top of page

‘n Mamma wat sukkel met angstigheid

Ons deel graag ñ plasing van een van ons lesers.


"Ek hou van in beheer wees. Ek hou van beplan en om voorbereid te wees op alles. Ek dink vooraf aan elke senario wat dalk kan gebeur of fout kan gaan en probeer dit vermy of oplos nog voordat dit gebeur het."


"Ek sukkel met delegeer. Ek sukkel met angstigheid. Ek sukkel met verandering. Ek sukkel met die onverwagse. Ek sukkel met hulp vra of aanvaar."


Ek is 'n "over-thinker"

Iets soos familie wat onverwags kom hallo sê by ons huis. Of die kampplek langs die rivier waar ek my kinders gaan moet veilig hou vir ‘n week. Of as een van ons kinders siek word en in die hospitaal beland en ek nie by die huis by my ander kinders kan wees vir ‘n tydperk nie. Of om hulle skool toe te stuur. Of by Ouma moet los vir ‘n paar ure. Om nie eers te praat van wanneer hul ouer is en hul op skooltoere of uitstappies moet gaan nie (dit laat my nou al stres en angstig voel).


Ek oordink alles. Ek sien baie keer die ergste wat dalk moontlik miskien kan gebeur. En emosioneel vreet hierdie angstigheid en buite-beheer-wees my op. Selfs angstigheid oor my besluite, was dit goed of sleg. Ek bevraagteken alles.


Veral as dit by my kinders kom…


Ek hoor die frase: ”It takes a village to raise a child” en ek dink "neewat, ek kan hierdie alleen doen (wel saam met my man)". Dis ons kinders, ons (en net ons) weet wat is die beste vir hulle.


Met swangerskap kry ek raad en wenke, met ‘n nuwe baba kom daar nog meer boererate en selfs deur die kleuterjare hou dit nie op nie. Ek hoor en ek luister, somtyds met ‘n knippie sout en ander kere meer aandagtig.


Maar dan gaan lees ek op en soek ek antwoorde en vra ek vrae. En maak dan self my besluit.


En dan gebeur daar iets wat die appelkar omgooi… iets buite my beheer. Ewe skielik is die angstigheid so erg, dat ek in ‘n emosionele wrak verander en ek amper nie kan funksioneer nie.


“Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos 'n koning wat gereed staan vir die aanval,”

‭‭JOB‬ ‭15‬:‭24‬ ‭AFR53‬‬


My hart word in twee geskeur, maar ek kan nie op twee plekke gelyk wees nie. Ek word gedwing om hulp te aanvaar. Om iemand te vertrou by my kind terwyl ek op ‘n ander plek moet wees.


Met ‘n onrustige gemoed whatsapp of bel ek amper elke 10 minute.


"Dankie tog, die krisis is verby. Ek kan huis toe gaan. Na my gesin, na my “comfort zone”, waar ek in beheer is."


Daar gekom lyk dit of my 2 jarige amper nie eers agter gekom het ek is weg nie… Hy speel so lekker!


Dan beleef ek die teenstrydigste gevoel. Ek is dankbaar dat hy piekfyn is sonder my, maar ek voel hartseer dat hy my nie so nodig gehad het soos wat ek gedink het hy sou nie…


In daardie oomblik besef ek my afhanklikheid. Eerstens van die mense naby aan my, my “village”, my ondersteuningsnetwerk, vriende en familie en ons geloofsgemeenskap. Ek besef ‘n mens kan nie alles alleen doen nie, ‘n mamma kan nie altyd daar wees nie, ek sal moet leer om te vertrou.


En dan die belangrikste my afhanklikheid van my Hemelse Vader. Want Hy is in beheer selfs wanneer ek dink dat ek in beheer is en ook wanneer ek glad nie in beheer is nie.


“Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”

‭‭SPREUKE‬ ‭3‬:‭5‬ ‭AFR53‬‬


Die afhanklikheidsbesef lei tot dankbaarheid. Dankbaar vir die mense om ons wat daar is om te help. Dankbaar vir die ondersteuning en dankbaar vir al die seëninge.


“Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.”

‭‭HEBREËRS‬ ‭12‬:‭28‬ ‭AFR53‬‬


Ons het 'n onwankelbare koninkryk ontvang, God is onwankelbaar en al slaan die lewe se golwe ons onderstebo of al is ons emosies op en af soos die deining van die see, God is standvastig, Hy is getrou en Hy moet ons fondasie wees.


“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.”

‭‭JAKOBUS‬ ‭1‬:‭6‬ ‭AFR53‬‬


Maar volgende keer is die angstigheid maar weer daar. Voordat ek kan keer voel ek weer verward en onseker oor al die angs my... Deur daaroor te praat met my man help my... Ek leer dat ek myself wel kan voorberei en my angs onder beheer kan bring. Ek leer om te vertrou. Maar dis nie altyd maklik nie.


Vir elke mamma daar buite wat angstig voel, Jy is nie alleen nie.

Ek het nie regtig antwoorde nie, behalwe dat ons ons lewe in God se hand moet plaas. Ons moet besef dat Hy almagtig is en dat Hy in beheer is. Bid vir hulp om ons angstigheid te verwerk en te hanteer. En aanvaar hulp. God seën ons met ‘n ondersteuningsnetwerk. Al is dit net een vriendin met wie jy kan praat of wie jy kan bel in nood.


“Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.”

‭‭JAKOBUS‬ ‭5‬:‭13‬ ‭AFR53‬‬


Partykeer gebeur daar dinge waaroor ons geen beheer het nie. Gaan op jou knieë en gee dit oor in God se hand.


En as jy steeds sukkel...kry proffesionele hulp en moenie skaam voel daaroor nie.


Ons mamma's probeer baiemaal alles vir almal wees ten koste van onsself... kyk na jouself mamma en pas jouself op sodat jy 100% daar kan wees vir almal wat jou nodig het!!


“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

‭‭JESAJA‬ ‭41‬:‭10‬ ‭AFR53‬‬


“Ek het in my angs gedink: Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp. Tog, U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het.”

‭‭PSALMS‬ ‭31‬:‭23‬ ‭AFR83‬‬


lewer kommetar
bottom of page