Oggend- en aandroetine vir kleuters
Kleuters en peuters hou van self doen. Van hul eerste woorde is gewoonlik myne en self. Hulle wil alles probeer en hulle moet probeer, want dis hoe hulle leer! Maar baie keer lei die self-doen tot ‘n gemors of frustrasies of dit neem ekstra lank… die uiteinde is baie keer ‘n “power struggle”. Mamma is haastig of wil help of besef dat hulle dit definitief nie self gaan kan doen nie, maar hulle wil! En dan word dit ‘n gehuil en ‘n klein lyfie verstaan glad nie hierdie emosies en frustrasies wat hulle beleef of hoe om dit te hanteer nie.
Toe ons oudste begin kleuterskool toe gaan, het ek besluit om vir haar ‘n oggend en ‘n aand roetine op te stel met prentjies wat sy self kan volg.

Ek het ook agtergekom dat sy graag in beheer wil voel en dat sy ook graag self keuses wil maak.
Maar hoe hanteer of beheer ons as ouers dit? Hoeveel vryheid of keuses gee jy vir ‘n 3 jarige en wanneer tree jy in?
Die Engelse sêding is: “Choose your battles.”
Wil jy regtig voor skool baklei oor ‘n blou of rooi baadjie? Of dalk in watter volgorde kouse aangetrek word?
Daar is goed wat MOET gebeur en dan is daar dinge waar jy ‘n bietjie meer vryheid of keuses kan gee. En daardie vryheid en keuses maak die wêreld se verskil aan daardie klein lyfie wat graag self wil probeer!

Ek het dus 'n roetine gemaak met prentjies vir die oggend en aand. Uitgedruk en op die muur geplak! Dan weet ons almal wat alles gedoen moet word en min of meer in watter volgorde.
Hulle kan self op die prentjies kyk wat volgende gebeur en dit gee hulle ook ‘n idee van hoe baie dinge daar nog moet gebeur. As Mamma dan sê maak gou, verstaan hul so bietjie beter want daar is nog 5 (prentjies) dinge wat gedoen moet word.
Dan het ek ook besluit dat ek vooraf twee stelle klere uitsit van kop tot toon waarvan sussie kan kies. Sy besluit dus self wat sy wil aantrek maar net uit twee opsies. Dit gaan baie vinniger en is minder oorweldigend as ‘n hele kas waarvan sy wil kies. Dit help ook dat sy darem nie soos ‘n deurmekaar hoender lyk nie…
Dan het ek prentjies met verskillende doenbare haarstyle waarvan sy kan kies, vlegsels, poniesterte, bollas ensovoorts. Sy kan ook self die rekkies en knippies kies. Haar hare word gekam maar sy voel dat sy self kies.
Laastens het ons belê in elektriese tandeborsels. Hulle kan self borsel maar dit is baie meer effektief as wat ‘n kleuter met ‘n gewone tandeborsel self probeer om by al die tande uit te kom. Die koordinasie van borsel op elke tand, bo, onder, voor en agter ontbreek nog, maar met die elektriese tandeborsel hoef hul dit net stil op elke tandjie te hou. Dit help ook dat hul dit self kan doen en gee my 5 minute om my eie tande te borsel…
Hierdie is maar net voorbeelde van hoe om vir jou kleuter keuses te gee, kans te gee om te help sodat hul deel voel van die proses en daarom makliker saam werk en doen!
Met dié vryheid van besluite leer hulle ook verantwoordelikheid, ‘n bietjie tydsbestuur en ‘n pligsbesef.
Kinders floreer binne grense waar hulle veilig voel. Stel daardie grense op, maar gee vir hul die vryheid om binne hierdie grense te leer en te groei!
Laai ons roetine prentjie hieronder af...