top of page

Vyf stappe om jou huis (meer) netjies te hou.

Ek is glad nie ‘n perfeksionis nie en selfs nie eers gepla as daar ‘n paar goed rond lê nie.. maar as die huis deurmekaar is, speelgoed oral, klere op die grond en ‘n wasbak vol vuil skottelgoed dan raak ek angstig. My irritasievlakke skiet die hoogte in en ek voel oorweldig. Ek voel soos ‘n slegte ma en huisvrou. Maar die moedeloosheid kry my onder… want ek weet dat al ruim ek op, of al smeek ek dat almal help opruim… more lyk dit weer so!


Ek het begin oplees oor hoe om jou huis te organiseer en daar is so baie wenke en idees. Ek sukkel nogals met minder maak en hou van opgaar. Dus moet ek myself dwing om hieraan aandag te gee. Daarom hiermee my waarnemings, planne en pogings tot ‘n meer georganiseerde huis.


1. Ons het te veel goed…maak minder

As daar minder is om deurmekaar te maak, is daar minder om op te ruim…! Ek luister ‘n potgooi oor ‘n mamma wat minimalisties lewe. Sy sê jy moet net genoeg kombuisware hê vir jou gesin (bedoelende: ons is 5, so net vyf messe, vyf vurke en vyf lepels ensovoorts). Sy sê as daar mense kom kuier, dan sê sy vir hulle hulle moet hulle eie eetgerei bring…


As dit vir jou werk, is dit fantasties!!! Maar ek is nie so nie en ek sal ook nie so kan wees nie!!! Ek wil darem vir die gaste ook ‘n bord kan gee vir ete.


Elkeen kan dus besluit hoe min of hoe baie jy nodig gaan hê.


Ons huis is baiekeer vol goed wat ons glad nie gebruik nie, wat ons nie nodig het nie en wat ons nie eintlik wil hê nie.


Daarom het ek besluit om te begin weggooi of weggee as dit nog in ‘n bruikbare toestand is.


Maar waar begin ‘n mens?


Ek het vir ons huis “weggooi/weggee” doelwitte gestel vir ‘n jaar. Elke maand fokus ek op ‘n ander vertrek of spesifieke items. Op hierdie manier voel ek nie oorweldig nie. Ek gee myself ook ‘n hele maand om my doelwit te bereik, sodat ek nie moedeloos word na een of twee dae nie. En dan het ek ‘n lysie wat my help om besluite te neem..


Ons jaarlikse weggee/weggooi beplanning:

  • Januarie: Papierwerk, adminstratief, kunswerke (ek hou natuurlik 'n paar wat teen ons kunsmuur opkom) en skryfbehoeftes. Jy kan ook foto's neem van die kunswerke

  • Februarie: Kombuis

  • Maart: Badkamers

  • April: Klere en skoene

  • Mei: Speelgoed

  • Junie: Motorhuis/stoorkamer en buitegoed

  • Julie: Sitkamer en eetkamer

  • Augustus: Medisyne

  • September: Studeerkamer en/of kantoor

  • Oktober: Kamers

  • November: Linnekas, waskamer, handdoeke, beddegoed.

  • Desember: Strand en swemgoed


Laai hier 'n templaat af om jou eie jaarlikse organiserings beplanning te doen:

Jaarlikse organisering beplanning
.
Download • 24KB

Hoe besluit ek wat om te hou, wat om te bêre en wat om weg te gooi of te skenk?


Ek beantwoord die volgende vrae oor elke item:

  • Gebruik ons hierdie item gereeld?

  • Is dit ‘n spesialiteits/unieke item wat min gebruik word maar dit het ‘n spesifieke doel?

  • Het ek ‘n ander item wat min of meer dieselfde is of dieselfde funksie kan verrig?

  • Sal ek die item weer koop?

  • Is dit iets wat ek kan leen as ek dit regtig nodig het?

  • Maak die item my gelukkig of dra dit positief by tot ons huis en gesin?

2. Speelgoed rotasie


Ek moet bieg dat hierdie nogals moeilik is veral met kinders van verskillende ouderdomme.


