak dinge aan wat onnodig is en ek sukkel om te prioritiseer. Maar wanneer ek dit wel regkry om nie so besig te wees nie, kan ek die effek daarvan op almal rondom my sien. My kinders en my man is ook rustiger. Die huis lyk beter en ons kry tyd vir die belangrike dinge. En daarom herinner ek my gereeld aan die opdrag in Psalm 46:11  "Laat staan (wees stil) en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde."


Ek hoop jy geniet jou koppie tee in stilte en rustigheid vandag sodat jy kan weet dat Hy God is.




lewer kommetar
bottom of page