top of page

Vandat ek kinders het...

Vandat ek kinders het:

slaap ek minder

lag ek meer

lê ek minder in die bad

lees ek meer kinderboeke

leer ek meer gediggies en liedjies


Vandat ek kinders het, hou ek honde aan om die vloer skoon te maak wanneer die kinders eet.


Vandat ek kinders het, kom my ouers meer kuier... en sommige vriende minder!


Vandat ek kinders het dra ek nie meer wit klere nie (Die klere was wel wit toe ek dit aangetrek het...)


Vandat ek kinders het.. 

  • eet ons gereeld uit papierborde

  • werk my wasmasjien, skottelgoedwasser, koorspen en brein oortyd!

  • deel ek my koekies en nagereg en eet ek meer groente (want ek moet die kinders s’n ook eet).


Vandat ek kinders het, het ek leer Sjinees praat (om die 2jarige te verstaan)


Vandat ek kinders het...

  • dreig ek meer

  • en smeer meer broodjies

  • eet ek skelm sjokolade...

  • het ek verander in 'n regter ("Goed, wie het eerste die karretjie gehad?" of "Vertel my jou kant van die storie")

Vandat ek kinders het gebruik ek die frase "Jammer die sitkamer lyk so, die kinders het hier gespeel" of "Verskoon die reuk, die seuns was in die badkamer" of "Die kombuis was skoon voordat die kinders koek gebak het"


‘n Paar gedagtes oor kinders:


Sit jou foon neer en tel jou kind op.

  • Elke kind is uniek, moenie vergelyk nie

  • Maak tyd. Prioritiseer. Speel. Lag. Ontspan.

  • Kinders hou jou op jou tone en knieë op dieselfde tyd

  • Kinders druk snaakse goed in hulle monde, neuse en ore

  • My kinders is altyd moeg, honger of siek en ander mense se kinders is net stout

  • Seuntjies piepie die toilet mis!

  • Net as jy dink jy is 'n oulik mamma... doen hulle iets wat jou tot in jou wese skok!

As jy kinders het, hou jy nie vakansie nie - jy gaan maak net jou kinders op 'n ander plek groot

Vandat ek kinders het, sê ek ‘n paar goed meer:

  • Los jou boetie!

  • Sê jammer vir jou sussie!

  • Haal jou vinger uit jou neus!

  • Moenie die hondekos eet nie!

  • Sê hallo vir die tannie! Sê dankie vir ouma!

  • Wie het dit gedoen?

  • Sit stil, lê stil, bly stil!

  • Was jy al vandag by die toilet? 

  • Waar hoor jy DIT?

  • Vra vir pappa....

  • Hoekom knyp jy jou sussie?

  • Jy is nie sy ma nie! Ek sal raas as daar geraas moet word!

  • Die kamer kort 'n skoonmaak! Die plek lyk soos 'n varkhok.

  • Kom, ons is laat!

  • Is almal se tasse ingelaai?

  • IS AL DIE LE ROUX's IN DIE KAR... 1,2,3,4,5 !! Almal hier!

  • Aggenee, sies!

Maar ek sê ook

  • Ek is lief vir jou...

  • Ek is trots op jou...

  • Jy is oulik...

  • Jy lyk soos 'n prinses...

  • Voel net jou spiere...

  • Sjoe, dis 'n mooi prentjie...

  • Kom sit bietjie op my skoot...

  • Hoekom is jou hartjie seer?

En die ding wat ek die meeste sê... DANKIE!! Dankie vir die voorreg om kinders te mag hê.

Want, vandat ek kinders het, het ek baie om voor dankbaar te wees!!

lewer kommetar
bottom of page