top of page

Idees vir Juffrou-geskenke

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek begin kopkrap oor watter geskenke ek vir my kinders se juffrouens moet gee. Nee, wag, ek praat nie heeltemal die waarheid nie! Ek dink gewoonlik eers daaraan die oggend wanneer die skool sluit of ten minste 'n dag voor die tyd... Maar hierdie jaar dink ek bietjie vroeër al daaraan.


Ons het by 'n paar jufrrouens gaan aanklop om te hoor wat dink hulle is oulike geskenke. Al die juffrouens se eerste antwoord was iets in die lyn van "ons verwag regtig nie geskenke aan die einde van die jaar nie. Dit is heerlik om bederf te word, maar ons besef dit bly 'n voorreg om 'n geskenkie te kry."


Ons wou by die juffrouens weet:
  • Wat is van die oulikste geskenke wat jy al gekry het?

  • Watter geskenke sal jy graag nog wil kry?

  • Watter geskenke het jy al baie van gekry en is nie altyd so sinvol vir jou nie?

  • Watter geskenk kan ouers maar weer en weer vir jou gee?

Ons kriteria
  • Die geskenk moet onder R200 wees

Onthou ook dat juffrou-geskenkies nie veronderstel is jou 'n plaas se prys te kos nie. Die idee is om vir juffrou dankie te sê vir al haar moeite deur die jaar. Dit is nie 'n kompetisie om te kyk wie kan die duurste of oulikste geskenk gee nie.


Hier is so paar juffrou-goedgekeurde idees vir oulike juffrou-geskenke.


1. Iets met juffrou se naam op:

Jy kan 'n juffrou in 'n wip vang met 'n geskenkie wat haar naam op het. Jy kan iets laat maak vir haar of jou kind kan self ietsie maak vir juffrou.


Laat maak dit

Koffiebeker of fles

Juffrouens hou gewoonlik van koffie (dit kry hulle deur die dag) en hulle moet baie water drink. 'n Bottel of koffiebeker of selfs 'n glas met haar naam op sal maak dat sy nooit haar beker in die personeelkamer "verloor" nie. Hierdie oulike bekers hieronder sal sy selfs kan saamvat wanneer sy gaan kamp of tydens pouse gebruik as sy moet terreindiens doen.

Jy kan hierdie bekers bestel by The Crafty Ginger. Hulle het van die beste pryse op die internet (Ongeveer R150 - R180 vir hierdie tipe geskenke). Of soek 'n bietjie rond vir iemand in jou omgewing wat drukwerk doen of soortgelyke bekers verkoop.


Pennesakkies of juffrou-sakke

Jy kan juffrou se naam of 'n mooi aanhaling op 'n pennesakkie of 'n inkopiesak vir juffrou se boeke laat druk. Dit is ook beskikbaar by The Crafty Ginger. En dit kos maar tussen R45 en R55 per sak.




Maak dit self

Juffrouens is mal oor goeters wat spesiaal vir hulle gemaak is.


Koop 'n stel penne wat op keramiek kan skryf. Hulle is beskikbaar by Takealot , kunswinkels, Builders ens.

Koop 'n wit koffiebeker, 'n opdienbord of melkbekertjie en laat boetie of sussie 'n boodskap daarop skryf.


Hulle kan dit ook verf met glasverf.


2. Juffrouens hou van skryf, plak en organiseer:

Juffrouens moet beplan, hulle moet onthou, hulle moet boeke merk en hulle moet vir kinders punte gee. Hier is paar planne daarvoor.


Plakkers

Plakkers is iets wat opraak. So, 'n juffrou kan nooit genoeg plakkers hê nie. Die voorbeelde wat ons hier gee is te kry by Mysisterandi . Jy kan ook by hulle ook plakkers bestel wat juffrou se naam of persoonlike boodskappies op het.

SA Toytrade het ook van die plakkers beskikbaar. Weereens kan jy bietjie soek vir iemand naby aan jou wat dalk op plakkers druk.


Notaboek


Enige mooi notaboekie met 'n pen sal 'n juffrou se hart blymaak. Of julle kan julle kreatiwiteit inspan en 'n mooi voorblad maak. Jy kan 'n gewone hardeband A5 boekie vat, 'n mooi voorblad druk of teken en dit dan met plastiek of kleefplastiek oortrek.



