top of page

Siek kinders is nie kinderspeletjies nie

Ek sê altyd ek vat eerder vyf siek kinders as een siek man....

Maar hierdie rondte het ek van deuntjie verander. 'n Ma se gemoed, begroting en sonder-slaap drempel kan ook net soveel vat.... Maar ek dink die ding wat my die meeste vang is die besluite wat heeltyd geneem moet word. Moet ek hom skool toe stuur of nie? Is die kind siek genoeg om dokter toe te gaan? Kry hy asem? Is hy warm? En in ons huis met 5 kinders - watter van hulle is die siekste want mens kan nie altyd al 5 dokter toe vat nie.


Eers lê jy mos heelnag wakker en voel skuldig omdat jy hom toe nie vandag dokter toe gevat het nie. Iewers deur die nag besluit jy dat jy net more 'n afspraak gaan maak. More oggend gaan dit beter en hardloop hy rond asof niks fout is nie. Dan besluit jy maar teen die doktersafspraak. Maar vanaand....


Wanneer jy dan wel by die dokter kom, is die kind al oor die ergste en amper gesond. Of jy hoor "hierdie kind is baie siek". En alhoewel die dokter dit nie in soveel woorde sê nie, hoor jy: "Hoekom bring jy hom nou eers?"


En dan, wanneer hy die volgende rondte weer siek is vat jy hom sommer dadelik dokter toe. Want jy wil mos nie weer soos 'n onverantwoordelike ouer voel wat nie betyds haar kind by die dokter uitkry nie. En na daardie afspraak gaan jy huis toe met vitamines en Panado en geen diagnose. En ook die gevoel dat jy eintlik die dokter se tyd en jou geld gemors het...


Dit alles laat my elke keer onwillekeurig vra: "Waarom word hulle siek? Hoekom moet ons so sukkel?" En as hulle weer gesond is, vergeet ek om dankbaar te wees vir gesondheid. Want ek aanvaar sommer dat my kinders altyd gesond moet wees. En raak dan moedeloos as hulle siek word.


Maar siek word is deel van hierdie lewe. En dis alles te wyte aan die sondeval. En ons almal is vol sonde, of ons nou op hierdie oomblik fisiek siek is of nie. Ons is siek van die sonde en ons het 'n Geneesheer nodig. Johannes1:8 sê: "As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie."


As die kinders (en hulle ouers) siek word, herinner dit my elke keer daaraan dat ons eintlik siek is van sonde as gevolg van die sondeval. My kind se siekte is nie noodwendig die direkte gevolg van my spesifieke sonde of my kind se spesifieke sonde nie. Ons lees hieroor in Johannes 9. Die dissipels vra vir Jesus of 'n kind blind gebore is omdat hy of sy ouers gesondig het. Dan antwoord Jesus hulle: "Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word." 


Ons het sonde. En ons is heeltemal tot die dood toe besmet en siek van sonde. Ons het Jesus Christus nodig om ons skoon te was en gesond te maak. En die wonderlike troos is dat hy ons nie net tydelik gesond maak nie maar heeltemal genees van ons sonde sodat ons ewig kan lewe op die nuwe aarde. En daarom is ek lydsaam in siekte.


Jesaja 1: 18 sê: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. "


En wanneer ek deur die nag met 'n vuurwarm koorslyfie langs my in die bed luister hoe die siek kinders in 'n koor hoes. En wag dat die son moet opkom sodat ek hulle dokter toe kan vat. En die angs en kommer my wil oorval, dan probeer ek my sondige gedagtes gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus soos wat ons in 2 Korinthiërs 10:6 lees. Ek probeer dink aan Sy beloftes.



  • Hebreërs 13:5b  "want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie."

  • Psalm 147:3  "Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde."

  • Psalm 30:3  "HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak. "

  • Psalm 41:4  "Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is."

  • Psalm 121:2  "My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het."

En daardie nagtelike gebede is nie 'n moedelose, laaste uitweg van "Maak asb my kinders gesond nie". Dit is eerder 'n erkenning dat God in beheer is en vir hulle wat God liefhet, alles ten goede laat meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is (Romeine 8:28). So, selfs hierdie beproewing van min slaap, hoesende kinders, mediese onkoste en wakker lê in die nag sal ten goede meewerk. Al sien ek dit nie nou in my benoudheid nie, sal ek eendag sien waarom kinders siek word.


So, laat ons elke keer wanneer ons vir die Here vra: "Maak asb hierdie kind van my gesond" ook vra: "Maak my (en my kind) asb gesond van die sonde wat ons elke dag doen." Jakobus 5:15 herinner ons: "En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word."


Ons siekte en lyding is eintlik 'n herinnering dat ons deurvlek is met sonde en vir Christus nodig het. Nie net om ons nou gesond te maak nie, maar veral van ons sondes te verlos. Want vir die gelowige is die lewe Christus en die sterwe wins (Filippense 1:2). Die troos is dat ons die Here mag vra om ons of ons kinders gesond te maak.

Jakobus 1:6  "Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. 


En ons moet bid sonder twyfel. En hierdie "sonder twyfel" is nie noodwendig die twyfel dat my kind dalk nie gesond sal word nie. Dit is nie 'n "bid net hard genoeg en glo net genoeg dan sal hulle gesond word nie". Want die Here maak nie mense gesond op grond van ons geloof of ongeloof nie. Die twyfel wat Jakobus hier van praat, is die twyfel oor wie God is. Ons mag nie twyfel dat hy God is nie. En, al maak hy nie my kind gesond nie (want dit kan ook gebeur), bly Hy ons liefdevolle Vader. Bly Hy God wat in beheer is van alle dinge en daaraan mag ek nie twyfel nie. Ek moet nie twyfel dat hy my sal dra deur moeilike tye nie.


En dan, wanneer die medisyne wel begin werk en die hoesertjies sonder snotneusies perdfris en gesond rondhardloop. En jy eintlik bly is dat hulle stoute en wilde dinge aanvang (want dit beteken darem hulle is weer gesond). Staan dan 'n oomblik stil. Waardeer hulle en waardeer hulle gesonheid. Sê vir die Here dankie vir gesondheid. En dat hy wel genesing skenk.


Siekte laat ons weer gesondheid waardeer. Dit dwing ons weer om te herbesin oor ons lewe. Siekte laat ons uitsien na die nuwe aarde waar daar nie meer siekte en swaarkry sal wees nie. En dit dwing ons om tot God te roep soos Dawid in Psalm 86:7  "In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my. "


Mag siekte ons leer om in teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar te wees.







lewer kommetar
bottom of page