top of page

Halfjaar voornemens


In Januarie lees mens orals van nuwejaarsvoornemens. Elke tydskrif het ‘n nuwejaarsvoornemens-artikel, mense deel hulle voornemens op Facebook. En self maak jy ook ‘n paar voornemens wat van jou die beste vrou, mamma, vriendin, huishoudster en mens gaan maak. En jy skryf hulle nogal groot en duidelik op die nuwe witbord neer wat manlief met baie aanmoediging vir jou in die kombuis geïnstalleer het.

Dan spring die jaar weg met ‘n donderende knal en teen einde Februarie voel dit vir jou of die jaar ten einde snel.

En net as jy al die buitemuurse inskrywingsvormpies ingevul het en al die nuwe begunstigdes vir al die nuwe lesse op jou bank gelaai het, is die eerste kwartaal verby. Dis hier waar jy besef sussie se katkisasieboek is nog nie oorgetrek nie. En jou splinternuwe liaseerstelsel lê nog net so op Pinterest. Die spesiale laaie wat jy gekoop om die kinders se klere beter te organiseer is nou vol allerhande goed geprop. En die kombuiskas wat jy so mooi oor Desember reggepak het, lyk maar weer asof die kat daar nes gemaak het.


Dagboek

Darem het jou dagboek tot amper einde Maart inskrywings in. Jou lysies raak al langer (waarvan die helfte van die goed eintlik al gedoen moes gewees het). Die regmerkies langs die items op jou lysies raak al minder. Jy begin die goed wat jy reeds die dag gedoen het, op jou lysie skryf en doodtrek net om te voel dat jy vorder. Goed soos:

  1. Doek ruil x4

  2. Kos maak

  3. Kinders aantrek

  4. Klere uit masjien haal

  5. Gister se nat klere weer in masjien gooi

  6. Bed opmaak


En as Junie jou tref, val jou laaste stukkie hoop om ‘n voorbeeld-vrou en -mamma te wees, saam met die laaste paar bruin blare op die grond. Dis koud, dis vaal, dis snotneuse en toe borse, dis die helfte van die jaar en jy het nog min van jou hele rits voornemens uitgevoer. Die opvoedkundige uitstappie museum toe het nog nie gebeur nie en al die opvoedkundige speletjies, legkaarte uit ou bokse, maak-jou-eie-instrumente-uit-afval-materiaal en slimword-planne is ook maar net ‘n “screenshot” iewers op jou vorige foon. Jou medies is uitgeput en jou wasgoed het verdubbel. Want ‘n kind en ‘n man dra ‘n trui of ‘n denim mos net een keer en dan beland hy op ‘n hoop langs die wasgoedmandjie. Dis skielik een oggend te koud vir kaalvoet en kleinboet se tekkies, wat met ‘n groot uittog winkels toe gekoop is, pas (alweer) nie. En pappa reken ouboet se ou paar tekkies lyk darem regtig bietjie sleg aan kleinboet se voete. Veral omdat dit nog 2 nommers te groot is en hy bietjie soos ‘n Koning Pikkewyn oppad water toe lyk as hy probeer hardloop. Sussa se juffrou stuur ‘n algemene Whatsapp op die klasgroepie uit om die mammas te herinner aan die uitstappie-briefies wat eintlik Maandag al moes in wees. Diep in jou hart weet jy daai Whatsapp is eintlik vir jou bedoel. En jy voel skuldig. Want jy het jouself voorgeneem om die eerste mamma te wees wat die briefie terugstuur.


Lente is oppad

Maar, daar is hoop! Nog net 2-en-‘n-half maande dan begin die lente. Dan sien jy weer kans vir nuwe dinge. Dan raak die dae langer en die nagte korter, die wasgoed minder en die buitespeeltyd meer. En wat jou nog meer moed laat skep, is die dogtertjie by die kerk met 2 verskillende sokkies aan (darem is albei skakerings van pienk-bruin). Of die seuntjie in die winkel met die loopneus en kaal voete. Die lang rye by Clicks se “self-medikasie” apteektoonbank. Die tannie voor jou in die ry wat lyk of haar strykyster gebreek het. En die oom wat Vicks, Airmune en ‘n warmwatersak koop.

Dan besef jy: ons is maar almal mense. En by baie mense gaan dit baie woester as by jou.

Almal het maar hulle voornemens, hulle planne, hulle lysies. En sommiges kry dit beter reg om hulle lysies af te tik as ander. En ons sal maar altyd ‘n aanvaarbare verskoning vind waarom ons lysies nie afgetik is nie. En daar sal maar altyd meer goed op ons lysies wees as wat ons regtig op ‘n dag kan doen.

Halfjaar lysie

Intussen het ek besluit om ‘n halfjaarvoornemens-lysie te maak. Spesiaal vir die winter en vakansie.


Hier is hy:

  1. Sit minder goed op my lysies

  2. “Cuddle” meer – dit is immers winter

  3. Drink meer {goeie} koffie om warm en aan die gang te bly

  4. Maak meer tyd vir lees en kuier met my huismense

  5. Loop ‘n hele dag lank met pantoffels

  6. “Worry” minder

  7. Tel 3kg op – dit help mos met isolasie teen die ergste koue

  8. Deel drukkies uit

  9. Geniet die lewe

  10. Vat ‘n lang, warm bad (en bereken maar later die skade wat die kinders in daardie 10min aangerig het)

  11. Skryf my lysies eerder in ‘n dagboek – dan hoef ek nie heeltyd daarna te soek nie

  12. Vee Februarie se lysie van die witbord af

  13. “Unsubscribe” van alle outomatiese e-posse


Groete Karyna

lewer kommetar
bottom of page