top of page

Oefenskoene verhoog jou produktiwiteit

Nooit in my lewe het ek gedink dat ek raad sal uitdeel om "meer produktief" te wees nie. Want alles wat nodig is om "goed gedoen te kry", sukkel ek mee!!


Ek sukkel:

  • om by 'n roetine te hou

  • om vooruit te beplan en verder as netnou se ete te dink

  • om 'n basiese struktuur uit te werk en daarby te hou

  • om te konsentreer en om te fokus op een taak

  • om te bly by dit wat ek beplan het (as ek wel die dag beplan het)

  • om 'n benul van tyd te behou

  • om nie heeltyd uit te stel nie

  • om nie dinge vir die laaste nippertjie te los nie

Ek sukkel BAIE met linkerbrein-dinge!! En ongelukkig het mens daardie gestruktureerde, georganiseerde denke nodig as jy enigsins wil hê jou gesin moet skoon klere hê om aan te trek. Of as jy wil hê hulle moet betyds eet en nie heeltyd in jou ore neuel omdat hulle honger is terwyl jy eintlik besig is om kos te maak nie (ek weet, die kos moes eintlik al klaar gewees het.... dan sou hulle nie so gekla het nie).


'n Mens het linkerbreindenke nodig as jy wil hê jou begroting moet klop (as jy wel 'n begroting opgestel het), as jy nie die oggend wil spook en spartel om voor skool gou boetie se boek oor te trek wat eintlik Maandag al oorgetrek moes wees nie. Of as jy net 'n basiese netjiese huis en uitgesorteerde lewe wil hê....


Ek erken, vir sommige mense kom dit makliker! Ek het al vrede gemaak. Ek het ander gawes.


Maar ek troos my hieraan: darem is ek kreatief... So, ek deel graag my plan om meer gedoen te kry in en rondom die huis.

Ek trek my tekkies aan!

Dit werk regtig. Wanneer ek my tekkies aantrek, kry ek baie meer gedoen!


Hier is so paar redes waarom ek met tekkies aan werk:


As ek my tekkies aanhet beweeg ek gemaklik. Ek kan letterlik vinniger van punt A na punt B beweeg. Soms draf ek sommer met die wasgoedmandjie in die huis rond. Tekkies is gemakliker en ligter om in rond te beweeg.


Ek voel nie die krummels en allerhande ander goed op die kombuisvloer aan my voete vassit nie (want as dit gebeur, voel ek nog meer moedeloos). Dit help ook as mens gou moet uitgaan om klere op te hang of die asblik uit te vat. As jy reeds jou tekkies aanhet, kan jy makliker oor die klippies, sand en sement beweeg.


Tekkies sê: trek op jou sokkies

As ek my tekkies aantrek, word die gedeelte van my brein wakker wat sê: "nou moet jy uithaal en wys" want ek assosieer tekkies met oefen, hard werk, aktief wees. Omdat mens tradisioneel oefenskoene assosieer met oefen en produktiwiteit, veroorsaak tekkies aan jou voete dat jy dan ook meer produktief voel en optree. Dus trek ek my tekkies aan as ek myself wil motiveer.


Kaalvoet laat my te veel ontspan

Wanneer ek kaalvoet of in my pantoffels rondloop, voel ek meer ontspanne en in 'n "vakansie-luim". Dit veroorsaak dat ek nie regtig lus het vir uitdagende take soos skoonmaak, kosmaak ens. nie. Daarom hou ek my skoene aan my voete as ek tuiskom nadat ek geoefen het.


Tekkies is my uiterlike sneller

My deurmekaar, ADHD brein, wat sukkel met uitvoerende-funksie vaardighede (executive function), is geneig om ALLES uit te stel tot later of myself "in die rede te val met werkies". Ek het nie 'n innerlike taak-aansitknoppie, soos ander mense vir wie dit natuurlik kom nie. Ek vergeet waarmee is ek besig of ek vergeet sommer heeltemal om te begin. Daarom moet ek aansitknoppies buite my brein gebruik. (Ek sal later bietjie meer hieroor skryf, veral by kinders). So, tekkies aan my voete herinner my dat ek eintlik besig is om huis skoon te maak. Dit herinner my ook dat ek moet begin met die wasgoed, skottelgoed, uitvee ens. Juis omdat ek dit kan voel en kan sien aan my voete.


Ek besef juis nou, terwyl ek hier sit en tik, ek het my tekkies aan! So, ek gaan nou eers huis skoonmaak!!







lewer kommetar
bottom of page