Ons het besluit om ‘n speelkamer in te rig, (meer oor ons speelkamer in ‘n volgende artikel). In die speelkamer is daar ‘n lekker groot kas/rak. Ek het besluit om die onderste twee rakke te gebruik vir ons speelgoed rotasie. Hierdie rakke is laag genoeg dat die kinders dit self kan bykom. Hulle kan dus kies waarmee hulle speel. Dan het ek ook 3 mandjies met speelgoed wat ook binne bereik is. Die ander speelgoed word gebêre hoër op die kas, in ons speelgoedkis of in die ander mandjies wat buite bereik gebêre word. Ek ruil dan elke twee weke die speelgoed. Op hierdie manier ontdek hulle weer hul speelgoed en speel weer van voor af lekker. Dit is ook makliker om op te ruim.







Daar is egter speelgoed wat altyd ‘n wenner is en permanent uit is vir speel soos my dogtertjie se pophuis wat ons self gemaak het. (Die pophuis is egter in haar kamer, juis omdat sy elke dag daarmee speel.)


As ons maatjies kry of in die sitkamer is, kan die kinders ook vir hul gaan speelgoed kies (van die wat beskikbaar is) en dit sitkamer toe bring om daar te speel. (Hul moet dit dan ook weer gaan bêre as hul klaar gespeel is)



3. Bêre elke aand die goed wat rondlê


Om in die oggend op te staan en alles is vuil en deurmekaar maak my veral moedeloos. Ek sukkel om my dag positief te begin as alles deurmekaar is. Daarom probeer ek die volgende doen:

(Amper) elke aand voor ek gaan slaap, stap ek gou deur die huis en tel alles op wat rondlê. En ek pak die skottelgoedwasser. As ek dit elke dag doen, dan is dit nie so groot werk nie en begin my dag beter!


4. Gee vir elkeen in die huis spesifieke take om te help opruim


Hierdie stap sal verskil vir elke gesin en sal ook verander soos jou kinders ouer word. My kinders is nog klein en dus is hul takies nog eenvoudig. Sussie wat vyf is en baie lief is vir popspeel, is verantwoordelike om haar kamer self op te ruim, bed op te maak en pophuis netjies te maak. Sy help ook graag met die skottelgoedwasser inpak of uitpak. Boetie wat twee is, moet die speelgoed waarmee hy speel opruim. Maar hierdie is nog 'n takie wat saam met mamma gebeur, ons sing die opruim-liedjie saam en dan help ek hom opruim.

Albei kinders moet ook hul eie klere in die wasgoedmandjie gooi! My man het ook spesifieke take waarmee hy help (net asb nie skottelgoed was nie!)

5. Partykeer knyp ek maar my oë toe en drink my koffie so tussen die chaos deur…


Laastens moet ons ook partymaal realisties wees en ook besluit wat is nou prioriteit...? Partykeer moet jy eers die mop neersit en die toeskouer by die stoeigeveg op die mat gaan wees of saam speel. Partykeer moet 'n mamma toelaat dat sussie help in die kombuis al beland die helfte van die meel op die vloer en die versiersuiker op haar wange. Los eers die vuil kombuis en gaan geniet koek en tee met die lekkernye wat julle saam gebak het. Of parytkeer is dit okay om by hulle te lê totdat hulle en jy aan die slaap raak...sonder dat jy opgeruim of skoon gemaak het! 'n Netjiese huis is lekker en belangrik, maar tyd saam met jou gesin en gelukkige kinders is die heel belangrikste!


Hierdie vyf stappe is wat vir ons gesin die beste werk. Dit beteken nie dat ek nie ander tye van die jaar dalk ook iets weggooi nie, ek hou van lysies en beplan en hierdie is my manier om die chaos te probeer organiseer! Dit beteken definitief ook nie dat alles hier altyd perfek is nie, inteendeel... die beste wenk is egter, begin net iewers (selfs al is dit net met iets kleins)

Begin met een takie

Begin met een kas uitsorteer

Begin met een kledingstuk

Begin met stukkende speelgoed

Begin met die boks in die motorhuis wat al vir 3 jaar daar staan

Begin met al die vervalde medisyne

Begin met jou ou grimering

Begin met die kombuis

Begin met die badkamer

Begin met een gordyn afhaal en was

Begin net…


Liefde Innecke






lewer kommetar
bottom of page