top of page

Tel jou seëninge.




Ek is geseënd.


God ons Vader, U seën my elke dag. 


Ek sit vanoggend agter in ons bus (een van ons seëninge), ons is oppad terug huis toe van ‘n lekker see vakansie (nog ‘n seëning) by my ouers (natuurlik nog een)


Voor ons vertrek het Pappa vir ons gebid, om dankie te sê vir die lekker vakansie en ook om te vra dat ons veilig sal ry. 


Terwyl ons in die donker ry, met drie slapende lyfies hier rondom my, voel ek so bietjie benoud, my angstigheid steek kop uit en ‘n klomp nare scenarios van ongelukke en wat-as-oomblikke flits deur my gedagtes. 


Dadelik begin ek weer bid dat ons veilig sal ry. Maar dan voel ek sommer skuldig, bid om net te vra voel nie reg nie, ek moet dank en bely ook. 


Die vinnig bid help nie dadelik vir my angstigheid nie. Maar ek het al geleer wat help wel. Ek moet my gedagtes daadwerklik rig op God en alles wat goed is en dat Hy in beheer is. 


Kolossense 3:2 “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,”
‭‭Filippense 4:6 “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Filippense 4:8 “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”

‭‭

2 Tessalonisense 3:5 “Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus!”

Ek fokus dus om dankie te sê vir alles wat ek ontvang het. Ek begin letterlik my seëninge tel. 


Dankie vir die wonderlike man wat U vir my gegee het. 

Dankie vir drie pragtige kinders. 

Dankie dat U aan ons geloof geskenk het. 

Dankie dat ons U kinders kan wees. 

Dankie vir die voorreg om met vakansie te kon gaan. 

Dankie vir Ouma’s en Oupa’s in ons lewens. 

Dankie vir gebed, Here.

Dankie vir U genade.

Dankie vir alles wat ons het. 


So vloei die een dankie oor in die volgende. As ek eers begin fokus op al die seëninge in my lewe dan kan ek nie ophou nie, want as ek aan een dink dan kom daar sommer nog tien in my gedagtes op. 


Nou skiet my oë sommer vol trane. “Happy tears“ juis van al die seëninge. 


Saam met die besef van hoeveel ek ontvang het, dink ek onwillekeurig aan hoe maklik ek dit alles kan verloor en probeer die vrees weer kop uitsteek.


Maar hierdie keer kan ek bid dat alles wat ek ontvang het van U af kom en steeds in U hand is. Dan gee ek alles wat ek het vir die Here en vertrou ek op Hom en vra dat Sy wil sal geskied. 


Spreuke 1:33 “maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie.””

Hierdie keer verdwyn die angstigheid vinnig. Want ek het al my kosbaarste seëninge in Sy hande gelos. 


My volgende gevoel is skuldigheid.  Kyk wat het ek alles, en niks daarvan het ek verdien nie, inteendeel, en dan vra ek nóg van Hom,  wat hemel en aarde geskep het. 


Hoekom ontvang ek al hierdie seëninge? Hoekom bemoei Hy Hom met my? 

Hoekom sal Hy ons beskerm? 

Hoekom sal Hy my gebed verhoor? 


Ek is nie waardig van Sy liefde nie. 

Ek is nie waardig van Sy beskerming nie. 

Ek is nie waardig van Sy seëninge nie. 


Ek bely my sonde en weet dat ek steeds faal in so baie aspekte. 


Maar tog ontvang ek so baie. 


Hy het ons uitverkies, ek en my gesin, ons is Sy kinders en daarom is ons waardig.

Nie vanuit iets wat ons gedoen het nie. Maar vanuit Sy liefde en genade. 


Romeine 11 vers 6 sê: “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie.”

My hart bedaar, ek ervaar Sy vrede,  want ek weet, alles is in Sy hand en Hy weet die beste vir my, my man en ons kinders. Hy weet wat is ons elkeen se pad. 


Filippense 4:7 “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ek vra met meer vrymoedigheid… beskerm ons op die pad Here, nou op hierdie pad huis toe maar ook op ons elkeen se lewenspad. En as dit U wil is, skenk ons as gesin baie jare saam. 


Johannes 17 vers 9: ”Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U my gegee het, omdat hulle aan U behoort.” 

Gebed is kragtig!


Ek begin sommer weer my seëninge tel… daar is so baie! 


Gelukkig is dit nog ‘n lang pad huis toe. 


Amen 


“Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.”
‭‭HANDELINGE‬ ‭20:32‬ ‭

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.”
‭‭EFESIËRS‬ ‭1:3‬ ‭

lewer kommetar
bottom of page