top of page

Skoolgereedheid


My sesjarige kondig nou die dag vol bravade aan:

“Mamma, die tandemuis is eintlik nie ‘n muis nie”.

My emosies het in ‘n baie kort tydjie gewissel van heimwee dat sy nou al so groot is tot hartseer dat iemand dit durf waag om haar te vertel dat die tandemuis nie bestaan nie.


Weemoed omdat ons tande-in-die-skoen-sit dae nou oor is (en sy is net 6jaar oud) en vrees omdat die tyd so vinnig verby gaan. Ek was ook effens teleurgesteld omdat ek nie die voorreg gehad het om die nuus te breek nie. Ek het egter nie haar volgende opmerking verwag nie.

“Dis nie ‘n muis nie, dis eintlik ‘n rot”.

Verligting het oor my gespoel. Ek wil haar nog so rukkie my ou klein dogtertjie hou. En die tandemuis is my laaste hoop. Want sy moet volgende jaar grootskool toe. Alhoewel ek seker is dat sy reg is daarvoor (en haar skoolgereedheidstoetse beaam dit) wonder ek tog maar hier diep in my hart of sy regtig reg is hiervoor? Sal sy kan byhou in die klas? Ek dink sy is ‘n slim kind maar gaan sy nie dalk iewers sukkel met iets nie?


Gaan haar graad 1 juffrou nie dalk op die eerste oueraand die nuus breek dat my dogtertjie nie kan stilsit in die klas nie. Of haar letters omruil of so iets nie? Is dit nie maar elke mamma se vrees nie?

Wat is skoolgereedheid?

Skoolgereedheid is presies wat die woord sê: gereed vir formele skool. Maar wat behels dit? Tot nou toe het jou kind op 'n informele, spelender en konkrete wyse geleer. In graad 1 gaan daar van haar verwag word om baie meer stil te sit, te luister, te konsentreer en te onthou.


Nou gaan jou kind meer abstrak moet begin dink. Sy gaan skoolklere begin dra. Sy gaan die jongste in die skool wees (waar sy nou die oudste was). Daar is nou ‘n skoolklok, pouse, huiswerk en baie meer aktiwiteite. Sy kan ook nie meer net impulsief opstaan om haar potlood skerp te maak nie. Sy gaan moet begin beplan om haar huiswerk klaar te kry. Sy gaan take moet voltooi en ook kan prioritiseer sodat sy al haar werk in die gegewe tyd kan voltooi.


Jou kind moet inligting kan onthou (kort- en langtermyngeheue) en later die inligting moet kan herroep om te gebruik. Sy sal ook effektief moet kan konsentreer en aandag skenk om te verseker dat sy nie agter raak nie. Haar prosessering van inligting moet voldoende en vinnig wees sodat sy nie te stadig werk en agter raak nie.


Vaardighede

Haar grootmotoriese vaardighede moet in plek wees sodat die fynmotoriese vaardighede daarop kan bou. En graad 1 is so belangrik want as sy nou agter raak, haal mens moeilik weer in. Sjoe, graad 1 maak my sommer bang!

Gelukkig is daar ‘n groot sprong in ‘n kind se ontwikkeling tussen 6 en 7 jaar. Dit is waarom hulle juis nou skool toe gaan. Hulle raak gereed daarvoor en as alles in plek is, sal hulle hierdie uitdagings kan baasraak. Jy sal ook die verandering in kognitiewe, sosiale, emosionele, fisieke en motoriese vaardighede in jou kind begin waarneem. Daar is ‘n aantal tekens dat jou kleutertjie nou groot word.


Sy wissel tande, kan vir langer tye konsentreer en begin met jou redeneer. Sy het heel moontlik ook nie meer ‘n kleuterlyfie nie en begin sommer soos ‘n “groot kind” lyk. Haar gesprekke sal ook meer volwasse raak en sy begin eksperimenteer met skryf. Baie graad R’e kan nou ook al hulle name skryf en basiese sommetjies doen. Hulle sal ook meer bedrewe wees met rakette, kolwe en balle. Hulle behoort te kan touspring en veters vasmaak en ryg.


