top of page

Waarom kinders moet leer om te redeneer

Ons 5jarige vra nou die dag vir my: "Mag net mammas anders besluit?". Aanvanklik was ek effens uit die veld geslaan. Toe brei hy uit: "want mamma sê altyd: "sommer, want ek het nou anders besluit". Toe besef ek dat dit altyd my manier is om 'n redenasie hok te slaan. As ek sien ek gaan die debat verloor, antwoord ek "want ek het anders besluit".


Ek het al gewonder waarom daar nie redenaarskompetisies vir 5jariges is nie... Ek dink hulle is die beste redenaars op aarde. Of dalk is dit net ons 5jarige? Hy kan hom uit enige situasie uit redeneer. Gewoonlik tot my groot frustrasie as ek besef hy het my in 'n hoek vas. Maar eintlik is dit so goed vir kinders om te redeneer. Daarom het ons die reël in ons huis dat al ons kinders van graad 1 af elke jaar moet deelneem aan redenaars.


Hulle moet aan die skool se interne redenaarskompetisie deelneem. Hulle mag egter aan die ATKV kompetisie deelneem as hulle wil, maar hulle hoef nie verder deel te neem nie.


Die ATKV het onlangs hulle temas vir 2023 bekendgestel, so dit is weer tyd vir onderwerpe formuleer, praatjies skryf en inoefen by die le Roux's.


Hier is 'n paar redes waarom ek my kinders aan redenaars laat deelneem:

  • Hulle leer om hulle gedagtes te formuleer, te orden en te struktureer (dit help vir latere kreatiewe skryfwerk en langvrae antwoord en selfs wiskunde probleme oplos)

  • Hulle leer om standpunt in te neem

  • Dit leer hulle om hulle standpunt logies aan ander oor te dra

  • Dit verbreed hulle woordeskat en algemene kennis

  • Hulle leer om “mooi te stry” en 'n ander na 'n ander se opinie te luister

  • Dit verhoog selfvertroue en help hulle om voor mense te praat

  • Hulle leer deursettingsvermoë (praatjies moet geskryf word, herskryf word, geoefen word, verander word, weer geoefen word.... totdat die 2jarige in die huis ook al die praatjie uit sy kop uit ken)

  • Bevorder kreatiwiteit en logiese denke

  • Bevorder abstrakte denke

  • Hulle leer om te memoriseer

  • Hulle leer om duidelik te praat en klem te lê op belangrike stellings

  • Dit verbeter taalvaardighede en woordgebruik

  • Hulle leer om onder druk te werk

  • Hulle leer van kleins af om navorsing te doen, dit te ontleed en dan in hulle eie woorde oor te dra (hierdie is 'n baie belangrike vaardighede in vandag se aanlyn-wêreld met so baie inligting tot ons beskikking)

  • Hulle leer wat is betroubare inligting en watter bronne moet mens eerder nie glo nie

Watter tipes toesprake kry 'n mens?

  • Beredeneerde toespraak (Soos redenaars kompetisies of wanneer jy jou ma wil oortuig dat jy 'n nuwe speelding wil hê)

  • Inligtingstoespraak (Wanneer jy vir mondeling voor die klas moet praat oor vliegtuie, beroepe ens.)

  • Vermaaklikheidstoespraak (Dink Trevor Noah of dalk eerder die seremoniemeester by jou beste vriend se troue)

  • Motiveringstoespraak (Wanneer jy 'n mamma is en jou 3jarige wil nie vir oupa groet nie... Of op 'n ernstiger noot: as jy jou seuntjie se rugbyspannetjie afrig en hulle moed inpraat voor die wedstryd)

Stappe vir toespraakskryf:

  1. Kies 'n onderwerp

  2. Kry idees, doen navorsing, lees oor die onderwerp, praat met ander mense oor jou idees

  3. Skryf jou toespraak (hiermee saam gaan die maak van notas)

  4. Rond jou toespraak af en oefen dit sodat jy dit goed ken

Hoe lyk 'n effektiewe en sinvol-gestruktureerde toespraak?