Juffrou Dagboek

Hierdie is baie oulike dagboeke spesiaal met 'n

juffrou se program in gedagte. Hy is beskikbaar in A4 (R350) of A5 grootte (R250) by Fontein Uitgewers of op Takealot. Ek weet daar is baie weergawes van juffrou-dagboeke beskikbaar. Ek het egter al 'n hele paar jaar lank self hierdie spesifieke een gebruik en ek kan dit regtig aanbeveel.


Skryfbehoeftes

Enige vorm van skryfbehoeftes sal juffrou se hart laat vinniger klop. 'n Rooi pen, 'n houertjie met mooi inkleurpotlode, stempels of "sticky notes". Gee dit saam met 'n sjokolade en dan het jy die perfekte geskenk vir juffrou.


Het jy geweet dat 'n juffrou tussen 16 en 20 rooi penne opskryf gedurende 'n jaar?


Mooi skryfbehoeftes

"Sticky notes", afskeur notaboeke, mooi papier om kaartjies op te skryf en enige mooi skryfpapier


3. Ietsie te ete is altyd 'n wenner

En as juffrou dit nie self alles gaan opeet nie, het sy baiemaal 'n man en kinders by die huis wat jou ewig dankbaar gaan wees en wat heel moontlik sit en wag dat hulle ma huis toe moet kom die laaste dag van skool.


Tuisbebakte koekies

Kry by ouma haar heerlikste resep, laat die kinders die koekies uitdruk en verpak dit mooi in 'n boksie. Of maak vir juffrou heerlike brownies waarmee sy by die huis kan opdaag en haar gesin se held kan wees.


Gekoopte koekies

En as jy nie 'n kranige bakster is nie, is 'n mooi blik met lekker koekies ook altyd 'n

wenner. Onthou, die vakansie lê voor en juffrou moet vir gaste koffie en koekies gee of haar kinders besighou of see toe ry. Hierdie koekies is R100 by Woolworths


Sjokolade of sjokoladestokkies

'n Boks sjokolade of 'n plak sjokolade. Sjokolade in enige vorm is altyd aanvaarbaar. Die kans is groot dat julle na 'n jaar in juffrou se klas darem sal weet wat haar gusnteling sjokolade is.


Koffie of tee

Wat van 'n lekker bederfboksie met tee of koffie in (hang af waarvan juffrou hou). Sit sommer die koekies en sjokolade saam in die boksie en maak juffrou se dag!


4. Ietsie wat lewe

Maar asseblief nie een van Woefels of Kattie se nuwe kleintjies nie. Ook nie Hannie Hamster se afstammeling nie. Dink meer in terme van groen goed wat lewe (goed, ook nie boetie se toebroodjie wat hy in sy kosblik vergeet het nie).


'n Plant

Juffrou het jou kind vir 'n hele jaar lank aan die lewe gehou, elke dag die nodige "voedsel" en water gegee... So, wat beter om te gee as 'n mooi plant? Of 'n bos blomme?


'n Bos blomme

Dit is immers sekerlik iets wat juffrou nooit vir haarself sal koop nie maar altyd sal waardeer.




5. Nog 'n paar idees

Room (Nie heuning of kakiebos-geur nie. Dalk eerder iets neutraal)

Sjokolade

Geskenkbewyse

Enige iets wat die kind self vir juffrou gemaak het

'n Oulike houertjie of bakkie waarin sy koekies kan bedien


Geskenke wat jy dalk liewers moet vermy

Ornamente vir haar huis

Oorbelle of krale (Tensy jy die juffrou BAIE goed ken en weet wat haar smaak is)


Wat juffrouens sê oor geskenkies

"Ons waardeer die gesiggie wat nie kan wag om vir Juffrou die geskenkie te gee nie. Dit is "prysloos"."


"Dit hoef nie groot of duur te wees nie. 'n Klein geskenkie wat met nadenke gekies/gemaak is, is 'n waardevolle herinnering aan 'n kind in my klas"


"Ons verwag nie geskenkies nie. Alhoewel dit heerlik is om iets te kry, weet ek dat ek glad nie geskenke verdien nie. Dit is vir my heerlik om vir die kinders skool te gee."



Betrek gerus jou kind in die kies of maak van die geskenkies. 'n Geskenk wat deur die kind self gemaak/gekies is, het baie meer waarde as 'n peperduur geskenk wat die ma gaan koop het en die kind weet nie eers wat kry juffrou nie.

Het jy dalk ook 'n oulike idee vir 'n juffrou-geskenkie? Of dalk weet jy van iemand wat oulike geskenkies maak. Plaas gerus jou idees hieronder in die kommentaar.

lewer kommetar
bottom of page