top of page

‘n Nag in ongevalle

Daai klein lyfie gloei van die koors, sy asem roggel en hy huil met ‘n hees stemmetjie. Dis 2uur op ‘n Sondagoggend en ek jaag met my 3-maande oue baba na ons naaste ongevalle toe.


Met ‘n huilende siek baba moet ek ‘n duisend vorms invul. En dan moet ons sit en wag.

Ek voel magteloos.

My gedagtes draai terug na die ander twee kinders en hul pappa wat nou alleen tuis is. Pappa wat more oggend die verwarde kinders, wat sonder mamma gaan wakker word, moet troos en my hart pyn.


Hulle roep ons. Dankie tog, dis nou ons beurt.

Boetie het intussen aan die slaap geraak, maar nie vir lank nie. As die suster aan hom begin karring vir hartklop en suurstof en ore kyk dan begin die gehuil maar weer.


Okay, hy is siek. Volgende stap. Daar is nie tans ‘n bed vir ons nie, ons moet weer wag. (Dis nie asof ons regtig ‘n bed nodig het nie, ‘n siek baba wil net in mamma se arms wees)


Wag en nog wag...


Stilte om ons… maar binne in skreeu my hart van bekommernis, van angs, van onrustigheid, van hartseer.


Mevrou, daar is ‘n bed en dokter kom nou.


X-strale… suurstofpypies… ’n drup met medisyne… ligte wat heelaand brand …’n harde stoel…en ‘n alewige gepiep van masjiene…


Mevrou, hy is ernstig siek, ons gaan hom opneem en hy gaan ten minste nog 4 nagte moet bly. (Vanselfsprekend gaan ek dan saam met hom bly)


My hart gee ‘n ruk, want wat van my gesin, my huis, ons tuiste vol harte wat my nodig het?


Die trane begin rol, van vrees vir my klein lyfie, vir bekommernis oor die ander twee lyfies tuis en van moedeloosheid omdat ek geen beheer oor hierdie situasie het nie.


In ons nuwe kamer, huil baba nogsteeds. Die mamma langsaan wat moeg langs haar 3 jarige se bed sit en waghou, vra of sy vir ons kan kom bid.


"Ja asseblief!" Sê ek.

Kort na haar gebed begin baba bedaar. Soos ‘n warm kombers omvou die dankbaarheid my.


In daardie huilende, vreesaanjaende, buite-beheer oomblik, het ek ‘n ander mamma se geloofsvertroue en hoop in gebed tot die HERE so nodig gehad. Ek besef die Here het geweet ek is so vasgevang in my eie nare omstandighede, dat ek, in my eie menslike swakheid nie eers daaraan gedink het om in daardie oomblik te bid nie. Hy het haar gestuur, sy wat met haar eie uitdagende omstandighede sit, wat tien teen een net soos ek voel, sy wat haar kind vir ‘n oomblik verlaat om by my te kom sit, my hand vas te hou en vir my en my baba te bid. En natuurlik, die Here luister.


In hierdie geloofsgemeenskap (met 'n vreemdeling, wat tog my suster is) het ons die hoop op die verhoring van elkeen van ons smeekbede want in die gebed van hulle wat regverdig is in ons Here Jesus is daar krag.


En dan tel ek my foon (die tegnologie kan nogals handig wees) op en lees Psalm 23 en my hart word rustig. Vir myself, my baba en my huis.

Want Hy is my herder en niks sal my ontbreek nie, selfs te midde van 'n wankelende, donker gemoed lei Hy my siel op 'n plek waar daar vrede is.

Ek raak aan die slaap met my klein warm lyfie in my arms en die Here wat oor ons waak.


Na min slaap op ‘n ongemaklike stoel met ‘n seer nek word ek wakker met ‘n foon vol boodskappe. Alles van geliefdes en vriende wat aan ons dink, hulp aanbied en vir ons bid. Geseën met soveel wonderlike mense in ons lewens


Daai kombers van dankbaarheid lê knus en warm om my. Dankbaar vir ‘n vreemdeling se gebed, vir vriende se tyd en hulp, geliefdes se omgee en bowenal vir God se genade en liefde!
lewer kommetar
bottom of page