'n Onproduktiewe ma...
Ek onthou die dag toe my man by die huis kom en ek in trane vir hom sê: "Ek het vandag absoluut NIKS gedoen gekry nie. Ek voel so onproduktief!"
Baie verbaas antwoord hy my toe:
"My vrou, jy het 5 kinders aan die lewe gehou. Weet jy hoe baie het jy gedoen?"
As 'n ma voel ek baiemaal regtig onproduktief. Want al was die huis iewers deur die dag skoon, is hy alweer vuil. Al was daar iewers deur die dag geen vuil klere nie, is daar alweer 'n hele hoop wasgoed. Al het die skottelgoedwasser meer as een keer sy kant gebring, is daar alweer vuil skottelgoed! En dan praat ek nie eers van die boodskappe wat nie beantwoord is nie en die ellelange te-doenlysie wat nie afgetiek is nie!
Die regte antwoord
En ek weet die regte antwoord op my moedelose klaagrede is: "Jy doen baie as 'n ma. Jy sorg vir die kinders, jy ry hulle rond, jy is besig om hulle groot te maak. Dis belangrike werk". Maar hierdie antwoord laat my steeds nie "produktief" voel nie. Al is die huishouding soms redelik onder beheer. Al het ek almal se broodjies vir skool ingepak of die klere vir die fotodag onthou of die vrywaringsvorm vir die skool ingevul. 'n Mens kom net nooit voor nie. As jy kinders grootmaak en 'n huishouding aan die gang probeer hou, is daar altyd maar weer iets wat jy moet doen.
NIKS KRY OOIT END NIE!!!
Totdat mens begin dink oor jou "werk", jou roeping en jou doel in die lewe.
Vra die Here regtig van my om "produktief" te wees? Vra Hy regtig van my "om dinge gedoen te kry"? Om my lysie af te tiek en 'n sug van verligting te slaak as die dag verby is?
Of roep Hy my om my tyd goed te bestee ?(Efesiërs 5:16)
Of is Sy wil vir my nie dalk om te groei in heiligmaking nie? (Levitikus 11:44)
En is Sy doel vir my lewe nie dalk om Hom te verheerlik nie? (1 Korinthiërs 6:20)
En my roeping as mamma, is dit nie dalk om dissipels te maak van die klein mensies in my huis nie? Om die kindertjies na Jesus te lei nie? (Lukas 18:16)
Dinge moet gedoen word
Ons kan nie verby die feit kom dat dinge wel gedoen moet word nie. Die klere moet gewas word, die huis moet skoongemaak word, die inkopies moet gedoen word, die kos moet gemaak word. Maar al hierdie dinge is nie ons einddoel nie. Regmerkies agter elke item op my lysie is nie die doel van my lewe nie. Dit is slegs die middel tot 'n doel. Dit is die trapklippies wat my help om by my doel uit te kom. As daar nie kos gemaak is nie, kan ek nie my kinders van die Here leer nie. As die huis deurmekaar en vuil is, kan ons nie huisgodsdiens hou nie. As ons nie by 'n slaaptydroetine hou nie, is almal moeg en bakleierig die volgende dag. Maar al hierdie dinge wat ek "moet doen" is deel van 'n groter doel.
Maar wat is die doel van my moederskap dan?
Dit is 'n geldige vraag. Het jy al ooit gedink oor jou doel as ma? Waarvoor roep die Here jou nou eintlik as Hy jou roep om 'n ma te wees? Want jy is nie sommer net per ongeluk 'n ma nie. Jy is geroep om 'n ma vir jou kinders en 'n vrou vir jou man te wees.
Ek moet bieg, ek raak gereeld moedeloos en dink: "Is dit nou dit? Is daar nie meer aan die lewe as doeke ruil en snotneuse afvee, toebroodjies pak en kinders rondry nie. Ek wil nie hierdie onbelangrike dinge doen nie. Ek wil eerder die wêreld verander! Ek het soveel gawes, soveel potensiaal. As die kinders my net wil kans gee om iets gedoen te kry. As ek net nie nou moes boeke oortrek of 'n bakleiery uitsorteer of elke twee minute water ingooi nie...".
Dan moet ek myself weer herinner: Ek is besig om die wêreld te verander - een kind op 'n slag. Een pleister, een doekruil, een verjaarsdagkoek, een trane afvee, een bord kos, een leesboekie, een troos, een drukkie, een glasie water ingooi op 'n slag!
Ons leer so mooi die voorbeeld by ons Here Jesus. Hy het net 12 dissipels gekies en hulle in diepte geleer. Hulle het saam met Hom gelewe, geëet, gestap, gebid. En dan het Hy hulle so deur die loop van die dag en die lewe alles geleer wat hulle moet weet. En aan die einde van Sy lewe hier op aarde het Hy gesê:
Joh 17:4: "Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.
Die Here kies jou, mamma. Om dissipels te maak van die kindertjies in jou huis (Mat 28:19). Om die kindertjies na Hom toe te bring (Markus 10:14). Want wie sal dit doen as JY dit nie doen nie? Sal jy ook vir die Here kan sê: "Die werk wat U my gegee het hier op aarde, het ek klaargemaak"
Neuse afvee, doeke ruil, stryery uitsorteer, troos, water vir ñ dors kind ingooi en kosblikke pak is nie dinge wat jou "uit jou werk uit hou nie". Dit IS jou werk. Werk wat deur die Here vir jou gegee is. Dit is deel van jou roeping. En daar is spesifieke goed wat niemand anders vir jou kinders en jou man kan doen nie. Die Here het jou geroep om dit te doen.
Dit is 'n wonderlike voorreg en eer en belangrike taak wat jy ontvang het, mamma! Dis seker die belangrikste taak wat jy ooit sal ontvang. Mag jy jouself voortdurend daaraan herinner en mag jy elke oomblik van jou roeping as ma koester en geniet!!
Liefde
Karyna