top of page

Dis moeilik om jou ma te vroeg te groet

Tot op hede is die hartseerste wat ek nóg was, seker die keer in die laerskool toe die honde my splinternuwe plakkies, waarvoor ek lank gespaar het, opgevreet het. Ek onthou nog die teleurstelling en gevoel van verlies. Maar my ma het my getroos en ek dink sy het my naderhand jammer gekry en ‘n nuwe paar plakkies gekoop. Ek hoef dus nie baie lank hartseer te gewees het nie en die gevoel van verlies was gou verby.


O, ja. En in my tweede jaar toe my kêrel my afgesê het. Toe was ek ook baie hartseer en die gevoel van verlies was weereens daar. Weer het my ma my getroos soos net ‘n ma kan troos. Die gevoel van verlies was ook van korte duur want vandag is daardie einste kêrel my man.

Ek weet, dit is groot genade dat ek tot dusver in my lewe nog nie regtig met verlies, rou of hartseer te doen gehad het nie.

Ouma Adri en haar span
Drie maande terug, egter, het alles verander. Ek het ‘n hartseer ervaar wat ek vir geen mens toewens nie.

‘n Hartseer en ‘n gevoel van verlies só groot dat dit vir jou voel of daardie gat nooit gevul gaan word nie. En mens besef gou – hierdie hartseer gaan nie oorwaai nie. En, die ergste van alles - my ma, die een wat my nog altyd getroos het, was nie meer daar om my te troos nie. Sy is toe die een oor wie ek treur. Sy is die een wat ek verloor het. En ek sukkel steeds om die woorde te sê: “My ma is dood”.


Om jou ma te verloor is soos baie ander slegte goed wat gebeur in die lewe. Mens dink mos dit gaan nooit met jou gebeur nie. Ander mense se ma’s gaan op ‘n jong ouerdom dood. Nie jou ma nie. En hier sit ons nou. Ek sonder ‘n ma, my pa sonder ‘n vrou en my kinders sonder hulle ouma. En om te rou is amper soos voorbly met skottelgoed in ‘n huis met 5 kinders. Jy wen nooit. Net as jy alles skoon het, is dit weer etenstyd en staan daar weer vuil skottelgoed rond. Rou is presies dieselfde. Net as jy dink jy het die hartseer gewen, dan kom dit weer. Skielik. Onverwags. Ongevraagd. Onwelkom. Ongenooid. Soos griep in die somer. En soms laat dit jou huil. Soms maak dit jou moedeloos. Soms laat dit jou praat en soms laat dit jou stom.

Rou laat jou ook so bietjie voel of jy van jou trollie af is.

Die kombersie en deurgekruipte babakleertjies wat jy nog nou-die-dag wou uitgooi, bêre jy nou veilig bo in die kas want jou ma het dit nog met jou eerste babatee vir jou gegee. Jou arme man moet van elke liewe ding hoor: “my ma het nog hierdie vir my gegee”. Soms laat ek my gedagtes toe om op vêr paaie te gaan loop. Maar ander kere dink ek die herinneringe weg. Want ek weet nie eintlik wat ek wil voel nie. Ek wil onthou maar eintlik wil ek ook nie. Die onthou is mooi maar dit maak ook seer.


Ek het al skuldig gevoel dat ek soveel vrede in my hart het oor my ma se dood. Totdat ek besef het: ek het mos die Here gevra om my vrede te gee. En dit is presies wat Hy doen. Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, bewaar my hart en my sinne in Jesus Christus (Fil 4:7).

Ek ervaar dit werklik. Dit was altyd woorde wat ek vir ander gesê het as hulle rou. Woorde wat ek nie self regtig verstaan of ervaar het nie maar gevoel het is gepas as iemand treur. Nou weet ek hoe kragtig dit is. En nou weet ek dat God regtig vrede gee. Vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Ek tel steeds ten minste eenkeer per dag my foon op om haar te bel. Of neem ‘n foto van die kinders om vir haar te stuur. Ek praat nog steeds van: “as ons by my male gaan kuier.” Ek wonder nog gereeld watter raad my ma my sou gegee het. Dit sal seker met tyd verander. Ek moet ook erken, ek voel so bietjie jaloers as ek dink aan van my vriendinne wie se ma’s nog leef. Of as ek fotos van families sien en daar sit ‘n ouma met die kleintjies op haar skoot.


Ek kry myself maar so bietjie jammer en voel gekul uit my toekomsplanne uit. Daar is nog so baie wat my ma moes beleef. Daar is nog so baie wat ek by haar wou leer. Wat ek haar wou vra. Sy moes nog die kinders se konserte bygewoon het. Daar is nog baie jare se rapporte wat die kinders vir ouma moes wys. Sy moes nog kinders opgepas het en teepartytjies op die plaas gehou het.


En dan, so tussen die rou, hartseer, smart en verlange deur is ek eintlik net dankbaar. Dankbaar oor so baie dinge. Maar veral dankbaar dat my ma van haar aardse pyn verlos is. Ook dat ek regtig met my hele hart kan weet, sy is nou by ons Hemelse Vader en dit is vir haar veel beter daar as hier. Ek is dankbaar dat sy my altyd getroos het toe sy nog kon maar veral dat sy my geleer het Wie my Enigste Troos in lewe en sterwe is. Jesus Christus.

Ek is dankbaar dat sy my as klein dogtertjie geleer het om te bid.

Want nou het ek dit só nodig. Ek is dankbaar dat sy my geleer het om in voorspoed dankbaar en in teespoed geduldig te wees. Want hierdie is alles dinge wat ek nou, omdat sy dood is, ervaar.

Ek is dankbaar dat ek haar vir 32 jaar kon ken en dat sy my ma hier op aarde was. Ek kon nie vir ‘n beter ma gevra het nie. Maar ek is veral dankbaar dat ek haar in die ewigheid ook gaan ken, vir altyd, en dat sy dan my suster sal wees.

Karyna le Roux

Junie 2020



lewer kommetar
bottom of page