top of page

My taal smaak na sjokoladekoek

"OK, dis glad nie oraait om jou tale so te mix dat almal jou eerder wil ignore nie… Aikona! Get a grip! Make a choice! Stoppit om al die taalgeure so te mix dat jy eventually nie een ordentlik kan smaak nie!!"



Afrikaans smaak beter as ons dit suiwer praat...


Afrikaans is op 8 Mei 1925 as 'n amptelike taal erken. Afrikaans is tans een van die elf amptelike tale van Suid-Afrika en ook 'n belangrike taal van Namibië. Dit word, volgens 'n sensusopname in 2011, deur ongeveer 6,59 miljoen sprekers in Suid-Afrika gepraat.


Afrikaans is my taal. Afrikaans is ‘n mooi taal. Afrikaans is ‘n lekker taal. Suiwer Afrikaans smaak soos my ouma se soetkoekies. Dit smaak soos souskluitjies op ‘n Sondagmiddag. Suiwer Afrikaans smaak soos pampoenkoekies saam met frikadelle. Dit smaak soet – soos koeksisters en melktert op ‘n kerkbasaar.


Waarom bederf ons die smaak van Afrikaans met allerhande Engelse woorde tussenin? Afrikaans is mos deesdae cool en awesome en amazing.

Om jou taal te meng is dieselfde as sjokolade-eet saam met ‘n hand vol sand. Om jou taal te meng, is om die smaak daarvan so sleg te maak dat niemand later meer daarvan wil eet nie. Dat niemand meer Afrikaans kan of wil praat nie.



Die afgelope tyd is die media propvol berigte oor aanvalle op Afrikaans by universiteite en skole. Ons hoor gereeld “Afrikaans must fall!”

Afrikaans word soos ‘n bitter aalwyn uitgespoeg. Ons praat maar met ons kinders Engels want dis die wêreldtaal. Die taal van die toekoms! Ons leer maar in Engels. Ons stuur ons kinders na engelse skole.

Maar

Ek sê - Afrikaans is hier om te bly! ‘

En ander mense sê dit ook!

Volgens Alana Bailey van Afriforum, is Afrikaans een van die 150 grootste tale in die wêreld. Afrikaans word op universiteite in Rusland, Amerika, België, Nederland, Pole en ook ander lander geleer.


Prof. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad twyfel ook nie daaraan dat Afrikaans ‘n blink toekoms in ons land het nie. Maar, ons moet veg vir die toekoms van ons taal in Suid-Afrika. Sê sy. Ons moet ons taal suiwer praat. Ons moet lief wees vir ons taal en ander ook lief maak vir Afrikaans.


Ek weet dat ons nog lank die lekker smaak van Afrikaans op ons tonge gaan proe. Ons hoor gereeld van nuwe Afrikaanse films, daar is soveel jong Afrikaanse sangers. Ons het Kyknet, Maroela Media, Groot FM, Pretoria FM, RSG, FAK, ATKV. Selfs Showmax, die film- en reeksprogram saai Afrikaanse films en reekse uit. Die internet is propvol Afrikaanse webwerwe. Tussen 2008 en 2016 is 84 Afrikaanse rolprente uitgereik. Daar’s ‘n toekoms. Daar’s hoop!


Dan dink ek aan die woorde van Jan Lion Cachet se gedig: “Die AfrikaanseTaal”

“Ek is 'n arme Boerenôi, By vele min geag; Maar tog is ek van edel bloed, En van 'n hoog geslag.”



Ek lees in Afrikaans, ek dink in Afrikaans, ek lag in Afrikaans, ek kuier in Afrikaans, ek eet in afrikaans en ek bid in Afrikaans.

Jonges, kinders… die toekoms van Afrikaans is in ons hande. Ons moet Afrikaans met smaak praat. Ons moet Afrikaans smaak gee. Ons moet ‘n romerige, vingerlek-lekker sjokoladekoek Afrikaans praat. Net dan sal Afrikaans vir altyd lekker op die tong smaak!

Leer ‘n paar nuwe woorde. Verstaan hulle. Gebruik hulle. Rol hulle rond in jou mond en proe hoe lekker hulle smaak.


Stapelgek. Witbroodjie. Pypkan. Appeliefie. Katel. Smoelneuker. Japsnoet. Lekkerbek. Biltong. Braaivleis.

My hart klop in Afrikaans.

O, moedertaal,

O, soetste taal

Jou het ek lief bo alles


Ek smaak Afrikaans!! Want suiwer Afrikaans smaak soos sjokoladekoek...

lewer kommetar
bottom of page