top of page

Klim en klouter maak van jou 'n slim kabouter

My kinders klim op alles! Kinders word immers gebore met ń lus vir klim en beweeg. Sommiges beweeg wel meer as ander. En sommiges beweeg wel vinniger en hoër as ander. Maar hulle wil altyd beweeg en klim en klouter (behalwe as ek sê: "Klim in die kar dat ons kan ry". Dit gebeur nie altyd so vinnig nie!)


En hulle natuurlike aangetrokkenheid tot mure, stoele, tafels, banke, vensterbanke en veral hulle ma's verstom my telkens. Ek is seker daarvan ekself is die klimraam waarop my kinders nog die meeste geklouter het. En as ek hulle vang, sit hulle pens-en-pootjies op die kombuiskas.


Waarom is klim en klouter so lekker en sommer ook nog belangrik vir jou kind se ontwikkeling?

Klim en klouter ontwikkel die spiere in jou kind se hele lyf en is 'n natuurlike manier om te oefen en spiere te bou.


Klim en klouter ontwikkel onder andere:


Motoriese beplanning:

Dit is die vermoë om die volgende stap of aksie vooruit te kan beplan en uit te voer. Iets soos optelsomme, meetkunde, lees ens. benodig onder andere goeie beplanning. Wanneer jy klim en klouter, moet jy beplan waar om jou voet of hand volgende neer te sit, hoe hoog om jou been op te tel om hom op die volgende tak neer te sit en ook watter aksie volgende moet gebeur om jou uit die boom te kry (en nie te sit en skree: "Mamma, kom help" nie).


Ruimtelike oriëntering (posisie in die ruimte):

Wanneer jy moet uitstrek om jou hand op die volgende tak neer te sit, moet skat waar die grond is wanneer jy van die leertjie afklim en jou voet op die regte plek neer wil sit, benodig jy 'n goeie idee van waar jy jouself bevind in die ruimte. Ruimtelike oriëntering is belangrik om te kan lees, weet waar jy jou letters moet skryf, hoe vêr uitmekaar die woorde moet wees en watter kant die "b" en "d" se boepies moet wees.


Spierkrag:

Klim en klouter maak spiere sterk. Sterk spiere help kinders onder andere ook met fynmotoriese vaardighede soos skryf, ryg, knip ens. Dit help ook dat kinders nie so vinnig moeg raak as hulle moet sit in die klas nie en help hulle ook met uithouvermoë.


Koördinasie is die vermoë om verskillende dele van die lyf effektief saam te gebruik om te beweeg. Wanneer jy klim en klouter moet jy al die dele van jou lyf saam en apart gebruik om te kom waar jy wil wees of jou lyf te laat doen wat hy moet doen. Kinders met goeie koördinasie sal makliker kan sterretjiespronge doen, fietsry, balle bons en vang ens. Koördinasievaardighede sluit dus ook hand-oog en voet-oog koördinasie in. Dit is belangrik wanneer hulle aan sport deelneem maar ook moet skryf met 'n potlood of pen of gekoördineerd moet deelneem aan speletjies en dansies (mens sien gewoonlik by die skoolkonsert wie die outjies is wat sukkel met koördinasie).


Waagmoed: Een van die belangrikste dinge wat ontwikkel tydens klim en klouter is waagmoed en selfvertroue. Kinders wat hulle vermoëns ontdek deur klim en klouter, ontwikkel 'n gevoel van "ek kan". Ons sien dit so duidelik wanneer ons kleingoed opklim met die klimraam en vol bravade uitroep: "mamma, kyk hoe hoog is ek". Of wanneer hulle iets nie kon regkry nie en skielik, na bietjie oefen en probeer, dit uiteindelik regkry.


Watter klim en klouter aktiwiteite kan julle by die huis doen?

  • Klim oor en onder deur stoele en tafels

  • Klim oor kussings, stompe, bankies, ens.

  • Hang 'n tou in die tuin waarteen hulle moet opklim

  • Klouter by die glyplank op

  • Klim boom

  • Maak tonnels met komberse, meubels, stoele en kruip onder deur

  • Klim hande-viervoet by die trappe op

  • Laat jou baba oor kussings, komberse en sagte speelgoed kruip

  • Klouter op mamma of pappa se rug of klim teen hulle op


Julle kan ook perdjie-ry speel. Dit voorsien kinders van hope pret en plesier en kan jou ook van 'n goeie dosis oefening voorsien! Tel hulle op jou rug, of laat hulle self op klouter as hulle kan. Hop en galop met hulle deur die huis en tuin, bonus punte as jy geluide ook maak! Anders kan jy 'n kind, of twee as jy dapper is, op jou rug laai en op jou hande en knieë rondkruip. Dit is vir kinders lekker om so hoog te sit en op en af te wip, en is baie goed vir hulle balans, spiertonus, vestibulêre ontwikkeling en nog baie meer.


Ek hoop julle gaan lekker klim hierdie week!!!

lewer kommetar
bottom of page