top of page

Wat kinders my geleer het

Kinders het my geleer:

Babas breek nie so maklik nie... Maar as hulle groter is, breek hulle wel – ALLES!

Jou geërfde teekoppies, jou selfoonskerm, ander mense se duur glase...

en soms breek hulle ook jou moed meer as jou goed!

Maar jy bly steeds lief vir hulle...  Met ‘n liefde wat 6 keer ‘n nag sal opstaan om te kyk of hulle nog asemhaal (veral daar in die begin). ‘n Liefde wat sal stories lees totdat jy slaap (en hulle nog nie).

‘n Liefde wat getrou die hoenders en hase voer – want die kinders wou hulle so graag as troeteldiere hê.

‘n Liefde wat eerder kinderklere koop as nuwe skoene of klere vir jouself.

‘n Liefde wat vuil doeke skoonmaak, natlakens was, 'n stink vroegoggend asempie koester en meer van snotneus-soene hou as wat die tannies by die kerk daarvan hou.


‘n Liefde wat sukkel om te glo dat my bloedjie regtig die maatjie gebyt het. ‘n Liefde wat Paw Patrol-, prinses- of ‘n olifant-wat-ballet kolwyntjies bak tot laat in die nag vir more se partytjie. ‘n Liefde wat die laaste beskuitjie, waarna jy so uitgesien het, opoffer vir ‘n smekende gesiggie – net om later te sien hoe die hond daaraan smul...


Kinders het my geleer:

  • om baie meer te bid

  • om kinders in kaste te soek en wegkruipertjie op vreemde plekke te speel

  • om goeters op vreemde plekke te soek (soos sleutels in die asblik)

  • om te maak of ek skrik... vyf keer na mekaar

  • om voor ‘n skare te piepie

  • om stories in my slaap te lees

  • om dieselfde stories oor en oor te lees

  • om nat klere en beddegoed in my slaap te ruil

  • om eers te ruik aan iets voordat ek daaraan proe

  • om agter ñ stink reuk aan te soek totdat ek die vrot appel onder die bank gekry het

Kinders het my geleer dat ek soms my kamerdeur moet sluit...


Kinders het my geleer..

  • om met ‘n lig aan te slaap want dit hou die ongediertes weg

  • om ‘n ekstra matras in ons kamer gereed te hou

  • om met knieë in my ribbes en voete oor my kop te slaap

  • om die huis in ñ kits op te ruim as daar ñ kar voor die hek stop

  • om nie kosblikke voor ñ Desembervakansie in ñ tas te vergeet nie

Kinders het my geleer om te funksioneer met min slaap.

Kinders het my geleer om minder goed te hê wat kan rondlê of deurmekaar gekrap kan word.

Hulle het my ook geleer dat die kleur van ‘n papbakkie regtig ‘n saak van lewe en dood is.

Hulle het my geleer dat ‘n salfie en ‘n pleister vir alles werk – van ‘n seer tand, tot ‘n slegte hoes, oorpyn, maagpyn en ‘n stukkende toon... maar die meeste vir ‘n seer hart


Kinders het my ook geleer...


om ALTYD kaas, brood en Sweetcorn in die huis te hê

om lego’s op te ruim anders trap jy daarop

om legkaarte uit te sorteer

om leesboekies reg te plak

om vliegtuie, voëltjies en prinsesse in ‘n gekrabbel raak te sien

om alles 3x te herhaal

om ‘n skeidsregter te wees!

om gemorsies skoon te maak

om goeters op te tel en weer op te tel en weer op te tel en weer op te tel.....


Kinders het my geleer...

Om enige liedjie te herskryf in ‘n opruim, bad of kos-opeet treffer!

Kinders het my geleer om tyd te maak vir Bybellees en bid as ek opstaan – want anders is die dag verby  voordat ek daarby kon uitkom (en dan lê ek heelnag wakker omdat ek skuldig voel)


Kinders het my geleer om skuldig te voel (as ek te min tyd aan hulle spandeer, as ek te veel tyd aan hulle spandeer; as ek te min geld op hulle spandeer, as ek te veel geld op hulle spandeer; as ek met hulle raas, as ek nie met hulle raas nie).


Kinders het my geleer om te multitask

...om deur die nag te bid

...om dankbaar te wees vir gesondheid

...om ‘n kombuis in rekordtyd met 1 hand en ‘n baba op die heup skoon te maak.


Kinders het my geleer om koue koffie te drink... en dit te geniet

Kinders is ‘n vreugde, ‘n sëen en ‘n gawe van God. Hulle helder ‘n huis op, hulle gee jou lewe (en jou mure) kleur.

Kinders bring hoop!

'n Hoop wasgoed, 'n hoop speelgoed, ñ hoop skottelgoed...


Kinders het onvoorwaardelik lief.


My kinders vul my lewe, hulle gee my ñ rede om te lewe.

Vul jou pylkoker met kinders, die Beeld van God!

Mag Hy vir jou nog hope snotneusies en vuilbekkies gee om vas te druk en lief te hê!!


Karyna

lewer kommetar
bottom of page