top of page

Kook op een slag etes vir 'n hele maand


Etes vir 'n hele maand





Met 5 monde wat moet kos kry tussen skool, aktiwiteite, rondry, werk en huishou deur gaan dit woes! Dit voel of ek nie altyd grond vat nie.


Ek hou van kosmaak en ek hou van onthaal, maar om elke dag te dink wat om te maak en tyd te kry vir goeie, gebalanseerde etes is regtig vir my ‘n moeilike taak.


Dus het ek hierdie maand iets nuuts probeer… ek het een groot kookdag gehad!! Een dag waarin ek 25 etes gemaak het vir die maand wat kom. Elke ete is genoeg vir my en my man en twee kleuters. Ek het ook vir my 6 maande-oue baba 25 etes gemaak. (Pampoen en gestoomde appels en rys en vleis - meer hieroor in ‘n ander plasing)


Ons wil ook deur hierdie proses probeer om uitgawes op kruideniersware minder te maak asook minder wegneemetes of kits-etes te koop.


Die voordele van kos vooruit maak:

  • Gebalanseerde etes

  • Baie minder skottelgoed

  • Meer tyd om aan ander goed te spandeer

  • Goedkoper as kitskos

  • Minder gejaagdheid en spanning in die huis

  • Vinnig en gerieflik

  • Spaar deur groter maat te koop

  • Net een dag se harde werk!!


Die Nadele van kos vooruit maak:

  • Dit verg noukeurige beplanning

  • Groot aankope op een slag

  • Moet vriesplek hê

  • Moet genoeg bakke hê

  • Bietjie herhalende etes

  • Een dag se harde werk!

  • As daar onverwags gaste kom, kan mens te min hê


Wat ek gedoen het:

Vir my eerste probeerslag het ek dit eenvoudig gehou deur slegs drie vleissoorte te gebruik en twee soorte stysel.

Eerstens moet jy gaan sit en beplan wat jy gaan maak, wat jy gaan nodig hê en dan hoeveelhede uitwerk.



  • Hoenderfillette,

  • maalvleis en spek,

  • rys en pasta.


Daarna het ek gaan neerskryf watter geregte of disse en variasies ek met bogenoemde kan maak met verskillende groentes en souse by.


Hier is my lys van etes:

  1. Spek, pasta, blomkool en kaassous-gereg x 3

  2. Maalvleis met ertjies, mielies, wortels, boontjies, gebraaide tamatie en rys x 3

  3. Kerrie en rys x 3

  4. Maalvleis met rys en groente sonder kerrie x 2 (vir die kinders)

  5. Maalvleis met pasta en geroosterde brokkoli, blomkool, wortels en gebraaide tamatie X 3

  6. Soet en suur hoender met brokkoli en rys x 3

  7. Hoender, en rys met geroosterde beet en butternut . X 2

  8. Hoender en pasta met ertjies, mielies, wortels, gebraaide tamatie en witsous en kaas x 3

  9. Hoender, rys en blomkool met veggiebake x 2

By elke dis kom daar ook ‘n halwe gebraaide ui.


Dus het ons 9 verskillende disse wat ons kan afwissel deur die maand.

Ontbyt

Ons eet in die oggende hawermout, Wheatbix, Pronutro of meusli en yogurt en oor naweke lekker spek/worsies, eiers en roosterbrood.


Die ander ete van die dag is dan iets maklik maar steeds met verskeidenheid soos worsrolle, hamburgers, vis, varkworsies, eiers, baie vrugte, slaai en kouevleise.


Bestanddele vir die maand se etes
Bestanddele

Bestanddele vir die vooruit-gemaakte etes:

6kg maalvleis

28 hoender fillette

2kg “diced” of “cubed” spek


3kg pasta

2kg rys


12 uie

6 tamaties

1 brokkoli en 1 blomkool

1 kg gevriesde beet en butternut

1kg country crop gevriesde groente

1 kg gevriesde gemengde groente (ertjies, mielies, wortels en/of boontjies)


2 pakkies Royco sweet en sour sous

2 pakkies witsous

Kerrie volgens smaak

2 pakkies bruin uie sop

2 pakkies romerige hoendersop

250g kaas gerasper

Olyfolie vir uie en tamaties braai

Sout en peper volgens smaak

Gemengde kruie volgens smaak

1 pakkie veggie bake


(Ek het gevriesde groente gebruik om die opsny- en voorbereidingsproses makliker en vinniger te maak. Vars groente is natuurlik ‘n goedkoper opsie.)




