top of page

Hoe minder goed, hoe meer vreugde

Ek laat my kinders toe om dwarsdeur ons huis met hulle fietse te ry. Nie omdat dit goed is vir hulle ontwikkeling of omdat ek 'n "cool" mamma wil wees of enige so rede nie. Die rede hiervoor is bloot net omdat dit my ongekende vreugde verskaf dat daar wel 'n pad deur die huis is om met hulle fietse te ry!!


Dit was nie altyd die geval nie. Ons huis was in die verlede meer soos 'n hindernisbaan as 'n oop fietsbaan... As boewe hier moes aankom terwyl ons weg is, sou hulle omdraai en sê: "Hier was klaar skelms, kyk hoe het hulle alles omgedolwe"


Ons huis was permanent deurmekaar met goed wat orals rondstaan. En goed wat rondstaan maak 'n ma moedeloos. Dit maak haar skaam om mense te nooi en dit veroorsaak dat kinders net nog meer goed rondgooi.


Die verskonings

En as ek dan in mense se huise kom wat geminimaliseer is en wat omtrent altyd netjies is, voel ek nog meer soos 'n mislukking van 'n huishoudster. Dan kom die verskonings:

  • Hulle het 'n bediende en ek nie

  • Hulle het nie so baie kinders soos ek nie

  • My kinders is nog klein

  • Hulle bly nader aan die skool, ek ry baie rond, ek is baie minder by my huis

  • Ek is 'n regterbrein, ek kan nie 'n huis netjies hou nie

  • Miskien help hulle mans meer in die huis

  • En nog vele ander redes....

En later begin jy regtig in jou vermoëns twyfel. Dan kom die finale verdoemende gedagte:

Ek is seker maar net lui of oneffektief. Ek sal nooit 'n netjiese huis hê nie.

En as jy so moedeloos voel, is die laaste ding wat jy wil doen om huis skoon te maak!


Daar is hoop

Vandag wil ek jou egter kom bemoedig! Daar is hoop, al is dit 'n hoop wasgoed of 'n hoop skottelgoed! Daar's hoop!


Want selfs ek kon dit regkry. Ons hoop wasgoed en ons hoop skottelgoed het kleiner geraak. En dit maak my minder moedeloos. Dit het egter nie sommer net oornag gebeur nie. Maar as ek terugdink aan die proses, was dit eintlik nie so moeilik nie. Dit het werk gekos. En tyd en bietjie beplanning. Maar dit is absoluut die moeitewerd.


Die probleem

Die probleem met boeke en blogs en Pinterest prentjies oor minimalisme en organisasie, is dat dit deur mense geskryf is vir wie dit natuurlik kom. Hierdie blogplasing wat jy nou lees, is egter 'n uitsondering. Netheid, organisasie, minimalisme kom beslis nie vir my natuurlik nie. Ek is 'n regterbrein (en my man ook).

  • Ek houvas aan goed omdat dit vir my sentiment het

  • Ek sukkel om by 'n skoonmaak roetine te bly

  • Ek sien nie raak as goed deurmekaar lyk nie

  • Ek sal eerder kuier as opruim

  • Ek sal gaan slaap al lyk die kombuis of daar 'n partytjie in gehou was

  • Ek dink slim planne uit om my huis netjies te hou maar die planne word nooit uitgevoer nie

  • Ek is BAIE goed met verskonings uitdink...


Die oplossing

Steek jou huis aan die brand! Sorg net dat jou versekering in orde is...


Nee, regtig... Daar is 'n oplossing. Ook vir ons wie se breine anders werk as die natturlik-georganiseerde mense s'n. Die oplossing is juis vir ons...


Maak jou aardse besittings minder!

Goed, dit is die eerste stap tot 'n netjies huis. Daar is nog verskeie ander dinge wat jy moet doen. Soos om jou huis netjies te hou. En om jou vloere te was. En om die wasgoed op te vou. Maar dit alles begin by: Hoe minder goed ek het om op te ruim, te was en te bêre, hoe makliker is die proses van skoonmaak, regpak en reggepak hou.


Hoe doen mens dit?

Daar is verskeie maniere. Ek het boeke gelees en ge-youtube oor hoe mens kan minimaliseer en jou huis netjies kan kry (ek deel die skakels aan die einde van die plasing). Sommige mense doen dit oor tyd. Ander vat 'n week verlof en handel die taak vir eens en vir altyd af. Ander mense huur iemand om hulle te kom help daarmee.


My raad aan jou: Kies 'n manier wat die beste by jou omstandighede gaan pas en wat jou nie moedeloos gaan maak nie. Hou op verskonings uitdink en begin net.


