top of page

Kinders voel nie die koue nie

Dis wintervakansie en al wat ek wil doen is om snoesig onder ‘n kombers te sit met ‘n warm koppie koffie en ‘n nuwe boek!


Natuurlik is dit nie die realiteit van ‘n mamma met kleuters nie.


Hulle wil speel… buite…kaalvoet…en wie wil nou ‘n baadjie dra?

Wanneer my 2-jarige se ogies oopgaan in die oggend, sê hy:” Mamma, buite gan.”


Die wintersonnetjie is darem baie lekker. Ek vat dan maar my koppie koffie saam uit en sit in die son en kyk hoe hulle speel.


Hier is ‘n paar van ons gunsteling buite speletjies;


Kosmaak en koekies bak met sand, grond, gras en klippe is ‘n gunsteling. Kort-kort moet ek ‘n “happie” vat van hul elkeen se lekker dis.


Volgende is jagertjie altyd lekker, veral as kleinboet jou jaag terwyl hy maak asof hy ‘n leeu of ‘n haai is wat na jou hakstene hap-hap.


Dan is vrot-eier of wegkruipertjie ook altyd op die speel lysie!


Met bietjie voorbereiding van my kant af, geniet die kinders ‘n skattejag verskriklik baie! Steek enigiets weg, lekkergoed, speelgoed of briefies met leidrade tot by die volgende een! Hulle kan ook vir mekaar goed wegsteek of leidrade skryf as hul bietjie ouer is!!


Dan speel ons ook buite-bingo. Ek stel ‘n lysie op van goed wat hulle moet gaan soek… ‘n grys klip, ‘n geel blaar, twee stokkies, ‘n boom se saad ensovoorts.


Dan is bal speel of fietsie ry natuurlik ook op ons lys van buite speel aktiwiteite!!


En as die son lekker skyn is dit nooit regtig te koud vir bietjie in die water speel nie!!!


Moet nie vergeet van die klassieke Wolf-wolf-hoe-laat-is-dit nie of onder-handje-klap nie.


Laastens hou ons piekniek. ‘n Kombers met ‘n mandjievol eetgoed (sommer die beplande middag- of aandete ) is altyd ‘n gunsteling!


Dan kan ons selfs op die kombers sit en ‘n boek deur blaai of ‘n hoofstuk lees! Net die verandering van dit buite doen, hou hul aandag!!


Die lekkerste vir my van buite speel, is die jille en gille en natuurlik die vuil glimlaggende gesiggies !!

So tussendeur is dit vir my ook ‘n blaaskans, wanneer ek rustig sit, my warm koffie drink en luister na die opgewonde kinderstemmetjies.


En dan is hulle sommer lekker moeg ook. Badtyd en slaaptyd verloop sommer ook glad, want al daardie energie is opgebruik op ‘n goeie gesonde manier!!!


Mamma, geniet jou kinders tydens hierdie wintervakansie. Volgende jaar is hulle ‘n jaar ouer en is dit ‘n jaar nader aan ‘n stil tuin sonder enige gille! En ja, al wil jy nou dalk jou ore toedruk en wens jy dat die skool weer begin, gaan jy daai vuil gesiggies mis wanneer hul groot is!!!













lewer kommetar
bottom of page