Daar is verskeie manier om te gebruik om die toespraakskryf proses vir jou kind makliker te maak. Ek hou persoonlik daarvan om 'n prentjie van 'n mens of 'n donkie te gebruik. Jy teken 'n mannetjie of 'n donkie en vul dan die idees daarop in (rofweg). Die vlak van die toespraak verskil natuurlik tussen die ouderdomsgroepe. So ook die wyse waarop bronne aangehaal word.


Hier is 'n voorbeeld:

Tema: Kinders

Onderwerp: Kinders maak ma's gek


Die Kop:

Dit is jou inleiding. Die eerste 30 sekondes maak die grootste indruk! Mense moet lus gemaak word om verder te luister. Vertel 'n grappie, haal iemand aan of vertel 'n storie wat mense se aandag trek (kort). Bv. "In ons huis gaan dit gewoonlik doller as kop-af! Ek wonder hoe bly my ma lief vir al haar kinders?"


Die Nek:

Stel dan jou standpunt kort en kragtig. Die nek verbind jou kop en jou liggaam aan mekaar. By 'n inligtingstoespraak sê jy hier waaroor jy gaan praat. Bv. "Ek is oortuig daarvan dat kinders ma's gek maak."


Die Liggaam:

(Jou donkie se pote is die feite of die opinies waarop jou liggaam staan.)

Gee hier jou 3 opinies. Elke opinie moet met 'n feit gestaaf word wat jy uit jou navorsing gekry het. By 'n inligtingstoespraak gee jy hier jou drie feite. Of drie aspekte van die onderwerp waaroor jy praat. Bv. "In die eerste plek kan my ma nie eers al haar kinders se name onthou nie. Sy sê altyd vir my : "Jannie-Kosie-Pieter". Navorsing wys (haal dan die navorsing aan) dat moeders 30% van hulle breinselle verloor met elke kind wat gebore word".


In die tweede plek wil my ma altyd hê ons moet truie aantrek as dit glad nie eers koud is nie. Dit is mos gekheid! Ek lees in 'n artikel (haal aan) dat vrouens met kinders 20% meer paranois is as vrouens sonder kinders.


In die derde plek wil sy my soen en druk voor ander mense. Dit is mos gek om te dink 'n mens kan jou seun so baie druk en soen. My oupa is 'n boer en hy sê 'n koei moet iewers haal kalfie speen....


Stert:

Hierdie is jou slot. Sluit jou toespraak af deur weer iets snaaks te sê. Jy moet jou praatjie hier saamvat maar waak daarteen om net weer jou opinies te herhaal. 'n Treffende slot laat mense jou praatjie onthou.


'n Paar wenke oor toesprake skryf:

  • Dink goed na oor jou onderwerp, kies een waaroor jy met entoesiasme kan praat

  • Moenie jou praatjie koop nie

  • Beplan vooraf – dit moet logies en samehangend wees

  • Gebruik goeie, kreatiewe en eenvoudige taal

  • Onthou dat JY die toespraak moet lewer

  • Ken jou toespraak

  • Praat natuurlik

  • Kry ‘n goeie struktuur

  • Maak oogkontak

  • Jou Inleiding is baie belangrik – gryp almal se aandag

  • Jou slot is net so belangrik – los hulle moet iets om oor te dink

  • Bronverwysings is belangrik (mense moet glo wat jy sê)

  • Ontspan en geniet dit

  • Sê die toespraak ‘n paar keer en verander dan die woorde waar jy heeltyd vashaak

  • Plak dit op karton – nie te groot of te klein nie

  • Teken prentjies vir die kleiner outjies

  • Maak dit lekker vir ander om na te luister

  • Nommer jou kaartjies

  • Ken jou toespraak

Ek hoop julle is sommer nou almal gemotiveer om volgende jaar aan die redenaars deel te neem! Redeneer sommer met jou kind oor sekere onderwerpe wanneer julle in die kar ry. Ek vra altyd vir die kinders: "Gee my drie goeie redes..." as hulle my iets vra.


So, ek vra jou: "gee my drie goeie redes waarom jy nie jou kind redenaars gaan laat doen nie...."

lewer kommetar
bottom of page