Voltydse mamma-seisoen
Ek het eenkeer in 'n Kinderkinetikales met die tema "seisoene" vir die 4jariges gevra: "Wat is 'n seisoen?" Die een seuntjie sit sy handjie toe so op sy wangetjie en sê:
"Tannie, dis as 'n dogtertjie jou op die wang soen". Sy soen jou!
So het ons lewens ook seisoene. Tye wat kom en tye wat gaan. Ons dien ook 'n God van orde. Hy het sekere ritmes en roetines met 'n rede geskep. Ek staan gereeld verstom oor hoe ek stry teen hierdie natuurlike seisoensverandering.
Net soos seisoene noodsaaklik is vir groei om plaas te vind, moet ons ook elke seisoenale veranderinge in ons lewens aanvaar en koester.
En so het die tyd toe ook vir my in 2021 aangebreek om na 9 jaar van my eie besigheid (Kinderkinetika praktyk) hierdie seisoen van mamma-vrou-beroepsvrou vaarwel te roep. Dit was 'n seisoen waar ek my groot liefde, die ontwikkeling van kinders, ten volle uitgeleef het. Toe het die seisoen aangebreek om my energie en aandag ten volle aan my kinders (en man) te gee.
En as ek sien hoe lank ek al probeer om hierdie plasing klaar te skryf, bevestig dit dat ek die regte besluit geneem het. Ek probeer nou al 'n uur skryf terwyl ek al 'n doek geruil het, die 1jarige in die bed gaan sit het, 2 boeties gekeer het om mekaar met 'n raket skade aan te rig, moes luister wat in my dogtertjie se storieboek gebeur het, toebroodjies gemaak het en water ingegooi het.... Ek het ook al die tou gesoek om 'n pyl-en-boog mee te maak, potlode skerpgemaak, weer die jongste op my skoot getel en ....
Ek is ontsettend dankbaar dat ek nou al vir amper 2 jaar "net 'n mamma" kan wees. En as mense my vra: "So, werk jy nou glad nie meer nie?" is my antwoord gewoonlik:
Ek werk baie harder as altyd, ek word net nie meer vir my werk betaal nie!
Maar eintlik is die betaling soveel meer. Die betaling is tye wat ons kan boekies lees in plaas daarvan om kinders stil te maak sodat mamma net gou die oproep kan neem. Die betaling is saam kosmaak eerder as om gou stop en iets vir aandete koop (want as jy ophou werk is die fondse vir aandete koop ook redelik uitgeput). Die betaling is ook die feit dat my hart en gedagtes by my kinders, by my man en by die Here is, waar dit in die verlede heeltyd by my besigheid en hope werk, e-posse en verslae wat lê en wag, was.
So, ek is nou in die seisoen waar ek voltyds snotneus-soene op die wang kry van moeggespeelde kinders. Ek het ook die voorreg om voltyds ons huis vir ons lekker te kan inrig, maaltye te kan beplan soos ons daarvan hou en alles probeer klaarkry voordat die kinders van die skool af kom. Ek is bevoorreg om voltyds agter kinders en hulle aktiwiteite te kan aanry, siek kinders self by die skool te gaan haal die oomblik as juffrou bel en om te kan help as die skool vra "is daar dalk 'n mamma wat kan help met..."
Ek kan ook voltyds huiswerk doen, kinders rondry, die huis skoonhou, klere was, almal se magies volhou, aan almal se ek-wil-die-blou-bordjie-hê versoeke voldoen, en almal se hartjies gelukkig hou en pleisters plak as die knieë nerfaf is. Ek is verseker nie in die seisoen van nuwe meubels, nuwe klere, duur vakansies en ander bederfies nie. Hierdie seisoen word wel gekenmerk deur die sorg en voorsiening van die Here. Deur vrede, vergenoegdheid en 'n waardering vir die klein dinge.
Ek is dus amptelik 'n voltydse mamma. Dit is 'n reuse werk maar ek weet dit is 'n belangrike werk. Dit is nou die seisoen vir plant sodat my kindertjies kan groei tot volwaardige burgers van die samelewing wat weer hulle eie skoene kan volstaan en die Here kan dien met hulle gawes. As ek hierdie seisoen 'n naam moet gee, sal die Lente wees. Want daar is so baie groeiwerk (by my en my kinders) wat moet gebeur. Dit is ook 'n opwindende seisoen waar mens na die winter lus het vir lewe, spring, groei en hardloop. Daar is ook 'n vooruitsig van 'n somer wat voorlê nadat die kinders gegroei het soos wat hulle moet. Dan sal ek weer probeer om 'n voltydse iets-anders-as-'n-mamma te wees!
Geniet die seisoen waarin jy nou is!
Liefde Karyna (met 'n kleintjie op my skoot)
Vrae wat mense vra as hulle hoor jy het ophou werk (en my antwoorde):
V - So, werk jy nou glad nie meer nie?
A - Ek werk eintlik harder as altyd, ek word net nie meer betaal vir my werk nie....
V - Waarmee hou jy jouself besig?
A - Ag, eintlik maar net met onbenullighede - ek ry maar net die kinders rond en maak die kos en was die klere en maak die huis skoon en beplan die maaltye en lees stories en praat met mense soos jy...