top of page

Bespreek jou plek in die kerk

Dit was vir my vreemd toe ek die eerste keer hoor ek moet my plek “boek” in die kerk. Amper soos ‘n vertoning of konsert met beperkte plek. Want daar mag mos nou net 50 mense op ‘n slag in die kerkgebou bymekaarkom.


Aanvanklik was ek effens opstandig daaroor. COVID-19 het ons lewens heeltemal deurmekaar kom gooi maar my ook gedwing om oor baie dinge te dink. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek die feit dat jou naam op ‘n lys is vir die erediens, is nie eintlik so vreemd nie. Want sien, as die dominee se vrou, sien ek hoeveel moeite verg dit om almal gemeet en gepas en getel te kry sodat elke lidmaat ‘n plek het in die erediens. Dit laat my baie dink aan die Here Jesus wat vir ons elkeen ‘n plek gereed maak in die hemel soos wat ons lees in Johannes 14. En as daar nét 50 mense is in die diens, sien jy nogal raak wie nié daar is.

Die kol waar jy moes sit, is leeg as jy nie kerk toe kom nie.

Ek wonder toe Sondag so by myself. Is dit nie maar eintlik presies hoe kerk werk nie? Jou plek is eintlik altyd “geboek” in die kerk. Daar is eintlik altyd spesiaal ‘n plek vir jou gereserveer en voorberei. En as jy nie opdaag nie, is jou plek werklik leeg. Dit is, lyk my, glad nie so vreemde konsep en slegs gekoppel aan “DIE VIRUS” dat jou plek spesiaal vir jou “gereserveer” is en dat hy dolleeg is as jy nie opdaag vir kerk nie.


Ons kinders is in hierdie grendel tyd regtig opgewonde om te sien wie gaan by die kerk wees. Hulle vra al Vrydagaand vir my: “mamma, kyk bietjie op die lys wie gaan ons almal Sondag sien”. En die teleurstelling is groot as hulle dan nie die mense sien wie hulle daar verwag het nie. Dit is eintlik ook hoe ek elke Sondag, pre-COVID, gevoel het as ek iemand nie by die kerk sien nie. Jou plek is oop, leeg, ‘n hartseer kol. Ons wou jou so graag sien, nou is jou plek leeg.

Covid het niks verander nie, dit het net kom uitwys hoe maklik ons die afsprake wat ons met die Here het, ignoreer en misloop.

Daar is wel geleenthede wanneer jy ‘n erediens mis omdat die omstandighede jou daartoe dwing. Soos toe ons een seuntjie nou-die-dag mangelontsteking gehad het. Hy het koors gehad, seer keel, moegheid en alles wat jy op die Covid-kontrolelysie sou kon aftik. Ek het ons ouderling laat weet dat ons ongelukkig nie die diens gaan kan bywoon nie. En weet jy wat was die gevolg? Dit is afgekondig in die diens, die gemeente het ons sterkte toegewens en die ouderling het twee maal in daardie week gebel om te hoor hoe dit gaan.


Dít is mos nou meelewing, gemeenskap van die gelowiges. Dít is kerk. Mense wat omgee vir mekaar. Die kerk is nie net die plek waarheen jy Sondag gaan nie. Maar hoe kan mense vir jou omgee as hulle nie wéét waarom jy nie daar is nie? En hoe gaan hulle wéét daar is fout wanneer jy die dag nie opdaag nie. Veral as dit jou gewoonte is om jou afspraak met die Here en die gemeente sommer maar net mis te loop?


Hierdie “bespreking” van my plek vir die erediens is opnuut vir my ‘n uitnodiging om saam met ander gelowiges bymekaar te kom om die Here te aanbid. Om mekaar in die oë te kyk en te sien hoe dit werklik gaan. En dit is ‘n aansporing om my plek vol te sit (en ons le Roux’s sit nogal 'n kerkbank vol). Dit is ook vir my ‘n aanmoediging om medelye te hê met diegene wat graag die diens fisies sou wou bywoon maar weens siekte, ouderdom of welke geldige omstandighede ookal, nie daar kan wees nie.


Vir my is fisiese kerkbywoning ‘n vaste afspraak met die Lewende God en ook met Sy kerk, Sy gemeente. Dit is ‘n voorreg om in Sy huis saam met mede-gelowiges te mag bymekaarkom om Hom te aanbid.


Dit geld ook vir my persoonlike stiltetyd.


Persoonlike stiltetyd is ‘n vaste afspraak wat ek nie sommer net moet misloop nie.

Ek sal mos nie ‘n afspraak met my kind se onderwyser of ‘n doktersafspraak sommer net misloop nie? Seker omdat ‘n doktersafspraak my geld gaan kos of omdat die afspraak met my kind se onderwyser belangrik is vir sy toekoms. Het jy geweet dat jou afspraak met die Here ook iets gekos het? Baie meer as geld? Dit het Christus se bloed gekos. Nou kan ons ‘n lewende verhouding met God hê. Kerkbywoning is ‘n vaste afspraak om in Sy huis bymekaar te kom om Hom te aanbid.

En persoonlike stiltetyd is ‘n belangrike afspraak waar ek tyd met my Vader kan spandeer, elke dag.

Om hierdie afspraak te verontagsaam of om my “bespreekte” plek te laat oopstaan Sondag na Sondag het net so groot invloed op my kind se toekoms.


Onthou dus Sondag dat jou plek bespreek is en as jy nie opdaag nie, dat jou plek leeg is. Leer jou kinders dat hulle die afsprake met die Lewende God moet nakom, nie uit skuldgevoel of ordentlikheid of blote gewoonte nie maar wel uit dankbaarheid dat jy ‘n persoonlike afspraak met die Skepper van hemel en aarde kan hê. Omdat jou naam op Sy lys staan as BESPREEK. Ek sien uit om Sondag die erediens te gaan bywoon. Soos die digter van Psalm 122 sing: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!”


Sien jou Sondag by die kerk.

lewer kommetar
bottom of page