Hoe ek my huis (meer) in orde gekry het

Ek het vir my 'n doeldatum vasgestel (my skoonma-hulle het kom kuier en ek wou die huis reg hê as hulle hier is). En ek het alle ander goed vir eers opsy geskuif. Wanner die kinders skooltoe is, het ek my tekkies aangetrek en aan die werk gespring. Kamer vir kamer. Ek het by die kombuis begin omdat dit die plek is waar ons die meeste tyd spandeer. Ek sal wel 'n volgende plasing skryf oor hoe presies ek ons aardse besittings minder gemaak het.

En hierdie entoesiasme van my het die res van die gesin ook aangesteek. As hulle eers voel hoe lekker dit is om in 'n japtrap die kamer netjies te maak, moet jy naderhand keer of hulle gooi alles weg!


Doen dit net

Ek weet daar is baie planne, metodes en maniere hoe om te minimaliseer en hoe om jou huis skoon te hou. Wat ek egter geleer het is om dit net te doen. Geen plan of metode gaan jou huis namens jou skoonmaak nie. Jy moet dit doen! Geen grênd stofsuier of mop of besem gaan jou vloere vee of was nie (goed, sommiges gaan dit doen maar hulle tel nie speelgoed op nie). Jy moet dit doen (of... jou kinders moet dit doen - maar meer hieroor in 'n volgende plasing)


Die skokkende besef

Ek het ook in die proses met 'n skok besef dat huisskoonmaak en orden nie net 'n eenmalige projek is nie. Dit is 'n proses. 'n Lewenswyse. Raak maar gewoond hieraan want dit gaan nooit ophou nie. Ek het in die verlede (en eintlik steeds) moedeloos geraak as ek nounet die huis skoongemaak het en almal warrel weer daardeur. Dan lyk dit maar weer soos voor ek skoongemaak het. Die sondeval het gebeur. Huise bly nie skoon nie. Wasgoed moet gewas word. Skottelgoed voel of dit kleintjies kry. Dis die lewe. Maak vrede.


Maar, jy kan dit vir jouself makliker maak.


Die oproep

So, wat ek eintlik wil sê is:

"Begin om jou aardse besittings minder te maak. Dit is die eerste stap na 'n skoon en netjieser huis."

Deel daarvan is om minder goed te koop. Maar as jy goed begin weggooi wat jy "op special" gekoop het of "vir ingeval" gekoop het of selfs gekoop het omdat "jy dink dit is oulik" gaan jy outomaties volgende keer tweekeer dink voordat jy koop. Aardse besittings minder maak, begin by minder aardse besittings aanskaf.


Ons sal in 'n volgende blog plasing bietjie meer praat oor hoe om dit te doen.


Die bemoediging

Ek het baie lank geweet ek moet minimaliseer. Ek het ander mense gesien wat dit gedoen het en myself voorgeneem om dit te doen. Ek het die waarde daarvan besef. Maar dit het my 'n rukkie gevat om dit reg te kry. Ek het eerstens nogal getwyfel of ek dit sal kan doen. Ek het verskonings uitgedink om dit nie te doen en waarom ander dit regkry maar ek nie sal kan nie.


Ek wil jou egter bemoedig. Jy kan 'n netjiese en geminimaliseerde huis hê. Jy hoef nie 'n geharde minimalis te word wat net een bord en 'n stel klere vir elke gesinslid uithou nie. Ons almal is uniek en ons omstandighede is uniek. Probeer verskillende dinge en besluit wat gaan vir jou en jou gesin werk.


Wat ek geleer het

In hierdie hele proses, is die gedeelte wat my bemoedig het en hoop gegee het Mattheus 6:19 tot 21


"Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees."



Elke keer as ek twyfel of ek iets moet uitgooi vra ek myself: Is hierdie aardse skat nuttig vir my hemelse skatte? Of staan dit dalk in die pad daarvan om skatte in die hemel bymekaar te maak?


Vandat ek minder aardse besittings het om op te pas kan ek:

  • Meer tyd aan Bybellees bestee

  • Meer tyd aan my man en kinders en vriende bestee

  • Met vrymoedigheid mense na my huis toe nooi en gasvry wees

  • Minder skree en raas en baklei oor goed wat rondlê

  • Ophou skaam en sleg voel oor hoe my huis lyk

  • Meer ontspan, boeklees, stokperdjies beoefen

  • Minder soek na goed

  • Minder onnodig goed koop omdat ek nie weet of daar nog van dit by die huis is nie

  • Meer vreugde ervaar


Sterkte op jou pad na 'n skoner en netjieser huis!! Ek moet nou eers die wasgoed gaan opvou voordat die hoop te groot raak!!!



Boeke en webwerwe wat ek kan aanbeveel:


Youtube videos: The minimal mom


Boeke/Webwerwe


lewer kommetar
bottom of page