“Terrible two’s” of te oulik vir woorde…?
As iemand vir my vra of ons nuwe baba my besig hou, dan is my antwoord altyd dieselfde: Nee, glad nie, die baba hou ons nie besig nie, ons 2 jarige hou ons besig...
Om 'n baba groot te maak, is uitdagend, maar dit kom nie naby die "terrible two's" nie.
Ons tweejarige is besig.... baie baie besig! Hy wil alles self doen, alles is syne en deel is 'n moeilike konsep. Gryp en stoot is sy gunsteling aksies en wie sou kon raai dat hy en sy sussie elke 10minute oor iets anders kan stry en baklei ... hulle gunsteling woorde is "los, ek, myne en self..."
Ek weet baie ouers weet nou presies waarvan ek praat. 'n Tweejarige toets die grense, hulle daag gesag uit en hulle dink die wêreld draai om hulle.
'n Peuter is presies wat jy is, want jy peuter aan alles en voor ek kan sê nee, moenie of pasop, dan sien ek al daai skelm lag in jou oë, want jy weet jy is besig om 'n karnallie te wees!!!!
“Met geduld kan iemand in 'n magsposisie tot ander insigte gebring word; met 'n versigtige benadering word weerstand afgebreek.”
SPREUKE 25:15
As mamma soek ek gereeld vir daai geduld en ek wonder wanneer word daai weerstand afgebreek...?(sug)
Maar dan...
Dan kry ek 'n duisend nat soentjies.
Ek hoor hoe hy begin ...'blief' en ...'kie' (asseblief en dankie) sê.
Hy sê natuurlik sommer ook vir elke tannie met grys hare: "Ouma".
As hy val en ek vra: "is jy okay?" Dan antwoord hy: "My okay"
Elke dag is daar nuwe woorde en sinne wat ek probeer ontsyfer.
Hy probeer alles self doen terwyl hy oor en oor sê: myself, myself. En elke dag kry hy dit meer en meer self reg en het my minder nodig.
As ek sê: "hallo baba", dan antwoord hy: "nee mamma ek grooooot."
As dit slaaptyd is en hy kyk ernstig op en vra met 'n vingertjie in die lug ... "net nog een boekie mamma..?" Wie kan dan nee sê?
Of as ons bid en hy sê: "ek bid"...dan maak hy sy ogies styf toe en sê net: "Amen"
Of in die kerk as hy saam met elke Psalm uit volle bors sing: "Aaaahaaamen , Aaahaamen, Aaaamen..."
Die 1000 keer wat hy sê: "Mamma kyk, mamma kyk!"
Wanneer dit slaaptyd is en hy sy kop styf teen my druk en my styf om die nek gryp en vashou...
Hoe hy elke dag saam met sussie stap tot by haar klas, haar druk en groet !!
Hoe hy die baba saggies op sy kop soen .
Die lekker lag en giggel as ons jagertjie speel.
Die brrrrmmm bygeluide as hy met sy karretjies speel
Selfs die voete stamp en mond opblaas..
Die onskuld
Die waagmoed
Die onvoorwaardelike liefde
Die afhanklikheid
Die selfvertroue
Die liefdevolheid
Dierbaar, dit is wat die tannies dit noem.
Ek weet hierdie klein goedjies sien ek nie altyd raak nie. Maar as ek terug kyk is dit wat ek wil onthou... die "two's" is nie eintlik so "terrible" nie. Dis eintlik die oulikste fase..te dierbaar, te kostelik vir woorde!
Hy groei en leer en ontwikkel. En ek werk aan my geduld, my verdraagsaamheid en nederigheid...
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.”
1 KORINTIËRS 13:4
Aan my liewe tweejarige seuntjie.
Jy is pragtig en oulik, ek verwonder my aan jou slimmighede, elke dag se ontwikkeling en jou selfvertroue. Mamma is so lief vir jou en as mamma se geduld partykeer min is, vergewe my asb? Jy herinner my dat God goed is en Hy het jou ook geskep volgens Sy Beeld. Die sondeval het beslis plaasgevind en soms moet jou in die regte rigting stuur. Maar ek is so dankbaar vir my onverdiende seëninge, waarvan my kinders, ja ook jy, my besige 2 jarige, die grootste seën van alles is!
Liefde,
Innecke