Die proses:


  1. Skryf neer wat jy wil maak en wat jy benodig

  2. Koop alle bestandele

  3. Pak 25 bakke uit (Ek het meestal 2liter plastiek bakke gebruik)

  4. Kook die gemengde groente in water.

  5. Rooster die ander groente in ‘n oondpan met sout en peper en bietjie olyfolie in die oond.

  6. Sny al die uie en braai

  7. Sny al die tamaties en braai.

  8. Sny die vars brokkoli en blomkool en kook in water.

  9. Braai die bacon

  10. Verdeel die gebraaide uie in elke bak.

  11. Sodra die groente reg is, begin dit skep in jou bakke soos beplan vir jou disse.

  12. Sny tussendeur die hoender fillette in blokkies (my man het hiermee gehelp)

  13. Maak die maalvleis gaar

  14. Maak die hoender gaar( Ek het nie groot genoeg panne om al die vleis of pasta gelyk gaar te maak nie, so ek het dit in sarsies gedoen, my stoof het die heeltyd 4 plate aan gehad met die verskillende potte en panne op. Sodra iets klaar is, skep ek dit direk in die bakke soos beplan en sit die volgende kos op)

  15. Kook die pasta en rys.

  16. Maak souse aan. Ek het die soppoeiers gebruik om ekstra sous te maak of dit sommer gemeng met bv die witsous. (Elkeen kan hier kreatief wees en self besluit wat hulle verkies)

Ek het eerste die groente in elke bak geskep, daarna die vleis om dit mooi te kan verdeel, dan het ek die bak gevul met die stysel en laastens die souse bo oor gegooi.


Die kerrie en rys:

Ek het die groente in die onderskeie bakke geskep, maar toe die maalvleis vir die kerrie en rys apart gaar gemaak, daarna weer die groente by die vleis gesit en toe alles saam gekerrie en daarna weer verdeel in die bakke en rys laaste bo op geskep.


Jy kan besluit aan die einde of jy die gereg deurmekaar wil meng of in lagies los, Jy kan die verskillende elemente ook langs mekaar skep in die bakke.


Elke bak het sy deksel gekry met ‘n plakker op wat beskryf wat is in die bak.





Sit alles in die vrieskas!!


Elke oggend gaan kyk ek gou wat gaan ons eet vandag en haal my bak uit en laat ontvries, maak warm en skep in!

Hierdie proses en disse kan natuurlik baie maklik aangepas word, ander groente of vleis kan gebruik word of jy kan iets byvoeg soos ‘n slaai, ‘n broodjie, of net soos julle wil!!!


Natuurlik het ons in die maand dalk nog tussendeur ‘n braai of by vriende eet ensovoorts, daarom is die 25 etes heeltemal voldoende vir die maand.


Sover het daar elke keer nog omtrent 1 porsie oorgebly vir iemand wat baie honger is of vir die volgende dag.


Die kostes:

Kruideniers het so duur geword die afgelope tyd, dat hierdie een van ons beweegredes was om hierdie proses aan te pak! Ons het dus gekyk vir spesiale aanbiedinge, grootmaat aankope ensovoorts om ‘n paar Rand te spaar.


Vir die 25 etes het dit ons R1 480.76 gekos. Dit is dan gemiddeld R60 per ete of R15 per persoon per ete.

Die eenbak-geregte is dalk nie almal se smaak nie. Maar vir hierdie mamma met 2 kleuters en ‘n baba in die arms is hierdie werklik ‘n uitkoms!





Ek weet my gesin is versorg met lekker en gesonde kos en ‘n rustige, kalm ma wat meer tyd het vir speel, luister, gesels en doen saam met my kinders!!!

Ek en my man het hierdie uitdaging saam oorweeg en beplan. Ons het ooreengekom dat hy my met die groot kookdag een keer ‘n maand sal help (help met die kinders, help met die kos of sommer met enigiets wat nodig is daardie dag) en daardie aand braai hy vir ons, want dan is hierdie mamma se rug seer en haar gô is uit!!!


Dit het my 6ure geneem! (So dit is nie eintlik eers so lank nie..)


Volgende maand sal ek graag aartappels en pap wil uitprobeer asook bees kookvleis (Ek hou julle op hoogte!)


Ek daag jou uit om dit te probeer!! En ons deel binnekort foto's en terugvoer oor die etes.


Liefde Innecke


Laai die etes, bestandele en maak proses hieronder af!



Gevriesde etes, bestandele en proses
.pdf
Download PDF • 58KB






























lewer kommetar
bottom of page