top of page

Wat kinders en stofsuiers in gemeen het...

Ek het uiteindelik die stofsuier gekoop waarvoor ek so lank gespaar het. Ek het my navorsing gedoen want ek wou 'n baie spesifieke een hê. Videos gekyk, "reviews" gelees en gewag dat hy iewers op 'n spesiale aanbieding kom.


Ek wou 'n regop een hê wat herlaai en kan werk as die krag af is. Maar hy moet darem in my begroting pas en sterk genoeg suig ook.


Toe bestel ek hom Vrydag. Ek moet bieg, ek het die hele naweek nie die vloere gevee nie want ek wou mos die stofsuier ordentlik uittoets as hy kom.


Ek sit vandag en bewonder my skoon vloere en banke en kaste en vensterbanke en laaie en alles wat mens kan stofsuig... Selfs die kar is skoon. En as die hond nie betyds weghardloop nie sal hy moontlik ook 'n suig kry. Want al 7 inwoners van hierdie huis wil mos die stofsuier toetsbestuur. Hulle suig alles wat voorkom en hulle was nog nooit so ywerig om te help huis skoonmaak nie. Hulle het selfs gestry oor wie se beurt dit is. En ek weet volgende week, as die opwinding verby is, moet ek weer smeek dat iemand net die vloer sal suig....


Dit tref my toe hoe baie kinders en stofsuiers eintlik in gemeen het.

Jy lees op, doen navorsing, sien uit, vra ander mense uit oor hulle s'n en droom oor hoe perfek die lewe gaan wees as hy eers gekom het. En as hy opdaag, is die aanwysings in Sjinees. Dan maak jy maar soos jy goeddink en sien wat werk en wat nie.


Aanvanklik bewonder jy die nuwe pragstuk in jou huis, is bang hy breek en word vuil, loer kort-kort of hy nog reg is en spog oor hom by almal wat kom kuier. En later raak jy gewoond aan hom. Dan voel dit vir jou of hy maar nog altyd daar is. Deel van jou lewe. Jy ken sy streke, sy goeie punte en swakpunte en weet presies hoe om die meeste uit hom te kry. Jy weet watter knoppie om te druk om die verlangde uitwerking te kry. En dan, voor jy jou oë uitvee, kan jy nie meer sonder hom nie!


Oppas!

Sedert die nuwe stofsuier se aankoms moes ek al baie keer waarsku en preek.


"Moenie daai spykers met my nuwe masjien opsuig nie, hy sal breek." “Nee, mens suig nie sommer enige ding nie, weet jy wat kos die masjien?" "Tel eers die Lego's op en suig dan".


Kinders suig, soos stofsuiers, ook alles op wat op hulle pad kom. (Hou die spasie dop : ek skryf binnekort 'n plasing oor selfone, TV, internet).


Kinders suig alles soos sponsies en stofsuiers op

Kinders hoor alles, sien alles en na-aap alles.... Ons moet so versigtig wees wat ons op die spreekwoordelike vloer laat val want sommige goed kan skadelik wees as dit opgesuig word. Party goed wat hulle sien en hoor veroorsaak dadelik skade. Maar die meeste goed veroorsaak oor tyd skade as hulle dit gereeld opsuig.


Elke negatiewe woord wat jy oor hulle sê, elke keer wanneer jy kla of ongeskik is met hulle of ander mense. Elke keer as jy nie heeltemal eerlik met hulle is nie. Kinders suig elke belediging op, elke skinderstorie. Hulle suig ook elke lelike woord, swak voorbeeld en boosaardige prentjie op wat hulle in stories sien. Hulle suig mettertyd en gewoonlik onwetend, ideologieë en valse idees op wat in stories versteek is en oënskynlik onskuldig lyk. Ek verstom my aan die getal Onchristelike ideologië en halwe waarhede wat in kinderstories verkondig word. (Meer oor taaldiefstal in ñ volgende plasing)


Die positiewe

Maar die positiewe is dat hulle darem ook die mooi woorde, die liefdesdade, die goeie maniere, die gereelde huisgodsdiens en goeie gewoontes wat hulle sien en hoor opsuig. Hulle sien hoe praat jy met ander mense, met hulle, met jou man. En as dit mooi en edel is, leer hulle om dit ook so te doen.


En die grootste troos is dat ek nie alleen is nie. Ek is 'n sondige ouer met baie foute. Ek doen baie dinge verkeerd. Maar in gebed en geloof probeer ek regtig my kinders grootmaak in die Vrese van die Here. En ek besef elke dag ek het Sy hulp so broodnodig.


Ons lees in Hebreërs 4:15-16:

"Want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde."

Jesus Christus het medelye met ons swakhede.

Hy weet dat ek daarteen stry om nie weer daardie negatiewe ding vir my kind te sê nie. Om nie te skree of 'n skewe antwoord te gee nie. So, as die versoeking kom om moedeloos te word. Om maar te skree of negatief te wees. Dan probeer ek my gedagtes gevange neem. Vra ek Hom om my te help om nie die "skadelike woorde" op die vloer te gooi sodat my kinders dit kan "opsuig" nie.


En as ek dit wel gedoen het, vra ek om vergifnis. Nie net teenoor die Here nie maar ook teenoor my kinders. Want dan leer hulle ook weer om nie skadelike woorde neer te gooi wat ander kan opsuig nie. En dan leer hulle ook dat ons ñ Hoëpriester het wat met ons swakhede medelye het


En ek probeer maar weer om ten spynte van my swakhede die beste ma vir my kinders te wees!


Liefde Karyna

En dan, so bietjie tong-in-die-kies,

My waarneming oor die gemeenskaplike eienskappe van kinders en stofsuiers:


Mens kry verskillende modelle. Een stofsuier werk goed vir matte, ander vir vloere. Sommiges het goeie suigkrag, ander se battery hou lank en ander se prys is goedkoper. So kry mens ook verskillende tipes kinders. Elke kind het sy eie gawes, talente, persoonlikheid en plek in die huis. Dit verg moeite om op hoogte te bly van elkeen se uniekheid maar dit is absoluut nodig om elke kind in jou huis te bedink en verstaan.


Hulle moet herlaai word om weer te kan werk. 'n Middagslapie, bietjie sit op mamma se skoot of rustige tydjie alleen kan wondere verrig. Veral in 'n huishouding waar daar 'n hele klompie stofsuiertjies rondhardloop.


Jy moet hulle in die regte rigting stuur. Ons het nou (nog nie) 'n robot stofsuier wat self sy pad bepaal nie (grotendeels omdat ek nog nie een kon kry met 'n speelgoed-optel -en-bêre-funksie nie). Maar dit verg maar leiding, moeite en rigting-gee om die regte resultate te kry.



Lees/luister ook:

Die Here het medelye met ons potgooi op Scriptura se webwerf






lewer kommetar
bottom of page