Voor geboorte

Skoolgereedheid begin egter reeds voor geboorte. Om al hierdie vaardighede te kan bemeester, moes jou kind baie ander dinge reeds geleer en ontwikkel het. Die fondasie vir formele leer word in die eerste 6 jaar van 'n kind se lewe gelê wanneer hulle speel-speel baie belangrike vaardighede aanleer. Hierdie is 'n belangrik tyd vir die ontwikkeling en vaslê van grootmotoriese-, emosionele-, sosiale-, kognitiewe- en perseptuele vaardighede.


Alhoewel hierdie die tyd van die jaar is waar skoolgereedheidstoetse en perseptuele gereedmakingsprogramme op almal se lippe is, begin skoolgereedheid eintlik reeds lank voordat jy jou babatjie in jou arms vashou.

Indien 'n kind voldoende en ouderdomsgepaste stimulasie op die regte tyd gedurende die kleuterjare ontvang, sal sy heel moontlik in graad 1 gereed wees vir die aanleer van meer komplekse vaardighede en die uitdagings wat formele onderrig aan haar gaan stel. As haar emosionele tenk vol is, behoort sy te kan skei van haar mamma en pappa omdat sy geliefd en geborge voel. As sy haarself kan help sal sy heel moontlik met selfvertroue kan gaan luister wat juffrou vir haar wil leer. En nou is sy gereed vir die groot skool.


Sensories Dit is egter belangrik dat graad 1's steeds sensories-motories gestimuleer word. Hulle is nie skielik net groot nie. Hulle moet nog in die sand speel, swaai, in die rondte draai en met al hulle sintuie leer. Hulle moet in die formele skoolopset in begelei word. En as al die aspekte van skoolgereedheid (grootmotories, fisies, emosioneel, kognitief) in plek is, is die kans groot dat jou graad eentjie gaan floreer in die grootskool.


Ouers speel 'n baie belangrike rol in die gereedheid vir skool. As jou kind geborge en veilig voel, sal sy heel moontlik emosioneel gereed wees vir skool. Hoe kan jy help? Jy kan haar opgewonde maak vir skool deur te praat oor die groot skool. Gaan koop saam skoolklere, kies 'n skooltas en maak haar opgewonde oor die jaar wat kom. Los haar om self haar broodjies vir skool te smeer, haar tas te onthou en om haar eie klere te kies en aan te trek.


Wys haar hoe om haar veters vas te maak, leer vir haar jou selfoonnommer en julle adres. Eet so gereeld moontlik aan tafel met ‘n mes en vurk (sy gaan in graad 1 by ‘n tafel moet sit en met ‘n potlood op papier skryf). Oefen touspring en skêrspronge (jumping jacks). Speel speletjies waar sy instruksies moet volg en oefen links en regs in. Gee opdragte wat sy moet onthou en lees vir haar baie boeke.


Kry gereeld oefening in en genoeg slaap en vestig nou al ‘n goeie roetine. Kry vir haar ‘n lessenaar en netjiese werkplekkie in haar eie kamer wat sy self moet skoonhou. Sorg dat sy gebalanseerd en gesond eet en gee visolie- en omega aanvullings sodat haar brein optimaal kan funksioneer. En as jy bekommerd is oor iets, moenie wag nie. Kry hulp en sorteer dit uit voordat die probleem groter raak.



Geniet dit

En, die belangrikse van alles, geniet hierdie laaste stukkie van jou kind se kleuterlewe. Hou haar op jou skoot vas en lees vir haar boekies want een van die dae kan sy vir haarself lees. Gooi maar tandmuis-geldjies in haar skoen want binnekort spandeer sy dit by die snoepie. Sy betree nou ‘n nuwe wêreld wat vir haar opwindend maar tog angswekkend kan wees.


En sorg dat jy, mamma, gereed is vir graad 1. Dit is soms ‘n groter aanpassing vir die mamma as vir die kind. Onthou dat ons eintlik ons kinders gereedmaak vir die lewe en nie net vir skool nie. Ons berei hulle voor vir ‘n blink toekoms wat wink. Die vaardighede wat hulle nou aanleer gaan hulle saamdra deur die lewe. So gaan daar baie kere wees waar ons hulle voorberei vir ‘n nuwe fase in hulle lewe. Die lewe is vol fases, oorgange en elke keer nuwe dinge.


En ons is daar om te sorg dat ons kinders gereed is daarvoor. Graad 1 is maar net ‘n klein treetjie in die rigting wat vir jou kind bepaal is. ‘n Klein treetjie na groot dinge wat wag.


-Karyna-

lewer kommetar
bottom of page