top of page

Kleuters in die kerk...

“Amen”


Dankie tog dis verby, dink ek.


Met trane wat vlak lê, stap ek uit die kerk uit. "Gooi nou julle geldjies in, nee, in die sakkie."


“Myne, myne” sê boetie. "Boetie, nee, jy kan dit nie huis toe vat nie, gee vir die oom, dit is kollekte. Ons sukkel in die gangetjie af. "Boetie vat sussie se hand, oppas vir die karre, nee ons gaan nie tee drink nie... kom klim gou in die kar. In julle stoeltjies. Sit mooi."


Ek gaan sit en gee ’n groot sug en wonder wat is die punt… ek dink terug aan die afgelope uur en probeer onthou wat het die dominee gepreek. Ek dink ons het uit Matteüs gelees. Al wat ek met duidelikheid kan onthou is dat ek twintig keer vir my amper 2-jarige moes sê: “ sjoe, sjoe, saggies, asseblief boeta! Nie so hard nie” en vir my 4-jarige:” sussa sit stil, jy is mos mooi groot en kan al bietjie luister, onthou na kerk moet jy vir my een ding noem wat pappa gepreek het.” Dit alles terwyl ek my 12-weke oue baba se doek geruil het, gevoed het en die winde probeer uitkry het. En dit alles sonder dat hy te veel huil en ek dalk ‘n vuil kyk kry.


Was dit sinvol? Wonder ek meer as eenmaal op 'n Sondag.


Moedeloos… dis hoe ek voel.


Die volgende aand met huisgodsdiens, lees ons van Josef. My 4-jarige sê:” Mamma ek ken vir Josef, sy boeties het hom in die put gegooi en toe is hy verkoop en hulle het sy jas vol bloed vir sy pappa gegee. En gejok dat hy dood was, maar toe gaan bly hy in die paleis en dit was alles God se plan.” My mond hang oop en my hart voel lig.


Twee dae later roep my oudste se juffrou my by die skool toe ek haar gaan oplaai. “Hi, Mamma, ek wil net vir jou sê dat jou dogtertjie so mooi luister met Bybeltyd en vinnig snap wat ek probeer leer en sy onthou ook die stories so mooi.”


My hart klop sommer vinniger van trots en ek besef, daar IS sin daarin om met 3 kleuters onder 5 jaar elke Sondag twee maal die erediens aan te durf. Dit is die moeite werd. Hulle sien en neem in, al lyk dit nie altyd so nie. Hulle sien dat kerk bywoon en Bybel lees belangrik is, hulle leer (mettertyd) om te luister, hulle sien die voorbeeld wat ons stel.


Ek dink aan die gedeelte wat Paulus skryf in 1 Korinthiërs 3 vers 6: “ Ek het geplant, Apollo’s het natgemaak, maar God het laat groei.”

Ons as ouers se taak is net om ons kinders te bring onder die geklank van Sy Woord, by die skool, by die huis en ook in die erediens, en God sal die geloof laat groei.


Sterkte mammas. Vasbyt!

lewer kommetar
bottom of page