top of page

My kinders is net vir ‘n rukkie klein



Dogtertjie wat hardloop

'n Passie

Op skool het my pa altyd vir my gevra: "Wat wil jy word my kind, wat is jou passie?"

Ek het regtig gesukkel met hierdie vraag… ek het vir baie jare nie ‘n passie gehad nie. Daar was niks wat ek met alle mag wou doen of bereik nie.


Dit beteken nie dat ek nie voluit gelewe en nogsteeds baie gedoen en bereik nie. Maar ek was nie ‘n musikant wat gedroom het om eendag voor duisende mense op te tree nie. Ek was nie ‘n sport fanatikus wat eendag aan die Olimpiese Spele wou deelneem nie. Ek het nie die absolute dryf gehad om ‘n dokter te word nie. Of die behoefte om eendag die beste prokureur of tandarts of haarkapper of juffrou te wees nie. Ek het nie ‘n idee gehad wat ek wil doen of bereik nie.


Onder leiding van my ouers het ek BCom Rek gaan studeer. Ek gedink ek wil dalk eendag ‘n GR word wat vir een van die groot 4 rekenmeesterfirmas in Suid Afrika gaan werk of selfs oorsee. Maar terwyl ek my studies voltooi het en selfs nadat ek begin werk het, het ek steeds nie daardie passie gevoel nie.

Toe verander alles

In 2017 is ons geseën met ‘n baba dogtertjie. Tydens die swangerskap het ek begin oplees en navorsing doen. Alles oor swanger-wees, mamma-wees, geboorte skenk, borsvoed en baba-grootmaak. Ek het hierdie onkeerbare drang gehad om alles oor hierdie groot gebeurtenis te weet en myself voor te berei.


Swangerskap en borsvoeding was en is steeds vir my die grootste wonderwerk. (Ek sal verder daaroor uitbrei op ‘n ander dag)


Op ‘n dag in 2017 het my hele lewe verander! ‘n Klein bondeltjie met ‘n bos hare, die liefste persoonlikheid en baie behoeftes het vir my die passie gegee waarna ek nog altyd gesoek het.


Ek het dadelik geweet mamma-wees is wat ek wil doen en wees elke dag. My passie is my kinders, my doel op hierdie aarde is mamma-wees en alles wat dit behels.

Ek het op daardie stadium half-dag gewerk en dit was die moeilikste en swaarste iets om my klein lyfie tuis (by haar pa) te los om te gaan werk na my kraamverlof.


Gelukkig was ek bevoorreg genoeg om na ‘n jaar my eie besigheid te kon begin en van die huis af te werk en dan voltyds mamma te wees tuis. (Baie dankbaar vir my Graad wat my in staat stel om dit te kon doen, dankie Mamma en Pappa!)

Daarna het nog twee kindertjies gevolg en is my hande en my hart elke dag vol.

Om ‘n tuisbly mamma te wees is vir my die grootste voorreg.


Ek weet daar is baie mamma’s wat wil werk en wat hul passie iewers anders vind. Om ‘n goeie mamma te wees het nie een resep nie. Elke huisgesin se omstandighede en behoeftes verskil.

Om elke dag by die huis te wees en my eerste prioriteit is my kinders, dit is my passie en my grootste seëning!

Dit beteken nie dat ek nie eendag as hul groter is dalk weer meer voltyds gaan werk nie. Maar nou terwyl hulle jonk is, is dit al wat ek wil doen en wees.


Ons lewens het verskillende fases. Daar was ‘n tyd wat studeer en werk belangrik was, nou is drie klein mensies die belangrikste en eendag is daar weer iets anders wat my aandag gaan verg.


Ek dink ook dat ons elkeen eerlik moet wees oor wat vir ons belangrik is en wat ons passie is.


Want om jou passie te volg beteken jy moet baie tyd daaraan spandeer en heel moontlik ander goed opgee daarvoor.

Voltyds mamma wees (nogsteeds met ‘n “side hustle”) 😉 gee egter vir my die geleentheid en tyd om ons gesin, huis en daaglikse roetine te prioritiseer.


Is dit al wat jy doen?

Nou die dag loop ek ‘n ou kennis raak wat saam met my op skool was en ons gesels sommer bietjie. Hy vra wat doen ek nou en ek verduidelik. Hy kyk my verbaas aan en met ‘n lag in sy stem sê hy: “Is dit al wat jy doen? “


Sy woorde het my laat wonder. Dit het my vir ‘n rukkie gepla en ek het selfs gedink dat ek ‘n mislukking is omdat ek nie meer doen nie of nie meer as dit wil hê nie.


Maar toe tref dit my weer dat ek my passie gevind het in dit wat ek het en hoe gelukkig en geseënd en tevrede ek is en dat ek God se vrede ervaar het toe ons die besluit geneem het dat dit is wat ons wil hê. En elke dag van mamma wees ervaar ek God se vrede (nie noodwendig vrede in ‘n huis met 3 onder 5 jaar nie). Nee vrede oor die keuses, vrede in die besluite, vrede in die klein dingetjies, vrede in die tyd saam, vrede in die versorging, vrede in die opofferings, vrede wat slegs deur God bewerkstellig word.


Later sal daar nog baie tyd wees vir ‘n beroep… maar Mamma-wees…dit is my passie!!!

Liefde Innecke



As van die hierdie artikel gehou het, lees gerus ook Karyna se artikel oor Seisoene van die lewe.







lewer kommetar
bottom of page