top of page

Wat beteken gesond eet nou eintlik?

Ek besluit gereeld dat dit "nou weer bietjie tyd is om gesond te eet". Dan is ek vuur en vlam om die gesondse-ma-in-die-land toekenning los te slaan. En waar my wiele pap raak, is wanneer ek begin wonder wat beteken gesond eet nou eintlik?


Ek het bietjie gaan kers opsteek by 'n Dieetkundige, Odette Venter. Sy is self ook 'n mamma en gee baie praktiese raad oor gesond eet.


Meer oor Odette

Odette Venter
Odette Venter

Odette is ‘n dieetkundige en ‘n mamma van 2 dogtertjies, 7 en 5 jaar oud. Sy woon in Hartbeespoort waar sy groot geword het. Sy is 11 jaar lank getroud met ‘n wonderlike man wat ook baie sportief en gesondheidsbewus is. Nadat Odette klaar studeer het, het sy vir 5 jaar as terapeutiese dieetkundige in ‘n staatshospitaal gewerk.


"Toe my eerste dogtertjie gebore is, het ek besluit om te begin praktiseer sodat ek my eie ure kan bepaal en ek het nog nie een oomblik terug gekyk nie". Sy het ‘n baie groot liefde en passie vir dieetkunde!

Odette Venter
Odette en haar gesin

Ek het vir Odette 'n paar vrae gevra:


Wat is jou definisie van "gesond eet"?

Gesond eet beteken om gebalanseerd te eet en ’n verskeidenheid nutriente daagliks in te kry sodat jou liggaam optimaal kan funksioneer.


Is dit moontlik om gesond te eet en gesonde kos te maak met kinders in die huis?

Dit is absoluut moontlik om gesonde kos te maak en gesonde kos te eet met kinders in die huis. Kinders leer juis uit die voorbeeld wat hulle by hulle ouers sien!


Is gesond eet nie baie duur nie?

Gesond eet hoef nie duur te wees nie. Dit hang natuurlik af waar jy koop. Maar ons kan met alledaagse kosse net gesonder opsies en die regte porsies kies. Daar is geen spesiale tipe kosse wat jy ten duurste MOET aankoop om gesonder te eet nie.


Hoe moet ons dink oor dieet? Of is dit eerder 'n lewenstyl?

’n Dieet moet volhoubaar wees. Dit is gewoonlik nie die dieet wat nie werk nie - dit is die feit dat die dieet nie volhoubaar is nie, wat nie werk nie. Dit is beter om eerder 'n lewenslange gesonde lewenstyl te kweek as om kort-kort te dieet. Ek dink ook in baie gevalle is ’n persoon se verwagtinge te groot. Dis altyd belangrik om te onthou dat ’n persoon nie oornag gewig opgetel het nie. Net so is gewigsverlies ’n stadige proses. 0.5 - 1kg gewigsverlies per week is realisaties en ook volhoubaar. Ek se altyd vir my pasiënte dat enige iets ekstra ’n bonus is :)


Hoe kan mens gesonde eetgewoontes maklik in jou huis vestig? Veral as dit by die kinders en man kom...

Gesonde eetgewoontes is ’n lewenstyl! Deur ’n voorbeeld vir jou kind te stel en om ook nie jou kind te forseer om sekere kosse te eet nie, kan jy baie vêr kom. Jy as ouer mag besluit wat jy vir jou kind in sy bord skep maar, jou kind mag dan besluit hoeveel en van wat hy gaan eet. Moet nie onrealistiese porsies inskep nie en moet ook nie soos in die ou dae jou kind forseer om alles op te eet nie. Ons moet ook glad nie ’n kind beloon met nagereg of lekkers nie. Lees ook die dokument wat mooi uiteensit hoe 'n mens gesonde eetgewoo my ntes by jou kind kan kweek.


Julle kan hier 'n oulike dokument aflaai wat Odette saamgestel het om kinders te motiveer om gesond te eet.

FEEDING PRINCIPLES TO AVOID FUSSY EATING
.pdf
Download PDF • 647KB

Is daar iets wat ons moet probeer vermy wanneer ons kos eet?

Enige iets in oormaat moet vermy word. Maar gesond en gebalanseerd beteken ook om ’n lekkerding te geniet op sy tyd. Ek as dieetkundige geniet ook ’n stukkie koek by ’n partytjie en my kinders mag ook lekkertjies eet. Dit is baie belangrik dat ons ons kinders leer om ’n goeie verhouding met kos te hê. Ons kan dit bereik deur hulle bloot te stel aan gesonde kossoorte maar om hulle ook toe te laat om lekker goedjies op sy tyd te geniet. Geen kossoort moet as sleg bestempel word nie - dit gaan alles oor die regte balans. Die ideaal is ook om kinders te leer om later in hulle lewe self te kan besluit wat gesonde kos is en wat nie.

Het jy paar gesonder alternatiewe vir kos wat ons gewoonlik eet?

Vervang

Met

Witbrood

Bruinbrood

Gewone pasta

100% durum wheat pasta

Witrys

Bruin of Basmati rys

Sonneblom olie

Canola of olyfolie

Rooivleis

Witvleis

Meer oor vleis (vir diegene wat hulle mans moet oortuig...)


Moenie rooivleis heeltemal uitsny nie. Eet net meer hoender en vis en beperk rooivleis tot 2 maal ’n week. Rooivleis moet liefs maer wees - verwyder enige sigbare vet voordat dit gaargemaak word. Steak en vark fillet bevat baie minder vet as bv. tjops en wors en mens kan ook maer maalvleis gebruik i.p.v gewone maalvleis.


Groente

Maak altyd seker dat ten minste een van jou maaltye ’n groente porsie het. Die helfte van jou bord moet uit groente bestaan, 'n kwart uit ’n volgraan stysel en kwart uit maer proteïne.

So lyk 'n gebalanseerde bord kos


Wat sê etikette oor die kos wat binne in die verpakking is? Moet ons etikette lees?

Etikette is ’n ingewikkelde ding om eintlik te verstaan vir die algemene publiek. Raad wat ek wel kan gee, is dat ’n goeie produk aan die volgende vereistes sal voldoen: 5g of minder suiker per 100g en 3g of minder vet per 100g. Dit hang wel af watter produk dit is en waarvoor dit gebruik gaan word in die dieet (bv. gaan dit as ’n vet porsie dien dan mag dit moontlik bietjie meer vet bevat).


In praktyk verduidelik ek gewoonlik ettikette eers wanneer die persoon al ’n paadjie gestap het met sy dieet en die term koolhidrate, proteiene en vette mooi verstaan. So om eenvoudig te antwoord - moenie te veel oor ettikette bekommerd wees nie. Maak eerder seker jy koop die regte tipe kossoorte en bly by die regte porsie grootte.


Voorbeeld van pasta wat 'n gesonder alternatief is:



Indien jy meer wil leer oor gesonde eetgewoontes. Of as jy dalk wil deelneem aan Odette se 21dae Gesond Eet Uitdaging, kontak haar gerus vir meer inligting.

'n Dieetkundige kan ook vir jou 'n eetplan uitwerk wat spesifiek op jou behoeftes van toepassing is.

Kontak Odette hier:

Odette Se Facebook blad

E-pos Odette




lewer kommetar
bottom of page