top of page

Mamma, kyk!!

“Mamma, mamma, kyk hoe hoog spring ek”. “Mamma, kyk hoe mooi teken ek”. “Mamma, lees vir my ‘n storie”. “Mamma, lê bietjie by my”. “Mamma, help my”. Die lewe is ‘n voortdurende wedywering om mamma se aandag en goedkeuring.


Dít, en nog ‘n hele paar ander, is alles frases wat ek elke dag ‘n paar duisend maal moet aanhoor. Maal dit met 5 kinders, dan moet ek kophou om by te hou met almal se versoeke. Soms irriteer dit my omdat ek na die vreemdste goed moet kyk op die onmoontlikste tye vir die hoeveelste keer op een dag. Ek het al paar keer gesê: “Ek sal nog 5 keer kyk, dan is dit klaar”. Ek meen, ‘n mens kan ook net soveel keer vir ‘n bollemakiesie-poging kyk, veral as die meeste van die pogings faal. En veral as jy moet kosmaak, foon antwoord, doeke ruil, honde kosgee, huis skoonmaak en alles wat daar nog gedoen moet word. En dan moet ek gereeld hoor

“Maar, mamma, ek het dit nounet reggekry toe mamma nie gekyk het nie.”

Ek het al baie gewonder wanneer hou hierdie “mamma, kyk-wat-kan-ek-doen” dan op? Wanneer raak kinders minder afhanklik van mamma se goedkeuring? Wanneer kan hulle selfstandig aangaan sonder dat mamma altyd moet kyk, instemmend knik of haar goedkeuring gee?

En onlangs het ek tot die besef gekom dat dit nooit ophou nie. Hierdie goed wat jy eintlik maar net vir jou ma wil sê. Die dinge waarna mamma moet kyk of waarvoor ek graag mamma se goedkeuring wil hê, verander net so bietjie. Maar die “mamma kyk vir my” hou nooit regtig op nie. Die manier hoe jy mamma se aandag wil trek, raak net meer volwasse en subtiel.


Dit raak ‘n “tag” in ‘n Facebook plasing, ‘n nooi na ‘n kleuterkonsert, ‘n foto vir ouma van ‘n kleinkind, ‘n spog met ‘n rapport, 'n "mamma, ons gaan 'n baba kry" of soms net ‘n doodgewone “wat dink mamma van my netjiese sitkamer?” Maar mens bly maar jou hele lewe lank afhanklik van jou ma se liefde, goedkeuring, onverdeelde aandag en ondersteuning.


Ek het tot hierdie besef gekom toe my ma skielik nie meer daar is nie. Toe ek, as volwasse vrou van 32 met my eie 5 kinders my ma skielik verloor het in hierdie lewe. Nooit het ek gedink dat dit met my sal gebeur nie.

Maar hier is ek nou. ‘n Dogter sonder haar ma.

Ek kan nie meer vir haar ‘n foto stuur om my te help besluit tussen die groen of pienk rok nie. Ek kan nie meer vir haar oulike videos van die kinders stuur net sodat sy kan sien hoe oulik is hulle nie (of hoe oulike mamma is ek nie). Ek kan nie meer bel net om te sê “mamma, luister asb bietjie hier” as ek die dag af voel nie. Niemand anders kan, soos ‘n ma, oor ‘n telefoon hoor as daar fout is nie (behalwe 'n skoonma, sy kan dit hoor). Niemand raak so opgewonde oor skoolrapporte soos ‘n ouma nie. Niemand waardeer hope briefies, blommetjies, opgetelde klippies en fotos van kinders soos ‘n ouma nie.


Maar, tog is ek dankbaar vir elke keer dat sy, toe ek ‘n klein dogtertjie was, wel vir my gekyk het toe ek so hoog geswaai het, geluister het as ek stories wou vertel, by my op die bed gelê het as ek nie kon slaap nie, gespog het met my skoolprestasies, vir my vertel het hoe oulik ek vir haar is, my sportbyeenkomste bygewoon het, met my geduldig was toe ek ‘n tiener was, my troue gereël het, met trane in haar oë my kinders se dope meegemaak het, hulle konserte bygewoon het, en ook gekyk het as hulle vra: “ouma, kyk vir my” en geluister het as hulle vra: "ouma, hoor hier". Want dit is die goed waaraan ek vashou. Dit is die dinge waaraan ek elke dag dink. Dit troos my om te weet dat, toe sy nog op hierdie aarde was, sy ten volle hier was. Dat sy vir my geluister het en vir my gekyk het en vir my goedkeuring en aanvaarding gegee het. En eintlik dat sy my geleer het om nie my aanvaarding in mense te soek nie. Sy het my geleer dat die Here vir my lief is en dat Hy my aanvaar, sondaar wat ek is.


En ek hoop om deur haar voorbeeld ook dieselfde vir my kinders te doen. Want ek besef nou eers hoe ontbaatsugtig en onselfsugtig sy was. Hoe baie sy wel gekyk het en geluister het as sy dalk eintlik nie tyd of energie daarvoor gehad het nie.

En ek is ook getroos in die wete dat ons familie hier op aarde nie net ons bloedfamilie is nie.

In Romeine 9:8 lees ons: “Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.”

Daar is ander ma’s en oumas in die gemeenskap, in die Kerk, wat die Here vir ons gee. Nie famile deur bloed nie, maar deur die Bloed van Christus. Daarin lê baie genade opgesluit. Ons word vertroos, reeds hier op aarde, deur mense wat die Here op ons pad stuur. Deur ons geloofsfamilie.

En, al is my ma nou nie meer hier om te kyk as ek vra “mamma, kyk!” nie, weet ek verseker dat my Hemelse Vader se aangesig altyd na my gedraai is soos wat ons in Numeri 6 vers 24 – 26 lees:


Die HERE sal jou seën en jou behoed;

die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;

die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Liefde Karyna



lewer kommetar
bottom of page